Baksteen deur karvenster: Seun vorder goed

Caden Slabbert (8) en sy sussie, Eden (11). Foto: Verskaf

Caden Slabbert (8) en sy sussie, Eden (11). Foto: Verskaf

Dit is nog te vroeg om te sê of hy volkome gaan herstel, maar ek weet hy gaan – want God is in beheer.” Só sê Justin Slabbert, die pa van die agtjarige Caden wat ʼn ernstige kopbesering opgedoen het toe ʼn voetganger langs ʼn Johannesburgse snelweg ʼn baksteen deur hul motorruit gegooi het.

Caden was op 30 April die slagoffer in een van vier voorvalle wat aangemeld is nadat, vermoedelik dieselfde verdagte, bakstene na verbygaande voertuie op die N12-snelweg naby The Glen-winkelsentrum geslinger het. Marionette Schwab (42) is ook teen die kop getref en het ook ernstige kopbeserings opgedoen. Niemand is in die ander twee voorvalle beseer nie. Lees meer hier.

Caden was ná die voorval vir sowat twee weke in ʼn geïnduseerde koma nadat ʼn deel van sy skedel verwyder moes word om drukking op sy brein te verlig. Die baksteen het hom teen die linkerkant van sy kop getref en die besering tas sy spraak aan.

Hy is twee weke gelede na die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Auckland Park oorgeplaas waar hy sy eerste woord, “Pa”, ná die ongeluk gesê het. Hy het daar ook weer begin loop.

“Hy toon dag ná dag verbetering en is ʼn regte vegter,” het Justin bygevoeg. “Dit is nog te vroeg om te sê of hy permanente breinskade opgedoen het. Hy gaan na verwagting nog tot middel Augustus rehabilitasie ontvang en daarna kan dit tot en met twee jaar neem voor ʼn mens weet of daar permanente skade is. Maar ek weet hy gaan volkome herstel. Ons almal glo dit, en met al die gebede wéét ons dit sal gebeur.”

Justin het gesê hy het nog nie terugvoer van die polisie ontvang dat iemand weens die voorval in hegtenis geneem is nie.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het kort ná die voorval gesê die man wat na bewering die bakstene na verbygaande motors geslinger het, is glo geestelik versteurd en die metropolisie en polisie is op soek na hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peet Schabort ·

Ek sien hy het ‘n Engel vir ‘n sussie en dit sê ALLES . . .

CHRISTA ·

Spoedige herstel! Die liewe HERE sal julle almal elke dag bystaan!! Vertrou net op Hom!!!

Magda Blom ·

Liewe pragtige seuntjie, ek bid dat jy volkome sal herstel. Ons land, regering en deel van ons mense maak ons lewe hel

SNEL ·

So bly die knapie lewe en dat hy mooi herstel. Hoop en bid saam met julle dat daar geen blywende skade is nie en dat hy sy ou self sal wees. Hoop Maroela hou ons op hoogte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.