Baie meer vir staatsrede by stadsaal begroot

Kaapstadse stadsaal. (Foto: Stad Kaapstad/Facebook)

R4 miljoen van belastingbetalers se geld is vir vanjaar se staatsrede begroot. Dít sluit in die debat oor die staatsrede wat volgende Maandag en Dinsdag sal plaasvind.

Sowat R1,6 miljoen van die totale bedrag is vir die seremonie Donderdagaand by die Kaapstadse stadsaal alleen opsygesit. Die aanvanklike begroting sou honderde duisende rand beloop het.

Altesame 364 parlementslede sal vanjaar se staatsrede in persoon bywoon, van wie 298 in die vergadersaal sal sit. Die res sal vanuit die openbare galery saam met hooggeplaastes en verslaggewers na pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede luister.

Gaste wat reeds hul bywoning bevestig het, is oudpresident Thabo Mbeki, voormalige adjunkpresident Phumzile Mlambo-Ngcuka en die voormalige speakers van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, Max Sisulu en dr. Frene Ginwala.

’n Aansienlik kleiner begroting is aanvanklik beskikbaar gestel nadat die vorige paar staatsredes tot ’n klein groep bywoners beperk is weens die Covid-19-pandemie. Enkele honderde duisende is toe begroot en daar is eindelik minder aan die begroting bestee.

Die verwoestende brand by die parlement het egter die regering genoop om meer geld beskikbaar te stel aangesien die lokaal ter elfder uur na die stadsaal geskuif moes word. Daar moes onder meer geld begroot word vir nuwe kentekens aangesien sommige van die bestaande kentekens vir die staatsrede in die brand verwoes is.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, het vanoggend in antwoord op ’n vraag van ’n verslaggewer gesê die besluit om vanjaar se staatsrede in persoon te hou en nié virtueel nie, was ’n “deurdagte en politieke keuse” – veral in die lig van die brand by die parlement.

“Dit is die tyd vir alle lede van die parlement om bymekaar te kom en aan Suid-Afrikaners ’n gees van solidariteit te toon.

“Die brand by die parlement het ’n negatiewe boodskap aan die land gestuur. Indien daardie voorval bedoel was om die parlement se werk te ontwrig, was dit vir ons belangrik om die boodskap te stuur dat geen brand van die parlement en geen sabotasie die parlement sal verhoed om die staatsrede te hou nie.”

“Wat ook al die omstandighede, dit wat gebeur het, sal ons nie verhoed om ons werk te doen nie..”

Mapisa-Nqakula sê die staatsrede is ’n baie belangrike geleentheid op die politieke kalender aangesien Ramaphosa die regering se program vir die nasie sal uiteensit en alle parlementslede die kans gegun sal word om met Ramaphosa in gesprek te tree.

Sekerheid

Die nasionale gesamentlike en operasionele intelligensiestruktuur (NatJoints) sê in ’n verklaring maatreëls is ingestel om te verseker dat die staatsrede sonder voorval verloop. Veiligheidsmagte is reeds ontplooi en op ʼn hoë gereedheidsgrondslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Kokerboom ·

My gevoel is staatsrede fanfare word helemal oordoen! Die staatskas is leeg en onnodige vermorsing vind plaas.

VaalDonkie ·

Vat daai R4m en koop vir elkeen ‘n eenrigting kaartjie dat hulle in hul dinges in kan vlieg. Steek die vliegtuig aan die brand nadat hulle geland het.

Deon ·

Te bang om dit te doen, teen die tyd wat die geld by die kaartjie koop uitkom, is die helfte weg

Debbie ·

Daai R1.6 miljoen kan gaan vir kos vir die honger landsburgers ipv hulle “party” die aand.

Marius ·

Hulle wil ‘n gees van solidariteit kweek. Regtig !!! Weet hul ooit wat solidariteit beteken ?

VaalDonkie ·

Ek is ‘n lid van Solidariteit en wil niks met hulle te doen he nie.

Shakespeare ·

Hierdie spesie is net eenvoudig te sleg om asem te haal. ALLES wat hulle aan raak word ‘n totale GEMORS.

Deon ·

Wat kan verwag word van mense wat n verslag oor staats kaping ontvang en glimlag vir die kamera soos een wat n graad ontvang?

Deon ·

“Dit is die tyd vir alle lede van die parlement om bymekaar te kom en aan Suid-Afrikaners ’n gees van solidariteit te toon” So, julle wil he dat ons honger moet sit en kyk hoe oorvreet julle julself soos n hond wat by jou sit en wag vir n stukkie kaal been om van die tafel af te val… Ek sien geen rede vir daardie enorme bedrag nie, die stadsaal behoort indirek aan die staat, dus geen flippen kostes nie… Julle kry almal vervoer wat subsidieer word deur die staat, so geen verskoning daar nie. As dit n raadsaal is, dan behoort alles in plek te wees om vergaderings met die nodige toebehore soos skerms en klank in plek te wees, so geen verskonings daar nie. Waarom nie net n dood eenvoudige adressering via die media uit die presidents kantoor nie?

Vexed ·

Soveel geld vir die opening van die openbare toilet… en ja dit is die regte benaming. Ons weet almal wat hulle praat.

domheks ·

rama moet eerder almal se salarisse halfveer, nie nodig om nog uit die armes se sakke te vreet en suip nie!

piet ·

Hulle kon eintlik net ‘n groot markiestent bestel het, dis mos maar in elk geval ‘n sirkus.

Marianna ·

Kos dit so baie in ander lande? Ek glo nie. Daar is nooit so ‘n fanfare nie. Ek het vir ses jaar in Engeland gewoon en daar was nooit so ‘n sirkus nie. En glo my die publiek sou wyd en syd daarvan geweet het.

Mariana ·

Hoekom enigsins soveel geld spandeer aan die staatsrede? Dit elke jaar dieselfde storie, spul geld wat vermors word sodat die president ‘n paar “gevleuelde”woorde wil uiter, wat meestal elke jaat dieselfde is. Dit is een groot partytjie en die volgende dag is almal nog te deur die wind om te funksioneer. Onnodige geld mors. Maar hoe dan anders, dis een van hul stolperdjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.