Bakkievrag vol duur eksotiese voëls gekaap

Die voëls wat saam met die bakkie gekaap is (Foto: Verskaf)

’n Bakkie met ’n besending van eksotiese voëlspesies ter waarde van R700 000 is Maandagoggend langs die N1, net buitekant Johannesburg, gekaap. Die kapers het hulle voorgedoen as polisie.

Dié Toyota-dubbelkajuitbakkie was op pad na die Internasionale Lughawe OR Tambo om 124 African Grey-papegaaie, 7 Blue-Fronted Amazon-voëlspesies en 1 Medium Sulphur-Crested Cockatoo (kaketoe) na Dubai uit te voer. Die voëls het aan Herman van Rooyen, die eienaar van SA Birds in Greytown in KwaZulu-Natal, behoort.

Die egpaar, Piet en Tiekie Venter van Riebeeckstad in Welkom in die Vrystaat, het die voëls vir 21 dae in kwarantyn geplaas voordat hulle die voëls in die bakkie gelaai het om uitgevoer te word.

Piet sê die bestuurder van die bakkievrag is deur ’n onbekende voertuig met blou ligte van die pad af gedwing. “Die mense in die voertuig het hulle voorgedoen as polisie. Hulle het die bestuurder oorrompel, ’n sak oor sy kop getrek, hom in die bakkie gelaai en gery. Hy is ’n uur later afgelaai,” vertel Piet.

Piet vertel die bestuurder het Van Rooyen histeries gebel en vertel dat hy in die middel van Soweto staan.

Die polisie is onmiddellik van die kaping verwittig. “Gelukkig kon die polisie die bakkie met ’n opsporingstoestel in Johannesburg opspoor. Die voëls was skoonveld,” vertel Piet.

Piet glo die kapers was agter die bakkie aan, en nie noodwendig die voëls nie. “Ek twyfel of van die voëls nog leef. Van die voëltjies was nog babatjies en ons het hulle gevoer met spuite. Dit is hartseer, want jy raak geheg aan die voëltjies.”

Privaatspeurder Mike Bolhuis ondersoek tans die saak. Indien enigiemand inligting het oor waar die voëls hulself bevind, skakel Bolhuis by 082 447 6116 of stuur ‘n e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sandra ·

Al daai voëls agter op of in n Dubbel kajuit bakkie? 132 Voëls. Al was hul nog babas, kan ek nie dink hoe ? Ai dis `n groot verlies.

Lizelda ·

Solank daar troeteldier winkels en onverantwoordelike telers is wat diere sien as maklike manier van geld maak, solank… sal hierdie dinge gebeur. My hart breek vd voels, so verskriklik erg.

Lizelda ·

Ja, Sandra en as ons praat van n groot verlies praat ek nie vd R700 000 nie ek praat vd 132 voels wat in hokke gesit het en gewag het op hulle dood… 132 het hul lewens verloor. Dis baie tragies en hartseer.

J ·

Dit is jammer oor die voëls maar ek het nie ‘n sekonde se tyd vir papegaai telers nie. Feitlik niks wat hulle doen is wetenskaplik nie, dis bloot ‘n godsdiens wat geld inbring. Ek wens SA wil wetgewing kry soos Nederland waar geen ongesoogde diere van ouers verwyder mag word nie.

Boervrou ·

J, pasop om te veralgemeen!! Ons het familie wat met pappagaaie teël. Eerstens word die voëls eers op 4 -6 weke uit die neste gehaal. Daarna word hulle met die hand grootgemaak. Wanneer hulle selfstandig eet en vol vere is word hulle uitgevoer. Daar is ‘n groot Mark vir papagaaie. As daar nie telers is nie, gaan kopers op die swartmark daarna soek. Dit beteken dat voëls in die natuur onwettig gevang word en verkoop word. As dit nie vir telers was nie, dan was daar geen wilde papagaaie meer oor nie. Daar mag dalk telers wees wat nie alles volgens die letter doen nie, maar dis beslis nie almal nie. My familie het pragtige groot hokke, kry die beste kos en lewer gesonde voëls. Hulle is ook deur organisasies besoek en geregistreer as ‘n teler. Gaan dink bietjie mooi wat jou houding vir wilde voëls gaan beteken!

Bess ·

Kliknk na n storie hoe dwing jy n voertuig af van n hoofweg en hoekom is die eienaar so simpel om nie n gewapende wag saam re stuur met so waardecolle vrag nie..

Anoniem ·

Shame die voeltjies het seker besluit dit is te waaghalsig om met SAL te vlieg toe besluit hulle om maar self Dubai toe te vlieg.

Sulet ·

Is Bolhuis nou die amptelike redder van voëls? Wonder maar net…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.