Babasterftesyfer laagste in twee dekades

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIR) het Woensdag bekendgemaak dat Suid-Afrika se babasterftekoers tans die laagste is wat dit in die afgelope byna twee dekades was.

Tawanda Makombo, analiseerder by die SAIR, het gesê statistieke het dit aan die lig gebring dat daar beduidende verbeteringe in Suid-Afrika se gesondheidsektor was. Hy meen egter dat daar nog baie meer gedoen kan word om dié syfer te verlaag.

Dié koers meet die hoeveelheid babas onder een jaar oud wat per duisend lewende geboortes sterf.

“Tussen 2002 en 2017 het die babasterftekoers van 48,1 per 1 000 lewende geboortes na 32,8 per 1 000 lewende geboortes gedaal.”

Makombo het gesê dié verbetering strook met ʼn skerp toename in die hoeveelheid eerste voorgeboorte-kliniekbesoeke van swanger vroue. Die koers van eerste voorgeboorte-besoeke verwys na hoeveel swanger vroue voor 20 weke in hul swangerskap vir die eerste keer ʼn kliniek besoek, teenoor die vroue wat ten minste een kliniekbesoek gehad het voor geboorte.

Die koers van eerste voorgeboorte-besoeke het tussen 2006 en 2016 van 31,3% na 61,2% gestyg.

Makombo het gesê die nasionale departement van gesondheid moet pogings verskerp om openbare bewusmaking onder swanger vroue te skep om tydens en ná hul swangerskappe by gesondheidspraktisyns uit te kom. “Dit is noodsaaklik vir die baba se gesondheid.”

Volgens hom is daar verskeie redes waarom babas onder een jaar oud sterf, maar hy het tog twee oorsake uitgesonder, naamlik komplikasies tydens geboorte en skielike-baba-sterfte-sindroom (SBSS).

“In gevalle waar die baba in die verkeerde posisie lê en dit nie geïdentifiseer word nie, kan daar komplikasies tydens geboorte wees wat tot die dood van die baba of selfs die dood van die baba én die ma kan lei.”

Oor SBSS het Makombo gesê babas kan vir onbekende redes probleme met asemhaling ondervind, en teen die tyd dat die ouers bewus word van die probleem, is dit reeds te laat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kaufman ·

Is daar al navorsing gedoen oor graad van koloniale invloed in afrikalande op geboortesterftesyfer, lewensverwagting en lewensstandaard? Hellen Zille se opmerking?

Zettie ·

Die syfers is laer omdat alhoe meer pasgebore baba’s summier weggegooi word en die geboortes en sterftes dus nie aangemeld word nie.

GM ·

Nie alle baba’s wat weggegooi is, word gevind nie. Dus sal die sterftesyfer laer wees. En aborsies word ook nie bygereken nie, en ek glo agterstraat aborsies het toegeneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.