Babadogtertjie stry om oorlewing ná diagnose van seldsame toestand

Leah de Jager by haar ouers, Lezaan en Gerrit. Foto: Annelie Jonker Photography

ʼn Vier maande oue babadogtertjie van Uitenhage in die Oos-Kaap se stryd om oorlewing nadat sy met ʼn uiters seldsame mediese toestand gediagnoseer is, het Suid-Afrikaners reg oor die land só aangegryp dat haar pa nou al self erken hul klein Lielie Muis is “ʼn gemeenskapsbaba”.

Leah de Jager, of Lielie Muis soos pa Gerrit haar noem, veg tans om haar lewe in die neonatale waakeenheid van die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth nadat sy op 6 Oktober begin siek word het.

Gerrit vertel Leah het dié naweek koors gekry, maar hy en sy vrou, Lezaan, was aanvanklik nie bekommerd nie en kon dit met pynmedikasie onder beheer hou. Teen Maandag 8 Oktober het Leah se toestand egter versleg en is hulle summier met haar dokter toe.

Sy is in ʼn plaaslike private hospitaal opgeneem waar dokters dadelik met toetse begin het om te bepaal wat met die klein dogtertjie fout is. Daar is vasgestel dat Leah ʼn longinfeksie opgedoen het, maar dít was nie die verdoemende nuus nie. Leah is met ernstige gekombineerde immuungebrek (SCID) gediagnoseer, wat beteken dat sy in effek geen immuunstelsel het nie en haar liggaam dus geen vermoë het om teen infeksies, bakterieë en kieme te baklei nie.

“Die normale telling wat sy moet hê wanneer hulle die immuunstelsel toets, is tussen 1800 en 4500. Leah se telling is vier,” verduidelik Gerrit. “Basies het sy dit van geboorte af gehad, maar ons het dit nooit geweet nie, omdat sy nog nooit daarvoor getoets is nie.”

Teen Vrydagoggend is Leah onder verdowing en op ʼn ventilator geplaas nadat sy konvulsies begin kry het. Sy is vir ʼn breinskandering gestuur en toe met basale enkefalitis gediagnoseer wat breinvliesontsteking in die middel van die brein is. Die enkefalitis veroorsaak dat die brein swel en dít veroorsaak dat Leah stuipe kry.

Leah de Jager. Foto: Annelie Jonker Photography

Maandag is Leah na ʼn provinsiale hospitaal oorgeplaas aangesien die gesin nie ʼn mediese fonds het nie. Sy is van daar na die Dora Nginza-hospitaal oorgeplaas nadat sy al meer met haar asemhaling begin sukkel het.

Gerrit vertel dat hulle gister die slegte nuus gekry het dat twee van die hoofare in Leah se brein geblokkeer is wat daarop dui dat sy breinskade opgedoen het. Die omvang van die breinskade en hoe dit haar gaan affekteer kan egter nie in dié stadium vasgestel word nie, aangesien sy nog onder verdowing is.

“Die dokters is besig om haar geleidelik van die medikasie af te haal wat die konvulsies onderdruk en sy haal ook al meer op haar eie asem, hoewel sy nog hulp van die ventilator af kry,” sê Gerrit. Hy verduidelik omdat die enkefalitis ʼn virale infeksie is, kan dit nie met antibiotika behandel word nie. Omdat Leah egter nie ʼn immuunstelsel het nie, is haar lyfie ook nie in staat om self teen die infeksie te baklei nie.

“Dit is ʼn catch 22-situasie. Die mediese raad wat ons ontvang het, is dat ons moet bid. Ons kan net bid en glo dat die Here haar sal genees,” sê hy. “Maar maak nie saak hoe hopeloos dit mag lyk nie, ons hou aan glo en ons hou aan hoop. Nog voor Leah gebore is, het ek vir my vrou gesê, sý gaan die wêreld verander. Vandat sy siek geword het, het sy mense op hul knieë voor God gebring. Mense bel my en vertel my hoe hulle weer begin bid het, weer begin glo het. Hoe Leah hulle weer tot by die Here gebring het. Daar lê sy, vier maande oud, en sonder dat sy weet, ís sy besig om die wêreld te verander.”

Leah de Jager. Foto: Annelie Jonker Photography

Gerrit sê om die infeksie te oorwin is net die eerste hekkie op Leah se herstelpad. Indien dokters die infeksie onder beheer kan kry en haar toestand kan stabiliseer, sal sy na die Rooikruiskinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas word waar sy ʼn beenmurgoorplanting moet ondergaan. Weens die SCID is ʼn beenmurgoorplanting haar enigste hoop op ʼn normale lewe.

Intussen is die onkoste verbonde aan Leah se behandeling nóg ʼn berg wat die gesin moet oorkom. “Ons het haar aanvanklik na ʼn private hospitaal geneem omdat ek net die beste vir my kind wil hê. Net haar akkommodasie daar was R91 000; die breinskandering nog R25 000. Nog derduisende rande se bloedtoetse. Die hemoglobien-inspuitings wat sy moes ontvang was R6 000 elk. Die rekening het baie vinnig baie hoog geword.”

Gerrit verduidelik behalwe vir mediese rekeninge is daar ook ander onkoste soos verblyf wanneer die egpaar Kaapstad toe moet gaan vir Leah se behandeling daar, asook ander mediese behandeling wat sy in die toekoms sal nodig hê.

Lezaan Avis en haar dogtertjie, Leah. Foto: Annelie Jonker Photography

Maar ook hieroor het Gerrit en Lezaan rustigheid. “Ons weet die Here voorsien. Ons het ʼn trustrekening vir Leah gestig en die ondersteuning wat ons kry, is net ongelooflik. Daar is mense wat R100 inbetaal en iemand wat R10 000 inbetaal het. Mense bied vir ons verblyf aan, vliegkaartjies. Mense bid en stuur boodskappe en bel en bemoedig. Mense maak hul harte so oop vir ons, dit is amper te goed om te glo. Ons kan nie genoeg dankie sê nie.”

