Baie vingers gewys, maar Guptas nog skotvry

Atul Gupta (Argieffoto)

Terwyl Atul en Rajesh Gupta iewers in die wêreld (moontlik Europa) uitspan en Suid-Afrikaners wonder of die broers óóit werklik in aanhouding was, probeer ander uitpluis wie die skuld moet kry vir Suid-Afrika se mislukte aansoek om hulle hierheen te laat uitlewer.

Talle glo die Suid-Afrikaanse regering moet hiervoor pa staan. Ander kenners het weer vrae oor wat presies Saa’d Cachalia, Suid-Afrika se ambassadeur in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), daar doen as dit dan nou nie is om na Suid-Afrika se belange om te sien nie.

Prof. Theo Neethling, verbonde aan die departement politieke studies en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), erken hy het aanvanklik gedink dat die Suid-Afrikaanse regering waarskynlik drooggemaak het.

“Maar hoe meer ek daaraan dink, hoe meer kom ek tot die gevolgtrekking dat die VAE te blameer is,” verduidelik Neethling.

Hy beskuldig die VAE se amptenare van gebrekkige kommunikasie.

Neethling wys daarop dat ’n Dubaise hof die aansoek al vroeg in Februarie afgekeur het, maar besluit het om Suid-Afrika eers twee maande later daaroor in te lig. Dit is ook gedoen met behulp van ’n diplomatiese nota in Arabies wat inderhaas vertaal moes word.

Die luukse verblyf waar die Guptas in ‘n stadium in Dubai tuisgegaan het. (Foto destyds verskaf deur die DA)

Die VAE was ook traag om besonderhede rakende die broers se inhegtenisnemings te verskaf aangesien dit “nie standaardpraktyk is om sulke inligting bekend te maak nie”.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, sê egter dit is duidelik dat die aansoek in die VAE deur burokrate hanteer en op ’n tegniese punt “waarvoor Suid-Afrika die skuld dra” van die hand gewys is.

‘Arme SA’

Die departement van justisie het tot dusver geweier om die name bekend te maak van die span amptenare wat die aansoek om uitlewering in die eerste plek opgestel en ingedien het.

Kleynhans sê die feit dat die aansoek misluk het, dui op drie belangrike probleme wat insluit die departement en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se onvermoë om met groter doeltreffendheid uitleweringsbevele vinnig en korrek saam te stel.

“Dit is nie die eerste keer dat ’n uitleweringsaansoek vir ’n ernstige misdadiger misluk nie. Suid-Afrika sukkel toenemend hiermee.”

Kleynhans is ook bekommerd oor die Suid-Afrikaanse regering se vermoë om deur goeie politieke verhoudinge die hantering van hierdie soort aansoeke te bespoedig.

“Die Suid-Afrikaanse regering se onvermoë om politieke kanale te gebruik om die aansoek te kon bespoedig en moontlike tekortkominge te kon regstel, is tekenend van ’n regering wat min buitelandse invloed het.”

“Dit is nie net dat Suid-Afrika se internasionale aansien aan die taan is nie, maar die land se regering word met wantroue in die buiteland beskou en Suid-Afrika word toenemend as minderwaardig in diplomatieke betrekkinge beskou – daarom dat hoëvlakpolisie in ’n land soos die VAE eerder nie by die Gupta-saak betrokke wou raak nie.”

En ons ambassadeur?

Pres. Cyril Ramaphosa en Saa’d Cachalia, Suid-Afrika se ambassadeur in die Verenigde Arabiese Emirate. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Kleynhans sê Suid-Afrika se diplomatieke diens is wêreldwyd al vir meer as twee dekades aan die agteruitgaan.

“Diplomate doen nie hulle werk deur te verseker dat Suid-Afrika in die lande waar hierdie diplomate gestasioneer is, goeie toegang tot hoëvlakamptenare en politici het nie. Suid-Afrikaanse ambassades wêreldwyd misluk ook daarin om Suid-Afrika se beeld te bevorder.”

Kleynhans sê diplomate is dikwels afwesig en beskou aanstellings in ambassades as blote belonings vir politieke lojaliteit. Cachalia, Suid-Afrika se ambassadeur in die VAE, was lank ʼn ANC-politikus in Limpopo en ook ʼn voormalige LUR van finansies.

Cachalia is in 2012 deur oudpres. Jacob Zuma as ambassadeur in Katar aangestel en later deur pres. Cyril Ramaphosa as ambassadeur in die VAE.

Kleynhans sê egter daar is geen bewyse dat Cachalia Suid-Afrika se posisie in die streek oor die afgelope dekade wesenlik bevorder het nie.

“Indien die ambassade sy werk gedoen het en goeie direkte kontakte in die VAE se ministerie van binnelandse sake gehad het, sou hulle betyds die probleme met die uitleweringsaansoek kon opspoor en sou dit reggestel kon word.”

Bedenkinge

Kleynhans sê dit is nog onduidelik presies wanneer Atul en Rajesh uit aanhouding in Dubai vrygelaat is. “Die kans dat daar ook in die VAE onderduimshede kon plaasvind, is heeltemal moontlik. Dit is hier waar Suid-Afrika se rol in Interpol, maar ook ons diplomatieke bande met die VAE, ʼn rol kon speel.”

Ook Neethling sê daar is geen bewyse wat daarop dui dat die broers ooit in hegtenis geneem en in aanhouding was nie. Dit is ook moontlik dat die Guptas ’n houvas op die VAE het.

“Hierdie ouens is bobaas manipuleerders. Ek wonder of hulle ooit in aanhouding was.”

Neethling sê Interpol moet nou werk daarvan maak om die broers weer op te spoor.

  • Die DA het vandeesweek aangedui dat die party die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, gaan versoek om ʼn volledige afskrif van die aansoek aan die party te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.