Balans is nodig in rasdebat by universiteite

Argieffoto

Argieffoto

Die eensydige klem op ras in universiteitsgesprekke oor transformasie is besig om die universiteitswese in die algemeen en studente in die besonder te benadeel.

Hierdie standpunt is by die Menseregtekommissie se sitting oor transformasie en rassisme by universiteite deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gestel.

Buys het gesê dat die Solidariteit Beweging enige vorm van rassisme verwerp, en bekommerd is oor die groeiende siening dat rassisme net ’n “wit” en veral Afrikanerprobleem is. Volgens hom haal beweerde rasvoorvalle waarby wit en Afrikaanse studente betrokke is dadelik die voorblaaie en stel die minister van hoër onderwys kommissies van ondersoeke na die voorvalle in. Nieteenstaande is die owerhede en die media in ’n staat van ontkenning oor die anti-Afrikaner-rassisme wat al hoe meer algemeen by universiteite voorkom. Buys het Langenhoven se vraag aangehaal waar hy gevra het waarom Afrikaners se politiek altyd rassisme is, maar ander politieke groepe se rassisme net politiek is.

Verteenwoordiging
Buys het gesê dat terwyl daar in Afrikanergeledere tereg voortdurend oor rassisme in eie geledere gedebatteer en selfondersoek gedoen word, is daar nie sprake van ’n debat in regeringskringe oor die groeiende rol wat ras in owerheidsbeleid by universiteite speel nie. Die werklikheid is dat begrippe soos “regstelling” en “menseregte” in die praktyk al hoe meer misbruik word om onreg en die miskenning van menseregte te probeer vergoeilik. Hier het Buys verwys na gevalle waar valse bewerings van wit rassisme misbruik word om Afrikaanssprekendes hul grondwetlike regte op moedertaalonderrig in die naam van transformasie te ontsê.

“Dit is noodsaaklik dat meer swart akademici opgelei en ontwikkel word. Terselfdertyd is dit nie ’n oplossing om in die naam van regstelling ’n plafon bo wit akademici se geleenthede te plaas deur rasteikens in te stel nie. Daarbenewens is dit onbillik om inklusiwiteit tot ‘verteenwoordigendheid’ te verskraal, omdat dit onder meer tot die einde van Afrikaans as volwaardige akademiese taal gaan lei. Al die universiteite saam moet verteenwoordigend van die bevolking wees, en nie elke kampus nie, omdat so ’n beleid ‘eendersheid’ onder die vaandel van ‘diversiteit’ gaan beteken,” het Buys gesê.

Afrikaans en Afrikaners
Volgens Buys word die rasgemotiveerde pogings om universiteite te transformeer soms nie erken of raakgesien nie, omdat mense net na taal kyk. Die meeste kampusbesture wil egter nie minder Afrikaans op kampusse hoor nie, hulle wil minder Afrikaners op die kampusse sien. Die uiteinde van rastransformasie is dat Afrikaans as akademiese taal uitfaseer sal word.

Hy het ook die siening dat die studentelewe by histories Afrikaanse universiteite afgeskaf moet word omdat dit ’n uitdrukking van Afrikanerkultuur is as anti-Afrikaner-rassisme bestempel. “Deelname aan die studentelewe is noodsaaklik vir die algemene vorming van studente en is ’n onmisbare deel van die universiteitservaring wat studente nie ontsê mag word nie.”

Buys se standpunt is dat die grootste probleem by universiteite nie Afrikaans of wit rassisme is nie, maar die struggle-kultuur wat by sekere kampusse steeds studente se studies en lewenskanse benadeel. Hy het gewaarsku dat die voortdurende aanvalle op Afrikaanse studente en kampusse soms die afmetings van ’n heksejag aanneem, wat net tot verdere polarisasie kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

am ·

Die ironie is dat die swart doseer personeel in baie gevalle uitlanders is en nie SA swart persone nie. Is dit regverdig teen enige Suid Afrikaanse burger?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.