Bal aan die rol gesit om staatsdiens se pensioenfondse te beskerm

geld spaar spaarvarkie pensioen

Argieffoto (Foto: Stevepb, Pixabay)

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het onderneem om oorweging te skenk aan ʼn voorstel van die VF Plus om deur wetgewing meganismes in plek te stel om die staatsdiens se pensioenfondse teen stroping te beskerm, sê Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Alberts het vandeesweek in die parlement aan Ramaphosa die probleme rondom openbare pensioenfondse geskets wat dit duidelik maak dat pensioenarisse rede het om te vrees dat hul fondse gestroop kan word soos wat met Transnet se fondse gebeur het.

Volgens Alberts is die staat se pensioenfonds nie onderhewig aan die Pensioenfondswet nie en word dit ook nie beskerm deur ʼn pensioenfondsberegtiger (ombudsman) soos in die geval van private fondse nie.

Hy het aan Ramaphosa gesê dit beteken dat die staat se pensioenarisse hulle tot regsaksies moet wend indien daar probleme ontstaan met hul fondse. Dit is ʼn duur en tydsame proses vir mense wat reeds geldelik swaar kry.

Alberts het na die situasie by Transnet in besonder verwys waar die fondse só gestroop is dat pensioenarisse moet oorleef op ʼn gemiddelde pensioen van R2 500 per maand wat minder is as die basiese minimum loon.

Ramaphosa het geantwoord dat dit ʼn goeie en positiewe voorstel is en het gevra dat Alberts ʼn skriftelike voorlegging oor die aangeleentheid doen sodat dit behoorlik geëvalueer kan word. Hy het gesê dit is belangrik dat pensioenarisse die gerustheid moet hê om te weet dat hul fonds goed geadministreer en beskerm word. Hy het ook gesê ondersoek moet gedoen word na die bedrag van R2 500 wat Transnet se pensioenarisse ontvang in terme van die fondse se eie bepalings.

“Die VF Plus is opgewonde oor die reaksie van die adjunkpresident. Ons is daarvan oortuig dat hy die erns van die saak insien en dat hy die VF Plus se skriftelike voorlegging gunstig sal oorweeg tot voordeel van elke persoon wat tans of in die toekoms afhanklik sal wees van ʼn staatspensioen.

“Indien die voorstelle tog nie aanvaar word nie, sal die VF Plus deur middel van ʼn privaatlid-wetsontwerp poog om die wet te verander,” het Alberts bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ansa van Venrooy ·

Wonder hoe lank gaan die saak van Transnet nog voortsloer? Wag hulle tot al die pensioenarisse uitgesterf het? Dis jaar in En jaar uit niks gebeur nie. Ons mans het hulle afgesloof vir Transnet. Wat n skande….. Transnet maak soos n volstruis En druk julle kop in grond. Julle is pateties. Gee ons net wat ons toekom.

Basjan ·

Ansa, dit is presies wat hulle besig is om te doen: Wag tot al die pensioenarisse afgesterf het. Daardie geld sal jy nie weer sien nie. Dit het lankal in die sakke van ander belanghebbendes beland. Ek persoonlik sal verheug wees as iemand my met konkrete bewyse verkeerd kan bewys.

Basjan ·

Geagte VF Plus, let asseblief daarop dat die adjunkpresident “onderneem het om oorweging te skenk” aan die VF Plus se voorstel. Moenie te gou bly word dat hy dit wel gaan doen nie. Baie van die ANC kaders loer vir ‘n lang tyd al na die Staatsdiens se pensioenfondse om ander projekte te finansier óf om hulself te verryk. So, loop dus baie katvoet asseblief.

Pieterlewismuts ·

Cyril vir president.

Die eerste ANC hooggeplaaste wat ruiter-lik erken dat die opposisie nie net uit n klomp idiote bestaan nie.

John ·

Cyril speel vir oorlewing. Enige geld waartoe die ANC toegang het is riskant. En wit ekonome was so ingenome met die plan dat pensioene nie meer geredelik uitbetaal word nie, maar bele word en net gedeeltelik beskikbaar is om glo ‘n beter oudag te verseker.Pensioentrekkers gaan verarm en uiteindelik saam met die hondjies wag vir krummels wat van die partytjietafels val… Hou op glo ‘n ‘jakkals’ se sluheid verdwyn sodra hy verhaar!

René Prinsloo ·

Los net asb ons hard verdiende geld uit. Dit is nie daar om ander sinkende staatsdepartemente te red en aanhou voer nie. Want sodra daar ‘n hand in is wat kan uitdeel gaan hulle nie verantwoordelikheid aanvaar vir hulle onregmatige bestedings nie.

Annette Stander ·

Moenie dink Ramaphosa gaan maanskyn en rose voorsien nie. Hy is ook maar net ANC en ‘n slapgat wat bang is om sy joppie te verloor. As hy president word gaan hy maar dieselfde doen wat Zuma doen. Net nie met die Guptas se hulp nie

MCH ·

Die formule vir uitbetaling van restant van pensioen van staatsamptenare wat sou bedank is reeds gewysig en laat hul met derduisende rand armer. Dat dit nie onderhewig is aan die pensioenfondswet nie, skep reeds n leemte wat uitgebuit gaan word. Dis nou soos om n heerlik voorbereide maaltyd voor iemand te sit wat uit n vas kom en Hom te vra om dit nie te eet nie, maar niks sal gebeur indien hy dit wel eet nie. Val weg kamerade!

Theuns ·

Wat het geword Van Spoornet se pensjoennarise? Gaan nou al 12 jaar aan en nog geen geld in sig????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.