Balju gee ampsmotor kort ná beslaglegging weer terug

Maripe Mangena, burgemeester van die groter Tzaneen-munisipaliteit. Foto: Facebook

Maripe Mangena, burgemeester van die groter Tzaneen-munisipaliteit. Foto: Facebook

Die balju het Woensdagoggend ten aanskoue van verslaggewers op Maripe Mangena, burgemeester van Tzaneen in Limpopo, se luukse Mercedez-Benz GLE 350 ter waarde van R1,2 miljoen beslag gelê.

Die beslaglegging is deur Expetera geïnisieer, ʼn diensverskaffer aan wie die munisipaliteit R110 000 geskuld het. Die maatskappy het die hof gevra om op die munisipaliteit se lopende en vaste bates beslag te lê nadat hy nie betaal is vir dienste wat gelewer is nie.

Die voertuig was egter net ʼn kort ruk in die balju se besit voordat dit weer aan die burgemeester terugbesorg is. Neville Ndlala, die munisipale woordvoerder, het bevestig dat die voertuig teruggebring is nadat die munisipaliteit sy uitstaande skuld aan Expetera betaal het.

“Die voertuig is terug. Daar was ʼn kwessie met ʼn diensverskaffer, maar ons het sedertdien die skuld betaal. Die balju het vandag eers met die diensverskaffer se faktuur hier aangekom toe hy op die munisipaliteit se bates beslag gelê het en dit wys net dat hierdie aksie georkestreer was om ons te verneder,” het Ndlala gesê.

Hy het gesê die burgemeester se voertuig word as ʼn politieke instrument deur opposisiepartye in die munisipaliteit gebruik om die leierskap in oneer te bring. Die Tzaneen-munisipaliteit word deur die ANC gelei. “Daar is drie ander voertuie met munisipale plakkers op, maar die balju het gekies om op die burgemeester se motor beslag te lê wat ongemerk is. Dit is politiek. Ons weet die DA sit hier agter.”

Ndlala het ook opposisiepartye daarvan beskuldig dat hulle inligting versprei dat die munisipaliteit diep in die skuld is. “Die munisipaliteit se finansies is heeltemal in orde. Ons verskaf basiese dienste aan die gemeenskap, ons vorder rekeninge in en ons kry toelae van die staat. Sedert Junie het ons ʼn gesonde bankbalans van R54 miljoen gehad. Ons het nog nooit versuim om ons diensverskaffers te betaal nie,” het hy gesê.

Die munisipaliteit het vroeër vandeesmaand R1,6 miljoen bestee om voertuie vir die nuutverkose burgemeester en die speaker van die raad aan te koop, ten spyte daarvan dat die munisipaliteit meer as R20 miljoen aan krediteure skuld. Ndlala het ten tyde van die aankope gesê ʼn nuwe voertuig vir die burgemeester was noodsaaklik aangesien die vorige burgemeester se voertuig in 2011 aangekoop is en meer as 150 000 km afgelê het, wat beteken die voertuig was nie meer deel van ʼn diensplan nie.

Hy het ook gesê die munisipaliteit het gekies om ʼn sportnutsvoertuig aan te koop aangesien die burgemeester dikwels na bergagtige landelike gebiede moes reis om met gemeenskappe in gesprek te tree. Ndlala het beklemtoon dat die handboek van die Suid-Afrikaanse vereniging van plaaslike regerings (Salga) daarvoor voorsiening maak dat ʼn burgemeester se voertuig vervang word wanneer dit meer as 150 000 km afgelê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Polities Korrek ·

Enige raad waar die [sosialistiese] ANC aan bewind is, is spandabelrigheid aan die orde van die dag. “Kapitalistiese” geld word misbruik om die “Fat cats” gelukkig te hou en hul honger na aansien en uitspattigheid, ten koste van die armes uit eie geledere, te versadig. Deur vir die kiesers te lieg, bly hulle aan bewind en ry die soustrein tot in die grond in totdat die betrokke rade bankrot is; dan word hulle onder administrasie geplaas deur die “onregverdige” stelsel van kapitalisme wat hulle weer uit die gemors moet probeer kry. Mag Siener se voorspellings waar word dat ‘n nuwe dag spoedig aan die horison sal verskyn!

christine ·

Die Balju Bloemfontein het ook op sover ek weet ten minste vyf voertuie plus n kombe beslag gele

Maria ·

Defnitief nie ñ DA burgermeester nie. Animal Farm. All animals are equal but some are more equal…

SPEEDGUARD ·

Is dit nie ‘n slegte beeld om die agbare burgermeester met ‘n ketting om sy nek uit te beeld nie?

Cherokee ·

Wat laat jou dink ANC-burgem,eesters verdien om hul beelde deur Afrikaanse koerante (veral) gepolitoer te kry? Sê daardie lag nie vir jou dat hy graag so gesien wil word nie?

Cherokee ·

Die handboek mag voorsiening maak daarvoor dat ‘n voertuig na 150 000 kilos vervang moet word maar die daarop volgende vraag behoort te wees of dieselfde handboek ook R1¼m voertuie voorskryf aan burgemeesters van munisipaliteite wat nie hul skuld kan betaal nie.

MM ·

Hulle sal nie beslag as die regte proses gevolg is nie. So moenie se dat julle nie geweet het daarvan nie is ‘n bog storie. Wat die die ander partye daarmee te doen. Julle kry mos elke maand ‘n faktuur van julle verskaffer af.

Lance ·

Natuurlik weer weke geneem om die diensverskaffer te betaal en dit net gelos ….soos alles net gelos word ….goedso bly oor die beslaglegging …nou gee hy die DA die skuld …en as dit hulle is het hulle minste iets probeer doen

Ander Koos ·

Hierdie woordvoerder praat klomp snert en dig soos gewoonlik die skuld aan ander toe.

Theresa M ·

Die mentaliteit van sommige van die persone gaan my verstand te bowe. ?

Daan ·

Ek wil net weet waar kry mens so vinnig so baie geld, ek wil my skuldeisers ook graag betaal

Jordaan ·

So die arme skuldeisers kan nie hulle geld kry nie en moet darsonder klaarkom, maar moet net nie aan die burgemeester se luukse wiele raak nie! Darem benede hom om met gewone motor te moet ry :-)

neelsie ·

As jou lewe die dag om n duur motor draai, is jy op die afdraande ….sonder brieke!!

Amanda ·

My pa was baie jare die stadsklerk van Tzaneen en toe was dit die mees welaf munisipaliteit in die noorde, die parke en sypaadjies was beeldskoon – ek dink hy draai om en om in sy graf met wat nou in sy geliefde Tzaneen aangaan. Hy het sy lewe gewei aan Tzaneen :'(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.