Baba wat op ashoop gevind is, sterf

Die vullisterrein waar die baba gevind is. Foto: Verskaf deur SAPD

Die pasgebore babaseuntjie wat verlede week op ʼn vullisterrein naby Wells Estate in Port Elizabeth gevind is, is in ʼn plaaslike hospitaal dood.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die baba is Maandagmiddag in die Dora Nginza-hospitaal dood. “Ons kan nog nie die oorsaak van die baba se dood bevestig nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om dit vas te stel,” het Beetge gesê.

Intussen het die kind se ma, Asanda Pityana (26), vandag op aanklag van moord en kinderverlating in die Motherwell-landdroshof verskyn. Die saak is tot 23 Oktober uitgestel wanneer die vrou na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Maroela Media het vroeër berig ʼn verbyganger het Donderdag by die vullisterrein ʼn baba hoor huil en die kaal babaseuntjie op die ashoop aangetref. Polisiebeamptes is na die toneel ontbied en het die bloedspoor gevolg wat hulle tot by ʼn huis in Kolisistraat gelei het.

Pityana was nie tuis nie, maar is by ʼn nabygeleë huis waar sy weggekruip het in hegtenis geneem.

Beetge het aan Maroela Media gesê al die klere wat deur weldoeners aan die babaseuntjie geskenk is, sal nou aan ander hulpbehoewende babas by die Dora Nginza-hospitaal en die Wells Estate-kliniek gegee word.

“Ons wil graag hê mense moet weet hul skenkings was nie verniet nie. Daar is baie ander babatjies in soortgelyke omstandighede wat by die polisie of in die hospitaal beland en wat hierdie skenkings net so nodig het,” het Beetge gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Absolute totale walging in die barbaarsheid. GEEN respek vir die begrip van die voorreg van lewe nie. Hoor al weer die verskonings en verklarings en jammer gat houding!

Suzette ·

Johann ek stem saam. Dit is walglik as enige ma watter velkleur sy ook al is, haar baba weggooi. Hierdie vrou is 26 en daar is geen verskoning nie. Sy kon eerder in haar wanhoop die baba voor n deur gelos het. Dit maak my siek en nou sluit ek sommer elke “ma” wat toekyk dat haar kind verkrag, gemolesteer of geslaan word. Ek mag nie vloek hier nie, so ek sal nie

christa ·

hoekom kry moordenaars borg? Gelukkig weet ons die kindjie is veilig by Jesus.

Anoniem ·

Absoluut brutaal!!! Mag geregtigheid vir hierdie weerlose baba geskied

Elsa ·

My hart bloei vir hierdie ou babatjie. Ek sal graag die oorsaak van sy dood wou weet, want hoevele babas sterf nie deesdae ook as gevolg van nalatigheid in staatshospitale nie. Ek wonder ook nog oor die bloedspoor wat gevolg is. Het die ma lewe geskenk daar op die ashoop en al bloeiende huis toe geloop? Ek kan nie dink dat enige regdenkende ma so iets kan doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.