Bakkiebestuurder hoor lot ná hy jong man na sy dood sleep

Lloyd en Jared Lomas. Foto: Facebook

“Ons wil almal bedank vir hul gebede en boodskappe.”

Só het Lloyd Lomas gesê nadat Philip Bunge Vrydag sy lot gehoor het in verband met die dood van Lloyd se seun, Jared (23), in Julie 2015.

“Vandag was die laaste dag van die verhoor van ons hemelse seun, Jared Lomas. Die beskuldigde is aan strafbare manslag skuldig bevind. Vonnisverrigtinge begin op 11 Junie,” het Lomas gesê.

Die Knysna-Plett Herald berig landdros Marius Fourie het saamgestem met die staat se weergawe van gebeure en bevind Bunge se weergawe is onwaarskynlik.

Maroela Media het vroeër berig Jared is dood nadat die bestuurder van ʼn bakkie hom in Langstraat, Knysna, aan sy kraag gegryp, weggetrek en saamgesleep het.  Jared was op 12 Julie in die vroeë oggendure saam met sy vriende op pad na hul motor nadat hulle die aand by die Oesterfees gewerk het.

Die bakkie het verbygekom en langs hulle gestop. ʼn Rusie het tussen die groep en die bestuurder ontstaan omdat die bestuurder glo ongelukkig was omdat hulle skynbaar in die pad geloop het.

“Die bestuurder het Jared aan sy kraag gegryp en (Jared se vriende) het aanhou sê hy moet net rustig raak en dit is nie nodig om te baklei nie. Die ou het skielik net weggetrek terwyl hy Jared vasgehou het. Jared het geval en die bakkie het bo-oor sy kop gery,” het Lloyd destyds gesê.

Jared is per ambulans na die hospitaal gehaas, maar is met sy aankoms dood verklaar. Die bestuurder van die bakkie is later die oggend by sy huis in hegtenis geneem. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het destyds aanvanklik besluit om nie die saak op die hofrol te plaas nie en Bunge is vrygelaat. Bunge is egter weer later aangekla.

Jared het deeltyds BCom finansiële bestuur studeer terwyl hy gewerk het om sy studies te betaal. Lloyd het vertel dat sy seun ʼn gedrewe man was wat hard gewerk het om sy drome te bewaarheid.

“Hy was altyd vriendelik en altyd spraaksaam. Daar is so baie herinneringe. Ek het my seun verloor. Niks sal hom ooit terugbring nie.”

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

RIP ·

NEEWAT boet laat jy sit .. maak nie saak van watter afkoms jy is nie . jy moet tronktoe gaan , jy net goed geweet wat jy gedoen het . jy het moord gepleeg, dit was geen ongeluk nie .. Hoop net geregtigheid seevier !

Koos de Meyer. ·

Ja ek stem. Nog so onnodig, hy moet lank sit en ek hoop sy gewete kla hom elke dag aan.

Koos1 ·

Ek dink moord sal die beter klag gewees het. Bunge het hom nie per ongeluk aan die kraag gegryp en per ongeluk begin ry nie. Ek glo nie hier was nalatigheid betrokke nie, maar wel opset.

KG ·

Ek sal hom graag wil vra of sy optrede die moeite werd was??? Wat het het daauit gekry?? So onnodig!!

PJC ·

Die bestuurder van die bakkie kom baie lig daarvan af. Hy kon geweet het dat sy optrede noodlottig vir die jong man kon wees. Ek hoop die landdros lě hom ń swaar straf op. Indien hy nie behoorlik gestraf word nie gaan sy humeur en arrogansie weer in die toekoms een of ander tyd die oorhand kry en gaan hy weer oortree met dalk nog erger gevolge.

Oom Kalahari ·

So ‘n onnodige optrede tydens woede en dan reageer hy met kwade gevoelens en met die doel om ernstig te beseer. Hy het ‘n jong man se lewe geneem en familie agter gelaat met baie hartseer. Mag hy boet vir sy swak optrede en afskuwelike daad en lank sit en dink oor sy onmenslike handeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.