Babadogtertjie vir ouerpaar ná groot hartseer

Baba Chloe. Foto: Facebook.

Edward en Jo-Ann Beckmann, die egpaar van Kimberley in die Noord-Kaap wie se tweejarige dogtertjie verlede jaar in ʼn staatshospitaal gesterf het, het verlede week ʼn nuwe pienkvoet en ʼn “tweede kans” in hul lewe verwelkom.

Jo-Ann se eerste dogtertjie, Nehemia, is in 2010 doodgebore. Daarna is haar tweede kind, Zoey, verlede jaar in die vroeë oggendure van 25 Januarie dood.

Edward vertel aan Maroela Media hul babadogtertjie, Chloe, is Donderdag omstreeks 10:30 in die 3 Militêre-hospitaal in Bloemfontein gebore.

“Jo-Ann was eintlik eers geskeduleer om op 9 Mei geboorte te skenk, maar het tydens die swangerskap preëklampsie ontwikkel,” het Beckmann gesê. Dié toestand word gewoonlik met hoë bloeddruk geassosieer en die dokter het besluit om liewer die keiser vroeër te doen terwyl daar nog nie gevaartekens was nie.

Die gesin van drie het vanmiddag weer in Kimberley by die huis aangekom.

“Ma en baba is veilig en gesond. Die naelstring was om Chloe se lyfie en nekkie gedraai tydens die geboorte, maar sy was nie onder enige stres nie,” vertel Edward. “Sy is ons tweede kans, ons is skoon versigtiger as wat ons moet wees met haar. Sy eet en slaap normaal.”

Maroela Media het vroeër berig Zoey is die oggend van 24 Januarie 2017 in die hospitaal opgeneem. Sy het erg gebraak en haar maag het geloop. Jo-Ann het destyds gesê dokters was vir meer as twee en ʼn half uur lank by die hospitaal besig met papierwerk terwyl Zoey al hoe swakker geword het. Jo-Ann het beweer eers nadat Zoey bewusteloos geraak het, het dokters vir haar ʼn binneaarse oortapping toegedien. Beckmann beweer ook dat Zoey ʼn allergiese reaksie vir die antibiotika wat vir haar gegee is getoon het.

Edward en Chloe. Foto: Facebook.

Zoey is in die vroeë oggendure dood. Jo-Anne het verlede jaar aan Maroela Media gesê dat dokters aan hulle gesê het dat algehele dehidrasie en skok die oorsaak van haar dood was. Volgens Jo-Ann glo sy en Edward dat die hospitaalpersoneel nalatig opgetree het en dat dit die oorsaak van hul kind se dood was.

Die egpaar het ʼn amptelike klagte by die Noord-Kaapse departement van gesondheid ingedien en is steeds besig met regstappe. “Die saak is eintlik nou baie stil. ʼn Spesialis van die Kaap het met die prokureur vergader, maar ons het nog nie self met die spesialis vergader nie. Daar is nie tans enige nuwe verwikkelinge nie,” het Beckmann Maandag gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mandi ·

Jo-Ann en Edward
Baie geluk!!! Julle verdien die kleine bondeltjie liefde en sy is pragtig
Babatjies is kleinemensies wat ‘n mens soveel betekenis in die lewe gee
geniet elke oomblik God weet presies wanneer mens iets nodig het in die lewe

Annelize Vd Nest ·

Baie geluk, mag hierdie pop al die hartseer van die verlede uitwis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.