Balieraad dalk ontbind

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Solidariteit se beroepsgilde vir professionele regslui het Woensdag met kommer kennis geneem dat die Pretoriase balieraad moontlik sy deure gaan sluit weens ʼn finansiële krisis. Die balieraad is een van die oudste verenigings vir advokate.

Dié balieraad is aan die einde van die 19de eeu in die lewe geroep en het twee wêreldoorloë en heelwat politieke onrus oorleef. Só sê Henru Kruger, sektorhoof vir professionele dienste by Solidariteit.

“Die balieraad het ʼn lang geskiedenis en tradisies wat al vir baie jare met hom saamkom. Een van hierdie tradisies is dat lede altyd gereed is om ʼn ander lid by te staan. Dit is nie ongewoon dat ʼn junior lid van die balieraad ʼn senior lid nader vir advies oor enige probleem wat hy of sy in die praktyk teëkom nie. Om ʼn lid van die balie te word maak dus die deur tot die kollektiewe kennis, wysheid en ervaring van al die lede van die balie vir ʼn opkomende advokaat oop,” sê Kruger.

Die Pretoriase balieraad was histories die instelling waardeur advokate hul eie beroep gereguleer het. Dié funksie is kragtens die nuwe Wet op Regspraktyk, wet 28 van 2014, tot ʼn groot mate deur die Regspraktisynsraad oorgeneem.

Kruger sê die balieraad handhaaf egter steeds ʼn streng etiese gedragskode en professionele integriteit waaraan alle advokate moet voldoen. “Dit is ʼn ongelooflik kragtige voorbeeld van ʼn beroep wat van die grond af opwaarts gereguleer word deur diegene wat elke dag die werk doen. Die uitnemende resultate spreek ook vir hulself,” sê Kruger.

Volgens Solidariteit se regsgilde sal hy hom daarvoor beywer om advokate by te staan sodat hulle kan voortbou op die trotse geskiedenis van die advokatuur en om ʼn sekere toekoms vir advokate te verseker.

“Dit is noodsaaklik dat advokate vrywillig kan assosieer en hulself kan reguleer deur mekaar te ondersteun, standaarde te handhaaf en kennis, wysheid en ervaring aan nuwelinge oor te dra,” sê Kruger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elsa ·

So n belangrike instansie mag onder geen omstandighede sluit.

Magriet ·

Dit is kommerwekkend dat die mees senior wetsgeleerdes nie kan oorleef nie. Is dit wat vir klein plattelandse praktyke ook voorlê?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.