Bakterie eis drie pasgebore babas in hospitaal

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

Die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid het bevestig drie babas is in die Stanger-hospitaal dood nadat hulle die weerstandige klebsiella-bakterie opgedoen het.

Sam Mkhwanazi, woordvoerder van die departement, het ook bevestig dat daar al nege klebsiella-gevalle by die hospitaal geïdentifiseer is.

Mkhwanazi het gesê die departement sal nou ondersoek instel om te bepaal of die babas se dood direk gekoppel kan word aan klebsiella en of iets anders dalk hulle dood veroorsaak het omdat hulle hoërisikobabas was.

Indien die babas aan die bakterie oorlede is, sal dit die ergste uitbraak wees sedert 2005 toe 22 babas in die Mahatma Ghandi-gedenkhospitaal dood is. Daar was ook in Mei vanjaar ʼn uitbraak by dié hospitaal waartydens 10 babas die bakterie opgedien het. Een baba is dood, maar die departement het later gesê dit was weens “ander oorsake”.

Dr. Imran Keeka, die DA se woordvoerder vir gesondheid, het gesê daar is volgens hulle inligting reeds vyf sterfgevalle by die Stanger-hospitaal.

Volgens Keeka kan die klebsiella-bakterie in ʼn hoësorgeenheidomgewing lewensgevaarlike toestande soos septisemie, longontsteking, blaasinfeksie sowel as ander infeksies tot gevolg hê.

“Sover die DA se wete strek, word daar nie tans stappe gedoen om die infeksies te beperk nie. Ons verneem ook dat, namate die getalle styg, die hoogs aansteeklike pasiënte na ander hospitale oorgeplaas word. Ons hoop regtig dit versprei nie so nie,” het Keeka gesê.

Volgens Keeka het hy Sibongiseni Dhlono, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, versoek om drasties in te tree en te verseker dat daar nie nog sterftes is nie.

Die departement het dié aantygings ontken. Mkhwanazi het gesê sedert die babas oorlede is, is ʼn infeksievoorkoming en -beheerspan sowel as mikrobioloë van die nasionale gesondheidslaboratorium na die Stanger-hospitaal gestuur. Hulle het ook die pasiënte in die neonatale saal verminder en die saal ontsmet om te voorkom dat die infeksie verder versprei.

“Daar is ook planne ingestel om te keer dat nuwe babas wat opgeneem word tussen reeds aangetaste babas in die saal geplaas word,” het Mkhwanazi gesê.

Daar word tussen 550 en 600 babas per maand in dié hospitaal gebore en die hospitaal is deurlopend vol.

Volgens die departement word twee tot drie pasgebore babas per dag opgeneem waarvan tweederdes prematuur gebore babas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johann ·

Aanvaar eenvoudige GEEN verandwoordelokheidd vir totale ineenstorting van standaarde in mediese versorging nie. Om nie te praat van hul eie onsimpatieke houding teenoor weerlose babas nie…

Alida ·

Dit is omdat dit so vuil en morsig is en niemand gee om nie. Die feit dat verpleegsters uiters skoon en netjies moet wees is nie in hul koppe ingeprent nie. Higiene is die basis van gesonde leefstyl. Ek het al gesien dat van hulle sit en eet, hul vingers aflek en direk daarna na ‘n pasient toe gaan sonder om hande te was met seep en warm water. Dit is onaanvaarbaar en die hospitaal bestuurder behoort aangekla te word van moord.

Liza ·

Ek was vir vyf maande amper elke dag by die hospitaal gewees en het dieselfde gesien ….welkom in Afrika !!!

Liza ·

My pa is verlede week oorlede weens Klebsiella. Privaat hospitaal se nalatigheid en baie “laks” gewees om verdere verspreiding te verhoed. Ek dink twee keer voor ek hospitaal toe gaan as ek dit kan verhoed.

Tanya ·

Dis so maklik om altyd die verpleegsters die skuld te gee,maar het enige iemand al ooit gewonder hoekom daar so min en so min opgeleide personeel in n hoë risiko eenheid is? Vir die hospitaalgroepe gaan dit nie meer oor die sorg nie,dit gaan oor die wins. So hulle betaal minimum,hulle sny kostes wàr hulle kan en beperk die personeel. Dan kies hulle boonop nog n laer katogorie personeel lid bo n opgeleide een omdat sy goedkoper is. Ook is die permanente personeel so min dat daar met amper 50% agentskap personeel gewerk MOET word wat helfde van die tyd nie bekwaam is nie of soms net nie opdaag nie. Dat die standaarde geval het stry ek nie mee nie,maar gaan kyk bietjie na die ander kant van die storie ook asb.

