Babaseun onder vyf wat in ongeluk sterf

Die ongeluk het Saterdag om 22:00 plaasgevind. (Foto: Verskaf)

Altesame vyf mense, onder wie ʼn babaseuntjie, is Saterdagaand in ʼn ongeluk op die N1 in De Doorns in die Wes-Kaap dood.

Hoewel ses mense die ongeluk oorleef het, het hulle steeds kritieke tot ernstige beserings opgedoen.

Jandré Bakker, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer en openbare werke, het bevestig dat ses volwassenes en vyf kinders by die ongeluk betrokke was. Slegs een voertuig, ʼn Opel Corsa, was glo by die ongeluk betrokke.

Volgens een van die passasiers het hulle om 22:00 in die gebied gery toe die bestuurder glo beheer oor die voertuig verloor het, waarna die voertuig omgeslaan en gerol het.

Paramedici van ER24 het om 23:00 op die toneel aangekom en van die insittendes buite die voertuig aangetref.

“Paramedici het ingespring, die pasiënte ondersoek en bevind dat drie mense noodlottige beserings opgedoen het. Hulle is op die toneel dood verklaar,” sê Ineke van Huyssteen, woordvoerder van die noodreddingsdiens.

Ses ander pasiënte was in ʼn kritieke toestand, terwyl nog twee ernstige beserings opgedoen het.

“Gevorderde lewensondersteunende ingrypings is op die pasiënte toegepas, maar ondanks al die pogings het twee van die kritiek beseerde pasiënte ook aan hul beserings beswyk.”

Volgens Bakker is vier van die volwassenes en een babaseuntjie dood.

ER24 se paramedici, Metro EMS en twee ander mediese dienste het die res van die pasiënte behandel en hospitaal toe geneem vir verdere behandeling.

Dit is onduidelik wat aanleiding tot die ongeluk gegee het, maar plaaslike owerhede was op die toneel en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vrystaat2109 ·

Nouja as die inligting korrek is dan was daar 11 mense in hierdie voertuig, Opel Corsa, ons kan dan aan neem dat dit ‘n Corsa bakkie is, Indien 3 mense voor “ingeprop was” dan was daar 8 mense agter op die bakkie, in so ‘n geval is die voertuig oorlaai vir sy grootte wat kan veroorsaak dat die bestuurder maklik beheer kan verloor oor die voertuig .

Jillian ·

Ek het nou self gesit en daai sommetjie probeer maak. Dis belaglik!!!

Vonkprop ·

11 mense in ‘n Corsa! As ek na die foto kyk is dit definitief ‘n Corsa karretjie en nie ‘n Corsa bakkie nie. Goeie genade.

Annelize ·

Goeie genade!!! ELF mense in ‘n Corsa!!! Die bestuurder het natuurlik beheer verloor weens oorlading. Hoe op hierdie aarde kry jy so baie kinders en grootmense in daardie karretjie in?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.