Babas sterf ná bakterie-uitbreking by hospitaal

Argieffoto: https://pixabay.com

Die Gautengse departement van gesondheid het Woensdag bevestig dat ʼn uitbreking van Klebsiella pneumoniae, ʼn bakterie wat longontsteking, bloedstroominfeksies en wondinfeksie veroorsaak, die lewe van twee babas by ʼn staatshospitaal in die provinsie geëis het.

Dié bevestiging kom nadat die DA vroeër sy kommer uitgespreek het oor bewerings dat “talle babas” weens die uitbreking by die Thelle Mogoerane-streekshospitaal in Vosloorus gesterf het. Volgens African News Agency het Jack Bloom, die DA se skaduminister van gesondheid in Gauteng, die hospitaal Woensdag besoek om die toestand van die neonatale saal vas te stel en te bepaal “of die babas weens verwaarlosing dood is”.

Lesemang Matuka, direkteur van kommunikasie by die Gautengse departement van gesondheid, het egter gesê dit is nie waar dat “talle babas” by die hospitaal gesterf het nie. “Prof. Mkhululi Lukhele, die hoof van die departement, het vanoggend die hospitaal besoek om die presiese besonderhede vas te stel. Prof. Lukhele het gedurende die besoek bevestig dat daar sewe voorvalle van Klebsiella pneumoniae-infeksie by die neonatale eenheid aangeteken is sedert Julie vanjaar. Twee van hierdie babas het ongelukkig gesterf,” het Matuka gesê.

“In teenstelling met berigte in die media, is daar nog vyf babas in die eenheid [vir Klebsiella pneumoniae] behandel en een van dié babas se toetsuitslae was negatief.”

Matuka het gesê daar is monsters by die hospitaal geneem en na ʼn laboratorium gestuur om die bron van die uitbreking vas te stel. Daar is ook stappe gedoen om infeksievoorkoming en -beheer by die eenheid te verskerp.

“Al die babas wat in die saal opgeneem is, is ondersoek om verdere infeksies te voorkom. Die distrikspesialis en hoofkantoor is ook ingeroep om hul ondersteuning te bied. Die departement beplan om ʼn provinsiale taakspan op die been te bring, wat deur ʼn neonatoloog gelei sal word, om voortdurend te kyk na maatreëls wat ingestel kan word om voortaan infeksies by ons fasiliteite te verhoed,” het Lukhele gesê.

Hy het gesê die Thelle Mogoerane-hospitaal moet voortdurend die uitdaging van ʼn toenemende vraag na gesondheidsorg die hoof bied. Die hospitaal se neonatale eenheid is toegerus om 61 babas te behandel, maar moet soms tot 90 babas gelyk akkommodeer. “Terwyl die bestuur kyk of ons die hospitaalinfrastruktuur kan opgradeer, doen die hospitaal sy bes om alle pasiënte met waardigheid te bedien.”

Lukhele het gesê bewerings van wanbestuur wat teen die hospitaalbestuur gemaak is, word in ʼn ernstige lig beskou en sal ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nellie ·

Dit is hoe die nuwe NASIONALE GESONDHEIDS STELSEL daarna gaan uitsien, en weereens sit die ARMES en wag om van die RYKES te ontvang en deur hulle gesponsor te word .. wel wel .. dit is wat julle gaan kry .. met of sonder die rykes se geld want dit is die BESTUUR waarmee daar fout is …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.