Bakhand-Prasa kry ook reddingsboei

(Foto: Twitter)

Die nasionale tesourie het “gunstig reageer” op ʼn versoek van die Passasierspooragentskap (Prasa) om hom uit sy geldelike verknorsing te help.

Die direkteur-generaal van vervoer, Alec Moemi, het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer gesê die tesourie is nie ongeneë om te voldoen aan ʼn versoek van die minister van vervoer, Fikile Mbalula, om Prasa te help nie.

Jare lange wanbestuur en korrupsie dreig om Prasa finansieel te kelder.

ʼn Gedeelte van die geld is Maandag reeds goedgekeur, maar Moemi wou nie verdere besonderhede daaroor verskaf nie.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het vantevore al gesê hy sal Prasa, eerder as die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens, met ʼn reddingsboei help. Prasa sê bedryfsverlies is in dié stadium R1,8 miljard en Mboweni sê die meeste Suid-Afrikaners benodig ʼn doeltreffende pendelspoorstelsel, eerder as ʼn lugredery.

Mbalula en Moemi het terugvoer aan die komitee gegee oor die stand van sake by Prasa en sê die agentskap se grootste kopseer is agterstallige skuld. Dit neem Prasa gemiddeld 225 dae om krediteure te betaal.

Dit is tien keer langer as die gemiddeld in 2012-’13 en het ʼn agterstand geskep wat nooit ingehaal kan word deur die inkomste uit treinkaartjies nie.

Die situasie word vererger omdat pendelaars op hoofroetes van 3,8 miljoen in 2009 tot 387 530 verlede jaar gedaal het. Die daling is grootliks te wyte aan die feit dat lokomotiewe nie beskikbaar of betroubaar is nie.

Moemi sê Prasa is verbind daartoe om kontrakte op te skort wat hom nie tot voordeel strek nie. Die departement sal ook nie huiwer om die hof te nader om kontrakte ter syde te laat stel wat onregmatig aangegaan is nie.

Volgens die ouditeur-generaal (OG) het Prasa se opgehoopte, onreëlmatige besteding in 2017-’18 op R24,2 miljard gestaan.

Mbalula het kleurryke taal gebruik om die probleme by Prasa te beskryf en onder meer daarna as ʼn “bodemlose put” en ʼn “plek wat heeltemal ineengestort het”, verwys.

“Dit was ʼn spookagtige plek waar mense links en regs gesteel het,” het Mbalula gesê. Volgens hom het die hoë omset van raadslede geensins bygedra om die situasie te beredder nie.

Mbalula het sy besluit verdedig om die raad die trekpas te gee en Bongisizwe Mponde vir 12 maande as administrateur aan te stel. Hy het aan LP’s gesê dat hy die stap eers met pres. Cyril Ramaphosa bespreek het. Mboweni is ook ingelig dat die raad nie sy fidusiêre pligte nakom nie.

Toe ʼn hersiening van die raad se prestasie laat verlede jaar gedoen is, het dit gewys dat Prasa probleme het wat net met beslissende ingryping en sterk leierskap op bestuursvlak opgelos gaan word.

“Dit was ooglopend dat dit nie sou help om ʼn tussentydse raad net met ʼn permanente een te vervang nie, omdat dit niks sou bydra om die diepgewortelde probleme te takel nie,” het Mbalula gesê.

Mbalula het gesê die OG het bevind die raad het versuim om stappe te doen om onreëlmatige besteding te stuit.

“Sedert die tussentydse raad aangestel is, het [Prasa] se sake nie verbeter nie, maar eerder versleg soos gesien kan word in die OG se weiering om ʼn ouditmening te gee, nadat Prasa twee jaar lank gekwalifiseerde ouditmenings gekry het,” het die minister gesê.

Mbalula en Moemi het gesê die dringende stappe wat gedoen word om ʼn betroubare spoorpendeldiens te verseker sluit in die beveiliging van koperkabels sodat dit nie gesteel kan word nie en die aanstel van veiligheidsbeamptes op treine en by stasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan Venter ·

En die staatshospitale, kan hulle nie meer gered word nie, het die regering, Cyril en onse minister Dr Zwelini Mkhize nou handdoek ingegooi want die oë is nou op die NGV gerig?

Gaats, amper vergeet ek, eerste in die ry is die SAL, dan nog een, dan nog een, dan nog een, dan nog weer die SAL, weer ‘n keer, intussen is daar van Prasa vergeet, Nou onthou hulle weer daarvan en toe is daar nie meer geld vir die staat se gesondheidsorg om die hospitale wat hulle vir 20 jaar in die grond in bestuur het, te red nie, want die SAL sal vorentoe nog ‘n reddingsboei of twee moet kry.

Jammer hulle kan nie die staat se gesondheidsorg in belang van die mense wat nie private mediese skemas en gesondheidsorg kan bekostig red nie, die oë het verstar en is op die rykdomme van die private sektor vasgenaal.

En dit als om hul kommunistiese sosialistiese ideologie en die NDR terwille te wees.

Nie Verbaas ·

Al die bogenoemde gebeur as mense totaal en al onbevoeg is om die werk oordentlik en eerlik te doen. Iets wat in die huidige Suid Afrika nie moontlik is nie. Suid Afrika se staatsinstansies is dan nog boonop heeltemal oorbevolk. Ek sal my kop in skaamte laat sak as ek nog 3 of 4 mense nodig het om my eie werk te doen. Van staatshospitale gepraat, Baragwanath hospitaal het op enige dag gemiddeld 1800 werknemers afwesig. Nice man, nice.

Nie Verbaas ·

Hier gaan ons alweer! Reddingsboei = verdere wanbestuur en plunder.

koos10 ·

Ek het gewonder of PRASA nog bestaan. Trein diense het in Pretoria feitlik tot stilstand gekom, wat goeie nuus is vir die taxi bedryf, maar die gaan die regering weer hard byt en baie geld kos, want meer voertuie op die pad, verkort ‘n pad se lewensduur, meer ongelukke is ook natuurlik daar, wat ook geld kos. En wie moet die gelag betaal, die pendelaars was vir baie min geld werk en die belasting betalers.
Eish, dit moet heerlik wees om met ander mense se geld te “werk” sonder enige gevolge as iets verkeerd gaan.

daniel ·

Veral moeilik as ky lang fingers het en geen lojaliteit teenoor jou land nie.

Niklaas ·

Bestaan die Spoorweë dan nog ? Gereeld sien ek in SA , ongebruikte en verroeste spoorlyne vanaf Laeveld tot doer in die Oos kaap (onlangs op vakansie na die Weskus). Stasie geboue , soos in die dorp Graskop , word maar ontruim en verlaat en dan word die gebou ‘n murasie. Dis mos nie ‘n globale/wereld neiging nie. Waar het dinge begin skeefloop ? Soveel teerpaaie word gaar en vrot gery deur al die lang swaar trokke met transito vragte wat maklik per spoor gestuur kon word. En nou steek Prasa ook sy hand op , en kerm , kom red ons asb . Hierdie hulpkrete van talle SA organisasies hoor ons darem nou baie gereeld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.