Babaverkragting in skooltaak: ‘Ons het leerders gewaarsku; wil hulle voorberei’

tshepang

‘n Toneel uit die Washington College se opvoering van Tshepang in 2011. Foto: Washcoll.edu

Hoërskool Monument aan die Wes-Rand sê die vraag in ʼn matriekdrama-vraestel wat in 2013 landwyd ʼn herrie veroorsaak het, kan moontlik vanjaar weer in die vraestel ingesluit word en hulle wil hulle leerders op dié soort vrae voorberei.

Leerders by die betrokke skool het in Augustus ʼn taak ontvang wat handel oor ʼn uittreksel uit die toneelstuk Tshepang deur Lara Foot Newton. Die toneelstuk is geïnspireer deur die wrede verkragting van die nege maande oue Baba Tshepang. Daar is onder meer van leerders verwag om te beskryf hoe hulle die akteur ʼn daad van verkragting sal laat opvoer om die aakligheid van die verkragting vir die gehoor te vergroot. In die toneelstuk word die toneel deur middel van ʼn besemstok en ʼn brood uitgebeeld.

Pierre Coulson, ʼn ouer van een van die leerders by skool, het in ʼn onderhoud met Maroela Media sy totale skok en ongeloof oor die opdrag uitgespreek. Hy het geëis dat die uittreksel en vrae daaroor uit die opdrag vir gr.12-leerders verwyder word omdat dit nie ʼn gepaste toneelstuk op skoolvlak is nie.

Onderwysers en leerders het die betrokke vraag en uittreksel ook as “onvanpas”, “onsensitief” en “ontstellend” beskryf nadat dit in 2013 as ʼn onvoorbereide vraag in die dramavraestel vir matrikulante verskyn het.

Volgens Constance Strydom, ʼn woordvoerder van die skool, is net ʼn gedeelte van die omstrede vraag in 2013 onttrek, nadat talle onderwysers en leerders daaroor gekla het. “Die res van die vraag het steeds getel en dus bestaan die moontlikheid dat daar weer so ʼn vraag gevra kan word.

“Leerders moet voorberei word op enige vraag wat gevra kan word. Ons wil verhoed dat die leerders in die eksamen onkant betrap word en self deur so iets getraumatiseer word.”

Strydom het Maroela Media verseker daar was ʼn deeglike bespreking met die leerders oor die toneelstuk in die klas. “Hulle is gewaarsku oor die inhoud wat sensitief is en daar is ook aan hulle verduidelik waarom hierdie taak aan hulle gegee word. Hulle is ʼn veilige omgewing daaroor ingelig sodat hulle nie in die eksamenlokaal onnodige trauma moet beleef en nie verder kan skryf en dan die kans staan om 40 punte te verloor nie.”

Sy het verder bevestig die toneelstuk is nie ʼn voorgeskrewe werk in die leerplan vir gr. 12-leerders wat drama as vak neem nie, maar dit beteken nie dat daar nie vrae oor Tshepang in die komende eindeksamen gevra kan word nie.

“Ons rig ʼn ope uitnodig aan alle leerders om enige ongemak en trauma oor die toneelstuk en vrae met die opvoeder te bespreek. Ons waarborg dat die bespreking vertroulik gehanteer sal word en indien nodig, sal ons ook berading verskaf.

“Ons beveel ook aan dat ouers direk by die onderwysdepartement kapsie moet maak indien hulle ongelukkig is oor hierdie soort vrae,” het Strydom bygevoeg.

Maroela Media het die Gautengse onderwysdepartement herhaaldelik gekontak vir kommentaar, maar het tot dusver geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
pieter

EK DANK DIE VADER DAT MY KINDERS UIT DIE SKOOL IS. AS OUER WAT OMGEE SAL EK MY KIND BELET HET OM DIE KLAS OF VRAAG TE BEANTWOORD.

pieter

ASKIES EK SIEN HULLE WORD GEDWING OOK NOG MET 40 PUNTE.

Eish

Dis die eerste keer in my lewe dat ek moet verneem dat leerders getraumatiseer kan word deur n vraag in n vraestel. In die 70’s is die enigste trauma beleef deur die ” Spotters wat mis gespot” het. Genade mense, selfs DSTV films het n ouderdoms beperking waar die klas van goed te sprake kom. Dit is nou presies waar die Christelike waardesisteme oorboord gegooi word deur die ” werklikheid” van n lewe in die helhool. Die onderwysdepartement se reaksie op navrae is tipies van die verrotting daar en algehele inploffing van die samelewing. Die brutale leefwyse van die helhool… Lees meer »

chantelle

Regtig. so kom ons traumatiseer hulle en dan daarna bied ons berading aan. Word wakker, ons bly klaar in n siek wereld.

John

Die opstellers van die vraestelle moet aangevat word. Wat gaan in hul koppe aan? Onderwysers wat kinders seksueel aanrand hou skool. En nou sulke vrae. Wat wil daarmee bereik word, is die vraag?