Balfour-plaasmoord: ‘Jy het ʼn hele gesin uitgewis’

Amos Mthembu Maandag in die hooggeregshof in Delmas. Foto: Landi Slatter/Maroela Media

Die twee mans wat skuldig bevind is in verband met die gru-Balfour-plaasmoord verlede jaar waartydens ʼn bejaarde egpaar, hul seun en sy vrou doodgeskiet is, het vandag in die hooggeregshof in Delmas hul lot gehoor.

Waarnemende regter Tule-Tu Tonjeni het Amos Mthembu (29) lewenslange tronkstraf opgelê vir drie van die moorde sowel as die verkragtingsklag. Hy is vir die ander moord tot 15 jaar tronkstraf gevonnis sowel as 15 jaar tronkstraf op die aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en drie jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Mthembu het in sy pleitverduideliking erken dat hy Gert Smuts (78), sy vrou, Paulina, (71), hul seun, Louis (47), en skoondogter, Belinda (42), in Februarie verlede jaar op die plaas Modderbult in die Balfour-omgewing in Mpumalanga vermoor het.

Louis en Belinda Smuts.

Die hof het gehoor Mthembu het vir Louis gevra of hy geld by hom kon leen, maar Louis het gesê hy het nie geld om vir hom te leen nie. Mthembu het in sy pleitverduideliking gesê hy het gedink Louis hét geld, maar wou dit net nie vir hom leen nie.

Hy het aan die hof vertel hoe hy eers vir Paulina vermoor het waarna hy vir Gert buite die huis doodgeskiet het. Hy het daarna vir Louis vermoor en Belinda vasgebind voordat hy later die aand teruggekeer en haar doodgeskiet het.

Mthembu het in sy pleitverduideliking beweer hy het seksuele omgang met Paulina gehad, dat dit met haar toestemming was en dat hy haar nie verkrag het nie. Die hof het egter beslis dat sy weergawe nie moontlik waar kan wees nie en dus is hy aan verkragting skuldig bevind.

Prince Mngomezulu tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media

Prince Mngomezulu (27), wat een van die skootrekenaars wat tydens die moorde gesteel is by Mthembu gekry het, is vroeër skuldig bevind op aanklag van die besit van gesteelde goedere en is Maandag tot 18 maande korrektiewe toesig gevonnis.

Tonjeni het gesê elke mens het die reg om veilig te voel en vry te wees ten minste binne hul eie huis. “Jy het dit van hierdie mense kom wegneem sonder om in ag te neem wat dit aan hulle kinders en die Balfour-gemeenskap gaan doen. Jy het ʼn hele gesin uitgewis net omdat jy nie met hulle saamgestem het nie. Dit is baie ernstige oortredings en die samelewing kan dit nie bekostig om mense soos jy in ons midde te hê nie.”

Die hof het Maandag voor die vonnisoplegging gehoor Mthembu het vorige oortredings begaan. Mngomezulu moes ook eintlik vandag in die Balfour-streekhof verskyn het op aanklag van roof.

Die huis waar die moorde plaasgevind het. Foto: Nantes Kelder.

Adv. Eric Sihlangu, staatsaanklaer, het gesê daar is ʼn versoek ingedien dat Mngomezulu onder korrektiewe toesig geplaas sal word en ʼn verslag is ook daaroor ingedien. Gift Dlamini, korrektiewe beampte van Standerton, het getuig hy stel voor dat daar agt kontaksessies gehou sal word met Mngomezulu, sou hy vrygelaat word, vier waartydens ʼn maatskaplike werker hom sal besoek en vier waar hy hulle by die polisiestasie in Balfour moet besoek.

Met betrekking tot Mthembu het die hof vandag ook sy voorvonnisverslag en slagofferimpakverslae van familie van die oorledenes ontvang.

Amos Mthembu (regs) en Prince Mngomezulu Maandag in die hooggeregshof in Delmas. Foto: Maroela Media

Mthembu se regshulpprokureur het aangevoer dat sy kliënt die hof ten volle in sy vertroue geneem en skuld beken het. Hy het ook ʼn sewejarige seun vir wie hy glo verantwoordelik is.

“Hy is jammer vir wat hy gedoen het. Ek kan nie voor die hof staan en maak asof die oortredings nie ernstig was nie; niemand kan iemand se lewe teruggee as dit eers geneem is nie. Maar ek glo die hof kan steeds genade betoon.”

Sihlangu het teruggekap en ter strafverswaring gesê Mthembu was bewus van die gesin se bewegings en het die moord beplan, asook geweet van sy slagoffers sou hulle nie teen hom kon verdedig nie. “Daar is geen rede op grond waarvan die hof hoef af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnisse nie.”

Lees alle vorige berigte oor die Balfour-plaasmoord op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Theresa ·

Geregtigheid.
Wanneer mens koelbloedig moorde beplan, kan jy sekerlik ook in agneem dat jy ‘n kind het om voor te sorg.
Dit was duidelik nie vir hom ‘n prioriteit nie.

Cherokee ·

‘n Hele klomp jare se tronstraf en die regter klink asof hy hom werklik wil straf vir sy booshede, maar rond dit dan af deur te sê die strawwe sal gelyklopend uitgedien word. Waarom niemand wat in die posisie is om daarteen kapsie te maak, dit ooit gedoen het nie, is vreemd. Die politieke verteenwoordigers in parlement behoort dit onder bespreking te bring.

Christa ·

Plaasmoorde? Watter plaasmoorde – Cyril Ramaphosa weet dan niks hiervan nie.

CJ ·

Waar is die betogers by hierdie hofsaak? Hierdie onskuldige vrou is ook verkrag – en hulle almal is VERMOOR!!

Andries ·

Dis ‘n goeie vraag, kry mos net ‘n rasse kleur as dit van hulle mense is wat deur blankes te na gekom is. Misdaad is misdaad en alle rasse moet daarteen opstaan ongeag velkleur wat deur misdaad te na gekom is.

Jan ·

Hoe kan die vonnisse gelyklopend uitgedien word?
Hy moet sy hele lewe in die tronk sit.

marous ·

En hy tokkel met sy vingers , met ‘n grinnik in sy oee .

Hendrik ·

Ek wonder soms tot watter mate “tradisionele genesers” by hierdie verskriklike dade betrokke is. Het die skobbejak gaan moetie kry voor sy afgryslike dade? In so ‘n geval het die “tradisionele geneser” mos van die beplande aanval geweet en is hy medepligtig. Ons verskillende kulture leef in verskillende wêrelde!

pietersielie ·

wat van pierre de necker se moordenaars? na my wete loop díé 20+ nog los en dit terwyl polisielede die moord gestaan en kyk het en niks gedoen het om dit te keer nie. dit het sy familie ook vernietig. daarom sit sy broer in die tronk omdat hy hulle pa graf toe gestuur het

Fielies ·

Lekker, nog ietsie vir die belasting betaler om te voed en bersies koop.

Bokram ·

Ek wonder of Cyril nuus lees,dan moes hy van die moorde gelees het,hy skaam hom seker dood vir homself wat so blatant lieg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.