LB S ·

Die storie van tekort aan personeel en agentskappe het ek gehoor toe ek vir chemo in ‘n baie bekende privaathospitaal was. Ek was self geskok om te sien hoe die behandeling van pasiënte afgeneem het en die arme voltydse Suster wou van haar kop afgaan. As jy iets vra, knaend van pyn, dan is dit, “OK lovvey, I’ll be back now…” net om haar eers twee uur later weer te sien, weer kla en weer dieselfde storie, totdat ek uit die bed geklim het, drup en al, en heel aan die ander punt van die saal in die wonderlike Suster vasgeloop het, in trane. TOE gebeur dinge vinnig!

John ·

Dit gaan ewe sleg by private en openbare hospitale. Higiene het by die agterdeur uitgevlieg toe antibiotika aan die voordeur geklop het. Iemand wat daarop aandring word as ouderwets of vol fiemies bestempel. Sommige mense beskou ook teregwysing as ‘n inbreuk op hul menseregte en hulle weet altyd beter. Die bloedoortappingsdiens se ‘straatkollektes’ behoort ook aangespreek te word. Die hantering van skenkers en die hele proses in die ooptes laat mens angstig wonder…

miv ·

Wat het geword van die wit uniforms? Die donkerblou uniforms kan dae/weke aaneen gedra word en so word kieme ook versprei. Die verpleegpersoneel dra baie by tot hierdie besmette toestande. Hoekom ontstaan hierdie toestande net in hospitale. Hier is n privaat hospitaal naby ons waar familie en kennisse na miljoene rande se ‘hospitaalsorg’ as gevolg van ‘n ‘kiem’ dood is. Dit laat mens net wonder, is daar dan nie geregtelike ondersoeke na al die gevalle nie?

Tanya ·

Wat van al die ander lede van die multidisiplinêre span wat betrokke is by die pte? Of dink julle net verpleegsters kan kieme oordra? Drs,fisios,dieetkundiges ens loop van die een pt na die ander een. Hoekom word hulle nie ook bevraagteken nie?
En wat van kritiek siek pte wat 20 beoekers ontvang op n slag nadat daar aan hulle verduidelik is dat die pt se weerstand laag en dat die pt baie vatbaar is vir infeksies? Het die publiek dan ook geen aandeel nie?

Topster ·

Tanya jy is nog daar vir die regte rede en dit is trots baie dankie vir dit

Alida ·

Seep en water kos amper niks. Daar is GEEN verskoning vir die morsigheid nie. Wit uniforms en wit sluiers was bobaas. Geen rooi naels of los hare en crocks was toegelaat nie. Wanneer gaan die nuwe SA se minister van gesondheid wakker word. As hulle minder steel sal daar oorgenoeg fondse wees vir al bostaande goed ingesluit ontsmettings middels en skoonmakers.

Liewe heksie ·

DA julle kan gou hier inspring waar is julle as ons wit boere uigemoor word julle maak my naar jul meng ok net in waar ander mense die skuld kan kry

anton ·

Ai mense. Soos altyd fokus ons op die negatiewe. Plaas fokus ons op die toegewyde verpleegsters wat elke dag n verskil probeer maak. Verpleegsters wat elke aand sewe uur werk toe gaan,hard werk en dan sewe uur die oggend terug huis toe gaan om n kroos op te pas. Die lewe is heeltemal te kort om te fokus op die negatiew… Kom ons maak n verskil.

Griki ·

550 tot 600 babas ‘n maand wat in die hospitaal gebore word is darem ‘n hengse klomp.

Alida ·

Onthou hulle kry grants dan hoef die ouers nie te werk nie.

G ·

Sjoe, ek verstaan daar is ‘n beperkte aantal bedjies in elke hospitaal, maar hoe word daar voorkom dat die bakterieë versprei as hoogsaansteeklike babas na ander hospitale oorgeplaas word? Dis vreeslik hartseer dat staatshospitale, en selfs sommige privaathospitale so agteruit gegaan het oor die jare.

wanpraktyke ·

vriendin in Helen Joseph,,,,,,,,,,,nou derde keer terug teater toe na n heupvervanging om hulle gemors reg te mnaak, sepsis van hulle teaters wat so vuil is, hospitaal is smerig, en bedsere, regtig? is dit aanvaarbaar? hulle behoort krimineel aangekla te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.