Babalykie in vullisdrom gevind

misdaadtoneel

Argieffoto

Die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek nadat die liggaam van ’n babaseuntjie Dinsdagaand in ’n vullisdrom in Worcester in die Wes-Kaap aangetref is.

Ao. Julian Plaatjies, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ’n persoon wat deur vullisdromme gesoek het na koeldrankblikkies om te herwin het omstreeks 18:00 op die liggaam in ’n vullisdrom in Kerkplein afgekom.

Volgens Plaatjies was die liggaam van die seuntjie kaal met slegs ’n dun jurkie wat saam met die liggaam in die vullisdrom gelê het.

“Hy het in ’n slapende posisie gelê met sy handjies gevou,” het Plaatjies verduidelik.

Die baba se ouderdom is nie in die stadium duidelik nie. Die polisie vermoed die kleinding moes tussen vier weke en vier maande oud gewees het. “Dit is nie ’n pasgebore baba nie. Die baba was ook nie ondervoed nie. Hy was ’n fris baba.”

Plaatjies vertel dat die baba vermoedelik  binne die afgelope 24 tot 48 uur dood is. Dit is ook nie duidelik of die baba se liggaam in die vullisdrom gelos is en of die baba in die vullisdrom gesterf het nie.

Volgens Plaatjie is daar onder andere ʼn gebou oorkant die pad van die spesifieke vullisdrom met winkels onder en wooneenhede op die tweede verdieping.

’n Nadoodse ondersoek word gedoen. “Die uitslag daarvan sal dus bepaal of ons die klagte na moord gaan verander,” het hy verduidelik.

Enigiemand met inligting rakende die baba word versoek om ao. Willemse van die plaaslike speurtak by 023 348 6100 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lizelda ·

Nee, wat kyk dit lyk my dis nou die nuutste modeguur… Om jou kindjie net in n asblik te gooi…

Vlam ·

Dis is so hartseer en terselfde tyd maak dit mens woedend, Daar is baie mense wat graag kinders wil hê, maar hulle kan nie swanger raak nie dan gebeur so iets. Ons sal seker nooit verstaan hoe hierdie dinge werk nie of wat deur daai persoon se kop gaan nie

toy ·

Daar is voorbehoedmiddels gratis by die klinieke wat gaan aan met die mensdom. Te veel kinders wat kinders het deesdae.

Lee ·

Ai dis hartseer. Rus sag in Jesus se arms kleine Engeltjie. Jy het dit nie verdien nie. Ek hoop jou ma word spoedig opgespoor. As jy wil rondslaap moet jy die gevolge dra. Daai arme bondeltjie liefde het nie hiervoor gevra nie….

minx ·

Wat van n anonieme lyn waar jy net kan laat weet waar jy die kind gaan los?
Ek sal die lyn beman en my en almal met die begeerte van baba se skote volkry!

Flippie ·

Ek het nie woorde nie!! Dit is verskriklik! Hoe kan enige mens met ‘n gewete dit doen? Om ‘n kind soos vuilgoed net so in ‘n asblik weg te gooi asof dit niks is nie? Hoe neem jy daai besluit? Is daar absoluut geen gevoel in jou meer oor? Hoe slaap jy? Ek weet nie wat deesdae in Worcester aangaan nie…bendegeweld is aan die orde van die dag, twee lyke die afgelope twee weke in veld gekry, lyk met kopskoot Donderdag, hardhorende vrou helder oordag vermoor in woonstel Saterdag en die lys word al langer!!

Johan ·

Dit breek my!!! Hoekom????? Ek het nie woorde nie, net baaaaie trane!

Christa ·

Met Elke dierekind wat doodgaan word daar n gat gegrawe. Die dierekind word in kid begrawe, hoe kan n ma so hartloos wees? Gelukkig is die kindjie veilig by Sy Skepper

Pray ·

Here…vergewe hulle, want hul weet nie wat hul doen nie….U volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.