Bakkery se onsmaaklike Oscar-koekies

Die omstrede koekies van Charly's Bakery Foto: Twitter

Die omstrede koekies van Charly’s Bakery Foto: Twitter

ʼn Gewilde bakkery in Kaapstad, Charly’s Bakery, moes Dinsdag om verskoning vra nadat sy reeks Oscar Pistorius-koekies ʼn wrang smaak in die mond gelaat het.

Die koekies, wat in die lig van Pistorius se moordverhoor volgende week versier is, is deur talle gebruikers op sosiale media gekritiseer. Die bakkery het foto’s van die koekies op sy Twitter-rekening gepubliseer. Hulle het onder andere die slagspreuk van die bekende Nike-handelsmerk gebruik en geskryf, “Just do it. He did it.”, met ʼn foto van die atleet. Nike is die atleet se voormalige borg.

Pistorius het sy vriendin, Reeva Steenkamp, verlede jaar op Valentynsdag deur ʼn toe badkamerdeur doodgeskiet. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien.

Daar is ook ʼn koekie met ʼn foto van die atleet wat met uitgestrekte arms op die atletiekveld draf, met die woorde “And the oscar goes to jail”, ʼn woordspeling op die Oscar-toekennings wat Sondag uitgeloof word.

Die bakkery het by die foto geskryf: “Onseker of hierdie in goeie smaak is, maar hulle proe baie lekker”. Die tweet is intussen uitgevee en die bakkery het op Facebook en Twitter herhaaldelik om verskoning gevra. “Ons het ʼn groot fout gemaak met die #OscarMedia-koekies en ons sak ons kop in skaamte. #WeAlwaysRememberReeva.”

Die bakkery, wat al ʼn paar keer op realiteitstelevisie gesien is, is bekend vir sy lawwe kolwyntjies en indrukwekkende koekversiering. Die bakkery het bevestig die koekies was nooit te koop nie.

Pistorius se moordverhoor begin Maandag. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

Dis ongelukkig hoe dinge deesdae werk. Publisiteit is alles – maak nie saak of dit goed of sleg is nie. Nou weet (hopelik) nog ‘n paar duisend mense van Charly’s Bakery. Die bakkery se “onseker of hierdie in goeie smaak is”, is snert. Natuurlik is dit in swak smaak en dit weet hulle van meet af aan – die doel is om maksimum blootstelling te kry en die beste manier is om iets kontroversieels aan te vang. En ‘n sensasiehonger publiek love dit. Bleddie pateties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.