Babatjie in kar gebore

Corné Freysen. Foto: Facebook

Corné Freysen. Foto: Facebook

Corné Freysen, ʼn sakevrou van Pretoria en ma van drie kinders, het Maandagoggend in haar motor gehelp om haar huishulp se baba in die lewe te bring.

Freysen se huishulp, Rachel Phago (29), woon saam met die gesin by hulle huis in Centurion.

“Sy het my vanoggend om 02:00 gebel en gesê sy het pyn,” het Freysen aan Maroela Media gesê. “Ek het na haar kamer toe gegaan, maar dit het nie gelyk of sy sametrekkings het nie. Ek het toe vir haar gesê sy moet nog so bietjie rus. Ons het glad nie gedink die babatjie is al op 33 weke op pad nie. Die dogtertjie sou eers 12 Desember gebore word.”

Phago het om 04:50 weer vir Freysen gebel en gesê sy dink die babatjie is op pad. Die twee vroue het in die motor geklim en na die naaste kliniek, sowat 5 km van haar huis af, gery.

Baba Phago. Foto: Verskaf.

Baba Phago. Foto: Verskaf.

Freysen het Phago gepaai en probeer om haar gerus te stel. “Terwyl ons ry, het sy gesê, ‘die baba kom, die baba kom!’. Ek het net vir haar bly sê sy moet rustig asem haal en nie druk nie.”

Byna halfpad  op pad na die kliniek het die baba egter besluit sy word nóú gebore. Freysen het langs die pad by die ingang van ʼn sekuriteitskompleks stilgehou. “Ek het uitgespring en na die agtersitplek gehardloop toe is die babatjie al amper gebore. Ek het ʼn handdoek gegryp en om die dogtertjie gevou. Daarna het ek haar opgetel en haar lugweg oopgemaak. Dit het alles baie vinnig gebeur.”

Phago en haar baba is na die kliniek geneem waar die naelstring geknip en albei ondersoek is. Hulle is daarna met ʼn ambulans na Kalafong-hospitaal oorgeplaas waar Phago se man op hulle gewag het.

“Die baba lyk baie gesond. Rachel is ook gesond net bietjie moeg,” het Freysen bygevoeg.

Dit was die tweede keer wat Freysen gehelp het om ʼn baba in die lewe te bring. Sy was in 2009 die bemarkingsbestuurder by Centurion Mall en het ʼn ma bygestaan wat in die sentrum se badkamer gekraam het. “ʼn Week later het ek ʼn noodhulpkursus gedoen, en spesifiek opgelet hoe om iemand tydens ʼn geboorte by te staan. Ek het ʼn redelik goeie idee gehad wat om te doen en het glad nie paniekerig geraak nie.”

Die baba het nog nie ʼn naam nie omdat sy almal so vroeg verras het.

Freysen, wat nou haar eie bemarkingsmaatskappy het, het geskerts hulle dink die baba se naam moet Kia Sorento wees, met verwysing na die voertuig waarin sy gebore is. “Dan kan Kia dié slagspreuk gebruik: ‘Kia, we deliver’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nicolette ·

Knap gedaan.Goeie slagspreuk ook.Babatjies kom net wanneer hulle wil en dit lyk my daai nuwe baba was in baie goeie hande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.