Ja, sommige dae is beter as ander, erken Gerrit. “Vandag is ek weer vol moed en môre verloor ek weer moed. Maar as ek swak is, is my vrou sterk en wanneer sy swak raak, is ek sterk. Maar tussen die drie van ons, is Lielie Muis die sterkste. Sy is ʼn fighter en sy baklei teen hierdie ding. Ek weet hoe sterk sy is en ek weet hoe sterk ons God is. Hy sal haar hier deurtrek.”

Besoek die Lielie Muis Fondsinsameling Facebook-blad vir meer inligting oor die Familiedag wat op 18 November ten bate van klein Leah gehou word, asook ander maniere waarop die gesin bygestaan kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Wonder maar net ·

Wat gaan deesdae aan. Alhoemeer kindertjies word met een of ander defek gebore. Dit was nie vroeër jare so gewees nie. En by dit alles dit is alles nuwe tipe goed

Hannetjie ·

Presies waaraan ek ook gedink het toe ek lees van klein Leah.Net ongelooflik verdrietig hoeveel babas aan sulke ernstige siektes ly.Sterkte vir klein Leah en haar geliefdes

Sanna ·

Vrouens kry mos net 4 mnde kraamverlof, maw meeste SA babatjies word net vir 4 mnde geborsvoed. Borsmelk het teenliggaampies wat alle siektes help beveg. Is dit nie beter om vrouens langer tuis te laat bly nie? Dis baie beter om belastinggeld daarop te spandeer as naamveranderinge.

Susara ·

‘n Paar dinge: Met sosiale media en tegnologie hoor mens deesdae baie makliker en vinniger van sulke gevalle as vroeër. Dit voel dus meer, maar mens hoor net meer daarvan. Maar dan ook, dit klink wreed, maar daar is deesdae basies geen meer natuurlike seleksie nie. Ma’s en kinders wat jare terug nie deurgehaal kon word nie, word nou daagliks gered, en so word die dna oorgedra. Dit is nie meer net die sterk, goeie dna wat voorplant nie. Dus is defekte, siektes, sindrome ens baie meer vollop, want hulle word al meer oorgedra na die volgende geslag.

Daan ·

Die mediese raad wat hulle gekry het is dat hulle moet bid. Ongelukkig is dit soms die akkuraatste mediese raad. Die mediese wetenskap het regtig nie al die antwoorde nie. Vra my, ek weet

Liezl ·

Lielie muis, jy is n lieflike klein mensie. Ons Vader het jou geken voor jy gebore is. Hy weet watse plan Hy het met jou. Jy is kosbaar en lieflik in Sy oë. Vader, ons bring haar nou weer voor U, haar mamma en pappa buig hul knieë voor U. Pns vra U nederig vir aanraking in die naam van ons eonderlike Vader. U ken haar hart, U sal haar deurtrek en mag sy van U wonderlike dade getuig eendag. U is en U was, wees haar genadig en genees haar, verstom die medies. Laat mense weer besef U is groot. Dankie Vader vir U liefde in die naam van Jesus. Amen xxxDankie Vader Ons prys U naam

Marinda ·

Hou net aan glo en vertrou op God. Daar is krag in gebed.
Sterkte vir julle.

TLC ·

Ek dink daar is nog altyd sulke gevalle
Daar was net nie n media platform soos vandag nie
Sterke kleine mensie en vir mamma en Pappa ook
Mag GOD jul styf vashou en sodoende net dat jy gesond kan word
AMEN

TLC ·

Ek dink daar is nog altyd sulke gevalle
Daar was net nie n media platform soos vandag nie
Sterke kleine mensie en vir mamma en Pappa ook
Mag GOD jul styf vashou en sodoende net dat jy gesond kan word
AMEN ?

Arno ·

Lizaan en Gerrit, baie sterkte. Julle en die pragtige klein Leah is voortdurend in ons gebede.

Arno ·

Klein Leah is pragtig. Lezaan en Gerrit julle is voortdurend in ons gebede. Baie sterkte vir julle. Ondersteun mekaar in liefde, hoop en geloof.

Yankee ·

Guy’s, no medical!! You are playing russian rollet!! Don’t do this, please!!!!! For the sake of your kid’s. God, please help this infant, i beg you.

Driekie ·

@yankee. Please do not judge…if your income is hardly enough to pay rent…buy food …a car…..fill it with fuel….clothes…cellphone expenses….then you have to skip medical aid and insurances etc… I know!

Lottie Brink ·

My diepte gebede is wanneer julle 3 aan
ons Hemelse Vader opdra. Ek kan julle net alle sterkte toebid.

Lottie Brink ·

My diepte gebede is wanneer ek julle 3 aan ons Hemelse Vader opdra. Ek kan julle net alle sterkte toebid.

Driekie ·

Mag God haar aanraak en haar volkome genees. Baie sterkte aan die mamma en pappa en ander familie van klein Leah.

Amelda Ferreira ·

Moet nooit die krag van gebed onderskat nie. Wonderwerke gebeur elke dag, my 17 jarige seun is n lopende wonderwerk!!! Bid saam met julle. Sterkte!!

Jennilee Sale ·

My eyes are filled with tears…I remember when Gertjie announced they were having a baby and then the news that it was a girl…Proud daddy and mommy…God carry you through this time…I pray for your little girl to be touched by Him and that she will recover fully…God Loves you xx

Christo ·

Onse Here Jesus is in beheer. Niks sal gebeur sonder Sy wil nie. Dankie Here dat U haar en haar gesin aanraak. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.