Bal aan die rol vir Zuma om te waai

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Die ANC sal om 14:00 Dinsdag ʼn aankondiging maak oor pres. Jacob Zuma se toekoms.

Die mediakonferensie sou aanvanklik om 12:00 plaasgevind het, maar is uitgestel sodat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) genoeg tyd het om verslag te lewer aan partystrukture na aanleiding van Maandag se spesiale vergadering wat tot in die vroeë oggendure geduur het.

LP’s het intussen bevestig dat alle portefeuljekomitee-vergaderings vir Woensdagoggend uitgestel is vir ʼn belangrike vergadering. Daar sal na verwagting ʼn dringende vergadering van die ANC-koukus plaasvind. Daar is glo ook vroeër die oggend ʼn vergadering met die politieke partye se hoofswepe geskeduleer.

Ná afloop van die NUK se vergadering is berig dat Zuma 48 uur gegee is om te bedank of deur die party herroep te word. Volgens berigte wou Zuma nog ʼn kennistydperk van drie maande uitdien.

Cyril Ramaphosa, president van die ANC, en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het die vergadering kort ná 22:30 verlaat om aan Zuma die uitslag van die vergadering oor te dra. Hulle is kort voor middernag by Zuma se ampswoning weg waarna hulle na die St. George-hotel teruggekeer het en die vergadering tot omtrent 03:00 geduur het.

Intussen is Magashule en Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, Dinsdagoggend by Zuma se ampswoning in Pretoria gesien waar hulle glo ʼn brief oor sy herroeping gaan aflewer het.

Indien Zuma weier om te bedank, moet hy deur middel van ʼn mosie van wantroue of ʼn staat van beskuldiging verwyder word. Theo Venter, ʼn politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, het vroeër aan Maroela Media gesê dit is ʼn baie onwaarskynlike scenario, bloot omdat dit beheer van die situasie uit die ANC se hande sal neem. “Die ANC sal dan weinig ander keuse hê as om na die parlement te gaan waar ʼn staat van beskuldiging teen Zuma ingestel sal word.

“Die regerende party sal van die opposisiepartye se hulp gebruik moet maak om die president te verwyder. Zuma sal dan soos Simson van ouds die pilare om homself intrek; die politieke koste vir die ANC is te hoog en die opposisie sal te veel by só ʼn scenario baat vir hulle om dit toe te laat. Dit is teoreties en tegnies moontlik, maar polities hoogs onwaarskynlik, want dan verlaat Zuma sy amp regtig deur die agterdeur.”

Die EFF het Baleka Mbete, speaker van die parlement, intussen tot 13:00 vandag tyd gegee om die mosie van wantroue in Zuma na dié week te vervroeg. Die EFF het gesê hy sal die hof nader indien dit nie gebeur nie. Die mosie is tans vir 22 Februarie geskeduleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Genieve ·

Kom net 2uur asb die land is op van vergaderings en die presidentsie is papbroekig. Moenie die land nog verder in die duister hou nie.

Johannes ·

GAAAAAAP…. Rêrig? Maak dit in elk geval enigsens saak?

Callie ·

Hy gaan nie bedank nie. Sal geld op dit waag. Wat hy kan doen gaan bepaal word deur wat sy weermag vriende en veiligheidsmense in sy oor fluister. Die Zulu koning en almal daar is reg vir wat Zuma vra. Daar gaan te veel kaders seerkry as hy ingee. So, veg met alles tot jou bekikking of loop gevaar van jou troue volgelinge wat met haat teen jou draai en jou sal vernietig.

Willie ·

Dis n vernedering vir die land! Ek het n gevoel Zumpie gaan n geveg posit…

Vermeende ·

Hier kom n ding, n gewonde leeu is baie gevaarlik veral as hy nog honger is ook.
Die volgende paar weke gaan baie interesant wees soos die een die ander probeer troef, maar heellaas sal die vuil wasgoed gewas word oor wie het saam die apartheidregering gewerk.

Anoniem ·

Hy gaan sy pensioen op die spel plaas dat die ANC nie hom met ‘n Mosie van Wantroue sal laat gaan nie.

Susan Kruger ·

Aan alles kom n einde hieraan ook ons bid en vertrou dat dit vir die land n beter
toekoms sal aandui vir al sy mense daar is mense wat werklik gebuk gaan onder armoede
swaarkry en ellende in alle sektore van ons samelewing in alle rasse dit moet net beter gaan in hierdie land vir ons behoud en voorbestaan

Casper Labuschagne ·

Wat my onkant gevang het is dat Zuma se ondersteuningsbasis in die Premiersliga teen hom gedraai het. Een vir een rig hulle versoeke aan Zuma om uit te tree. Hier is die ding, hulle is net so korrup as Zuma, dit was altyd so dat sou Zuma val, dan val hulle self. Maar nou dink hulle sekerlik nie meer so nie en is hulle vol vertroue dat hulle sal oorleef. Daar kan net een antwoord hiervoor wees, daar was ‘n ooreenkoms aangegaan wat hulle toekoms sal verseker op dieselfde selfverrykende trant as voorheen. Duidelik is Ramaphosa meer gesteld op ‘n skynbeeld van eenheid in die ANC, as op ‘n werklike skoon regering waar al die vuil wasgoed saam met Zuma uitgegooi gaan word.

jean ·

Hoekom word alles altyd in die donker ure van die nag gedoen en besluit?

Johannes ·

Want hulle is gewoont aan “underground operate”. Hulle ken van donker werk.

Ore ·

Kan as aanvangskolwer vir die Proteas gekies word…….niemand kry hom uit nie!

Boet Fasie ·

Ja Ore ons het meer van sy soort nodig in die Protea span maar dalk sien ons hom nog kolf in die gevangenis span saam met xie Gupta broers

LHS ·

Wat ek nie verstaan nie is hoe hierdie lede wegkom met allerande klagtes teen hulle sonder om ondersoek, vervolg en skuldig bevind te word. Is n regstelsel dan net vir die gewone burgers?

Sam ·

Wat ‘n sukkel-sirkus! Stel ‘n wantroue mosie in en kry klaar. JZ kan nie op enige waardigheid aandring nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.