Baksteenmaatskappy bely prysvasstelling

Argieffoto

Die Mededingingskommissie het Donderdag gesê die derde en laaste maatskappy in die Wes-Kaapse baksteenkartel wat ʼn paar jaar gelede ontbloot is, het geskik nadat die maatskappy skuld erken het op aanklag van kartelgedrag.

Die kommissie het gesê Cape Brick het erken dat hy pryse in die baksteenmark in die Wes-Kaap vasgestel het, ʼn oortreding van die Wet op Mededinging.

Cape Brick is die oudste vervaardiger van gehalte betonbakstene wat in die Kaap werksaam is. Die maatskappy het in 1938 sy deure oopgemaak.

Cape Brick het in ʼn skikkingsooreenkoms ooreengekom dat hy ʼn boete van R300 000 sal betaal om ʼn kompetisiewet-nakomingsprogram te implementeer.

Die saak dateer uit 2012, toe die kommissie met ʼn ondersoek begin het teen Cape Brick, Columbia DBL en Inca Concrete Products.

Die ondersoek het aan die lig gebring dat die maatskappye, wat mededingers in die mark is vir baksteenvervaardiging, saamgespan het om pryse vas te stel en klante van beton- en baksteenprodukte aan mekaar te allokeer. Die kommissie het gesê Cape Brick, Columbia DBL en Inca het gereeld kliëntelyste uitgeruil en aangedui watter kliënte hulle verkies.

Volgens die kommissie het die drie maatskappye daarna ʼn finale kliëntelys saamgestel om aan te dui watter kliënt aan watter maatskappy behoort. Die lys is gereeld bygewerk. Om die ooreenkoms te volhou het die maatskappye ook ooreengekom oor watter pryse hulle sal kwoteer vir die betrokke kliënte. Die kommissie het gesê dit is gedoen om seker te maak dat elke maatskappy sy geallokeerde kliënte kan bedien.

Columbia DBL het voorwaardelike immuniteit ontvang kragtens die kommissie se korporatiewe toegeeflikheidsbeleid in 2013. Die maatskappy is in daardie selfde jaar gelikwideer.

Inca het in November 2014 met die kommissie geskik en ʼn boete van R800 000 betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kleingeld ·

Kleingeld vir so n misdaad. Misdaad beloon in SA. Ons moet self die dinge keer.

hendrik ·

n Boete is goed maar wat van hul kliente wat duur betaal het.

Pik ·

Ek het my hande saam geslaan wat aangaan in die land het die week gesien dat n kompleks se beheer liggaam kwotasies ontvang en dan ook kwoteer en raai wat hulle kry die werk ook as dit nie n skok is dan weet ek nie waar die land heen gaan

Johann Marx ·

As die regering misdaad onder beheer gebring het, kon elke baksteen wat nou in ‘n sekuriteitsmuur sit gebruik gewees het om hierdie land op te hef…..en sou daar genoeg bakstene gewees om vir elke Suid Afrikaner ‘n huis te bou.

MCH ·

So sneuwel die ou en gevestigde ondernemings onder die druk van samespanning tot n onregverdige wins. Die meelbedryf se reuse boetes oor soortgelyke optrede is nog vars in die geheue. Dit laat die vraag ontstaan oor die etiese norme wat in die maatskappy geld, dat daar te midde van publisiteit verleen aan vorige oortreders, steeds voortgegaan is met die praktyk. Wat n risiko om te neem, waar die voortbestaan van die besigheid op die spel geplaas word vir n paar rand se onregverdige wins.

Koos1 ·

Waar gaan die geld vir die boete heen…….. reguit bestem vir korupsie. Die verbruikers het die tariewe betaal, kan hulle vergoed word?
En dink ek, dat die kommissie SARS moet ondersoek. Ek is 100% seker hulle maak ook pryse vas, want elke maand word ‘n vaste bedrag van my salaris verhaal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.