Balieraad kry Zuma-stigting voor stok

Oudpres. Jacob Zuma tydens sy verskyning vroeër vandeesmaand voor die kommissie. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Die algemene balieraad van Suid-Afrika het uitgevaar teen die Zuma-stigting nadat die stigting die senior prokureur Tembeka Ngcukaitobi daarvan beskuldig het dat hy die Zondo-kommissie “onregmatig gehelp” het om hofstappe teen die oudpresident te doen nadat dié geweier het om voor die kommissie te getuig.

In ʼn skerp bewoorde verklaring sê die balieraad die stigting het ʼn aanval op die oppergesag van die reg self geloods, terwyl Zuma – die man wat die stigting verdedig – dit duidelik gestel het dat hy eerder in die tronk sal gaan sit as om gehoor te gee aan ʼn regmatige dagvaarding.

“Daar is geen regverdiging vir die ongegronde en ongebreidelde aanvalle op die kommissie of sy werkers, óf die regslui wat deelneem aan die verrigtinge nie,” het die balieraad gesê.

“Gegewe dat die JG Zuma-stigting voorts versuim het om enige ander regmatige grondslag uit te wys wat moontlik tot sy bevindings kon aanleiding gee, veroordeel die balieraad dit as ʼn gevaarlike, onbillike en siniese aanval op die oppergesag van die reg.”

Die verklaring volg sowat ʼn week nadat die stigting ʼn verklaring uitgereik het – op die dag wat Zuma en sy regspan uit die kommissie gestorm het – waarin aangevoer word dat ʼn konsultasie tussen Ngcukaitobi en Zondo in die regter se kantoor onbehoorlik was.

Die stigting het gesê die gerespekteerde advokaat, wat dikwels die EFF verteenwoordig, het die kommissie onregmatig gehelp terwyl dié saamsweer teen Zuma.

Zondo het vroeër adv. Muzi Sikhakhane se aansoek namens Zuma, dat Zondo hom aan die kommissie onttrek, van die hand gewys.

Sikhakhane het net-net nié die adjunkhoofregter van vooroordeel beskuldig nie, maar het gesuggereer dat hy getuies gelei het wat die oudpresident in hul getuienis betrek het, eerder as om net na hulle te luister. Dit het volgens Zuma se regspan bygedra tot die oudpresident se vrese dat sy verskyning voor die kommissie soortgelyk sal wees aan ʼn lam wat ter slagting gelei word.

Zondo het later aangekondig dat ʼn nuwe dagvaarding uitgereik sal word om Zuma te dwing om voor die kommissie te verskyn, terwyl ʼn klag ook by die polisie teen hom aanhangig gemaak sal word. Die kommissie gaan ook die konstitusionele hof nader om die oudpresident te dwing om aan die dagvaarding gehoor te gee.

Indien dit slaag, sal dit beteken Zuma kan vir minagting van die hof in hegtenis geneem word as hy nie opdaag nie.

Die kommissie se sekretariaat het Ngcukaitobi op die hoogte gebring van dokumente en die hantering van dié hofaansoek namens die kommissie.

Ngcukaitobi kon nie vir kommentaar bereik word nie, maar luidens berigte is hy aanlyn geteister sedert hy die opdrag aanvaar het.

Die balieraad het gesê die stigting se aanval op ʼn lid van die regsprofessie is selfs meer laakbaar gegewe die voormalige president se houding tot sy eie wetlike verantwoordelikhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

domheks ·

Dit wil voorkom of zuma se broek nou te begin bewe. Zuma jy mors ons belasting geld met jou gesloer. Jy moes al LANKAL in ‘n oranje pakkie gewees het. Jy wag mos vir jou dag in die hof….. nou word jy bang vir Zondo, wat ‘n grap!!!!!

koos10 ·

Hy (ek bedoel sy regspan, hy het nie die vermoë om dit self uit te dink nie) gaan weer ‘n skuiwergat kry. Al wat regter en hof is is bang vir hom, dis hoekom daar 100de persverklarings uitgereik word en geen aksie is nie. Zuma en Malema lag vir die howe!

Dup ·

As “hulle” iets teen jou het of nie van jou hou nie dan vat hulle jou uit of hulle val jou integriteit aan.

Die Goodwoodianer ·

Wielie-wielie-walie, iemand was geraps deur die balie…

Dup ·

Ek het (verkeerdelik) gedink die Balieraad is deur die regering aangestel om n sensus te doen van alle putlatrines in Suid Afrika…..

Moedeloos ·

Toe Zumpie die geleentheid gehad het om eerste voor Zondo te kon getuig wou hy nie. Nou dat hy die laaste een is wat moet getuig wil hy ook nie. Geen wonder hy is soos n kat op n warm plaat nie.

Chris ·

Zummy se dag sal kom. Hy sal sy kans kry om te verduidelik waarom hy als gedoen het wat hy nie moes nie. Nkandla sal verkoop moet word om sy skuld te vereffen terwyl hy sy orange suite dra

Cecilia ·

Ja sekere mense is verhewe bo d wet. N dagvaardiging is klaar n opdrag om te verskyn. As hy nie verskyn nie. Laat d verhoor aangaan sonder hom. Hy wil skynbaar nie deel he aan sy verhoor nie.

Nico ·

Wie gaan verantwoordelik gehou word vir die verkwsiting van die belasting geld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.