Bakwena-grondeis: Publiek kan steeds aansoeke indien

Argieffoto (Foto: jarmoluk, Pixabay)

Argieffoto (Foto: jarmoluk, Pixabay)

Volgens die sakeregtewaghond AfriSake het ’n beampte van die Grondeisekommissie bevestig dat geaffekteerde individue en geïnteresseerde partye tot die Johannesburg-Suid grondeis (Bakwena-eis) tot 2 Februarie 2017 het om aansoeke by die kommissie in te dien.

Dit volg nadat AfriSake ’n brief aan die kommissie gestuur het rakende die tydperk wat vir aansoeke toegelaat is.

AfriSake doen ʼn beroep op geaffekteerde individue en geïnteresseerde partye, wie se eiendomme gelys is in die Staatskoerant op 4 November 2016, om aansoeke in te dien voor die afsnydatum. Aansoeke moet enige inligting bevat wat die kommissie kan help om te bepaal of ’n spesifieke stuk grond deel moet vorm van die eis of nie.

Dié grondeis is waarskynlik die grootste van sy soort nóg in Johannesburg en strek oor eiendomme heen wat deur individue, maatskappy en selfs staatsinstellings besit word. Om dié rede kan dit moontlik jare neem om afgehandel te word. Die organisasie verduidelik dit is daarom belangrik dat betrokke partye die geleentheid gegun word om hul stemme te laat hoor. Betrokke partye moet navorsing oor die historiese verkryging van hul eiendom doen om die kommissie te help om te bepaal of die grondeis meriete dra.

“AfriSake sal die belange beskerm van die sy lede wat deur dié grondeis geraak word, soos dit voorheen tydens die Lekhuleni-grondeis in Pretoria gedoen het,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake. “Indien die grondeis tot ’n regstryd lei, sal ons by enige prosesse betrokke raak om individuele eiendomsregte te beskerm.”

Die eis is reeds op 18 Mei 1995 deur Thabo Lucky Mogagabe namens die Bakwena Ba Mare a Phogole-stam ingedien. Die eis is egter eers op 4 November 2016 saam met ’n lys van ander eiendomme in die Staatskoerant gepubliseer.

Rand Water, die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), verskeie kerke en die Rooimiere (hervestiging- en uitsettingsdienste) word deur die grondeis geraak.

Verteenwoordigers van alle groepe het in November by Emperors Palace byeengekom om meer inligting oor die omvattende grondeis te verkry.

Die publiek is welkom om AfriSake te kontak vir enige verdere inligting in dié verband.

Klik hier vir die volledige lys van eiendomme

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.