Baba wat in lug gebore is sprei sy vlerke verder

Rainier Horak toe hy sy kommersiële vlieglisensie Dinsdag werwerf het.

Rainier Horak, ʼn student aan Unisa wat 22 jaar gelede op ʼn vlug van Tzaneen na Pretoria gebore is, het vandeesweek nog ʼn droom van hom verwesenlik.

Rainier het Dinsdag sy kommersiële vlieglisensie deur die Professional Flight Centre by die Wonderboom-lughawe noord van Pretoria verwerf ná 220 ure in die lug.

“Hy het sy eerste solovlug al in matriek gedoen, ʼn maand voordat hy vir sy motorbestuurslisensie gegaan het,” het Rainier se pa, Carel de Nysschen, Donderdag aan Maroela Media gesê.

“Ons is baie dankbaar teenoor die Here dat hy Rainier gedra het om nóg ʼn droom van hom te bewaarheid.”

Maroela Media het in Junie 2015 berig Rainier het op sy 21ste verjaardag self na die plek gevlieg waar hy in die lug gebore is.

“Almal kan maklik die hospitaal gaan besoek waar hulle gebore is, maar vir my is dit ʼn ander storie. Dit was nog altyd my droom om die plek te besoek waar ek gebore is, maar ek wou self daarheen vlieg,” het Rainier destyds aan Maroela Media gesê.

Rainier en sy ouers het saam met hul seun dié belewenis meegemaak. “Dit was ʼn baie unieke en besonderse oomblik. Dit was die eerste keer dat ek saam met hom gevlieg het en ek is baie trots op hom. Die vlug was beter as 21 jaar gelede en ek kon dit pynloos ervaar,” het Ilze de Nysschen, sy ma, vertel.

Sy het verduidelik sy het komplikasies met haar swangerskap gehad en het destyds saam met Rainier se biologiese pa, Sieg Horak, en hul dogter, Izel, op Tzaneen in Limpopo gewoon.

Op 9 Junie 1994 is Ilze vir ʼn noodkeisersnee in ʼn Pipper Arrow na Pretoria gevlieg omdat daar nie geriewe in Tzaneen was om ʼn vroeggebore baba te versorg nie.

“Ons was op pad na die Wonderboom-lughawe vanwaar ek na ʼn hospitaal geneem sou word. Ons was skaars 20 minute in die lug toe hy besluit het hy wil op 32 weke sy verskyning maak.”

Ilze is gelukkig deur ʼn verpleegsuster, Maggie Pieters van Aswegen, vergesel. Dit was die suster se eerste vlug. Die vlieënier, Donald Bissett, het vinnig gedink en die spoed en koördinate van Rainier se geboorteplek neergeskryf. Hy is op ʼn spoed van 256 km/h tussen Roedtan en Marble Hall in die lewe gebring.

Met die vier se aankoms by die Wonderboom-lughawe het ʼn ambulans vir Ilze en Rainier gewag en hulle na ʼn hospitaal gehaas. “Die Here was regtig goed vir my kind. Maggie het ons later vertel dat hy op sterwe was en dat sy vir die Here gebid het om hom vir ons te spaar,” het Ilze gesê. Rainier moes sowat ʼn week in die hospitaal se hoësorgeenheid behandel word tot hy sterk genoeg was om saam met sy ma ontslaan te word.

Die noodlot het tien maande later aan die gesin se deur geklop toe Sieg in ʼn motorongeluk dood is. Ilze het ʼn paar jaar later vir Carel ontmoet en sy, Rainier en Izel het na Kempton Park in Gauteng verhuis waar hulle steeds woon.

Rainier het gesê hy wou nog altyd ʼn vlieënier word. “Toe ons klein was en gepraat het oor ons toekomsplanne, het ek gesê ek wil lugmag toe terwyl my maatjies gesê het hulle wil army toe gaan.” Dit was nog voor hy besef het hoe besonders sy geboorte was.

“Toe ek op laerskool begin besef waaroor dit alles gegaan het, wou niemand my glo nie. Nie eens my onderwysers nie. Hulle het my eers geglo toe ek vir hulle ʼn koerantuitknipsel van my geboorte wys wat my ma gebêre het,” het hy gesê.

Hy beplan om ʼn voltydse vlieënier vir ʼn groot lugredery te word, maar sal eers 2 000 vliegure moet opbou. Terwyl hy hom as boekhouer bekwaam gaan hy binnekort as ʼn instrukteur begin werk by sy vliegskool en op dié manier ander jong vlieëniers oplei terwyl hy ure opbou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sonspan ·

Baie oulike berig.

Sterkte maat, hopelik sluit jy vinnig by ons in die lug aan.

Johann ·

Baie geluk met jou prestasie, lekker om ‘n keer goeie nuus te ontvang

GES ·

Dit is ʼn baie mooi storie wat die lewe sommer weer kleur gee. Baie geluk !!

Willemien ·

Dis ‘n pragtige storie en baie spesiaal. Baie geluk en sterkte met jou toekomsplanne!

Carpe Diem ·

Jy is so n absolute voorbeeld, mag jou droom gou bewaarheid word, jy is n getuienis van voluit leef!

Vlieenier ouer ·

Bja geluk Rainier. En sterkte vir jou toekoms as jy besluit om die vliegbedryf te betree. Dit is nie ‘n maklike beroep nie. My Seun, nou ook 22, het op 16 al solo gevlieg, 17 sy PPL gekry, op 19 sy CPL en op 21 sy ATP. Het ‘n testing pilot rating en ‘n sting ander ratings vir verskillende vliegtuie en sit met byna 1000 vliegure agter die rug. Op die stadium werk hy as vlieg instrukteur maar dit is maar stil in die vlieg bedryf. Ek dink eerder hierdie is a werk wat jy doen vir die liefde daarvan en nie vir die geld nie. Hy geniet sy vlieg baie en het regtig ‘n groot passie vir dit wat hy doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.