‘Baie belangrik om SAID se geloofwaardigheid te herstel’

Nhlanhla Nene, minister van finansies (Februarie 2015) (Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie)

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het Maandag gesê die regering is verbind daartoe om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te stabiliseer as ʼn geloofwaardige onderneming en om seker te maak dat inkomsteteikens behaal word.

Die jaarlikse inkomstebelastingseisoen het op 1 Julie 2018 begin.

“Niks is meer belangrik as om die SAID te stabiliseer en te herstel as ʼn instansie wat geloofwaardig is in die oë van die Suid-Afrikaanse publiek nie,” het Nene gesê.

Hy het bygevoeg die ministerie van finansies sal die SAID ondersteun om sy werk te doen, asook in die dissiplinêre verhoor van die geskorste hoof Tom Moyane.

“Ons moet toelaat dat die twee prosesse sy gang gaan. Die ministerie van finansies en die nasionale tesourie sal met die bestuur van die SAID saamwerk om seker te maak dat die instansie op koers bly en aan sy mandaat voldoen,” het hy bygevoeg.

“Daar is waarskynlik nie enige ander agentskap in die regering wie se bedryfsprestasie meer belangrik is as die SAID nie. Dit is algemene kennis dat die regering nie sy doelwitte kan bereik sonder belasting en ander inkomste wat deur die SAID verhaal word nie. Ek kan julle verseker dat die SAID ʼn baie belangrike instansie is en ons sal alles in ons vermoë doen om seker te maak hy voldoen aan sy mandaat.”

Nene het die waarnemende hoof, Mark Kingon, bedank “dat hy die fort hou” en dat hy “uitstekende leierskap bied aan die mans en vroue van dié wonderlike organisasie”.

Die kommissie van ondersoek oor bedrywighede by die SAID het verlede week begin. Moyane wou die ondersoek ná drie dae van verdoemende getuienis van voormalige werknemers opskort. Hy het gesê dit is “uiters onregverdig”.

Hy was vier jaar lank aan die hoof van die SAID terwyl die instansie sy teikens met byna R100 miljard gemis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Fanie van Heerden ·

Sal geen geloofwaardigheid hê solank Afrikaans geminag word.

Opvallend ·

Opvallend dat hy ‘waarnemend’ is, seker net om die kastaiings uit die vuur te krap?

Lynne ·

SARS se Goue Jare was die tyd toe Trevor Manual die Minister van Finansies was! Pravin Gordhan met sy besondere werksetiek kon die instansie nog ‘n paar jaar aan die gang hou. Daarna was dit down hill vir SARS! Ek twyfel of SARS ooit weer sy geloofwaardigheid sal herwin. As ‘n koppie eers gekraak het, hou nooit weer water nie!

Vryheid ·

Daar bestaan nie meer so woord soos geloofwaardigheid in die land nie, dit is verruil vir die nuwe algemene beskrywende woord naamlik korrupsie.

SjN ·

Geloofwaardigheid is nie deel van hul woordeskat nie, hul moet eerder erken hul kan nie die job doen nie,

Willie ·

Regtig se vir ons Jacob Zuma belasting betaal het… toe ek daag julle uit!

wraggies ·

Ek wil sien dat dié wat vir jare tot biljoene in belasting ontduik (met verwysing aan Pauw se boek) tronk toe gaan, eers dan sal ek begin in julle “glo” dws “the proof of the pudding is in the eating”. Maak werk van dit Mnr Nene, om geloofwaardigheid te herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.