Balju klop binnekort aan Molefe se deur

Brian Molefe. (Foto: ANA)

Solidariteit se regspan het Vrydag ʼn dringende opdrag aan die balju gegee om voort te gaan met die beslaglegging op voormalige Eskom-hoof Brian Molefe se eiendom om uitstaande regskoste van sowat R600 000 in te vorder.

Molefe het die afgelope week slegs R100 000 van R700 000 in regskoste betaal wat hy ingevolge ʼn hofbevel aan die organisasie verskuldig is.

Maroela Media het vroeër berig Molefe het vroeër vandeesmaand vir 30 dae uitstel gevra. Solidariteit het egter aangevoer dat 30 dae onnodig lank is om die geld terug te betaal en dat die voormalige hoof van Eskom slegs sewe dae het om die geld oor te betaal.

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, het gesê die balju is dus versoek om voort te gaan met die uitvoering van die beslaglegging op Molefe se goedere by sy huis in Cornwall Estate in Pretoria. Die goedere sal dan op ʼn openbare veiling verkoop word totdat Molefe se skuld vereffen is.

“Solidariteit sal nie ophou totdat Molefe elke sent terugbetaal het nie. Hierdie daadwerklike stappe dien as waarskuwing aan ander belastingplunderaars. Hul dae van wetteloosheid is getel,” het Van der Bijl in ʼn verklaring gesê.

Luidens die verklaring het die Eskom-pensioenfonds ook intussen aan Solidariteit gesê indien hulle nie die sowat R10 miljoen wat Molefe aan die fonds verskuldig is, ontvang nie, sal hulle ook regstappe instel om die geld van Molefe te verhaal.

Solidariteit wag steeds op die Nasionale Vervolgingsgesag se bevestiging of hulle met die vervolging van Molefe sal voortgaan. Indien nie, sal Solidariteit advokaat Gerrie Nel van AfriForum inspan om Molefe privaat te vervolg.

“Dit handel oor verantwoordbaarheid. Belastingplunderaars sal nou op hul knieë gedwing word om te boet vir hul wetteloosheid. Dit is nie staatsgeld wat roekeloos vermors word nie. Dit is elke Suid-Afrikaanse belastingbetaler se swaarverdiende belastinggeld en daarom sal ons aanhou om vir geregtigheid te veg,” het Van der Bijl gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Deloris ·

Mooi Soludariteit…. Maak n goeie voorbeeld van hom en ons hoop daar is Ander wat volg.

LHS ·

Nou hoekom is die regtige groot kriminele nog nooit krimineel aangekla en vervolg nie. Ek glo uit die verkope van Nkandla sal n redelike gedeelte van onregmatige finansiele voordeel terugbetaal kan word.

Adrian ·

Eet hom van alles wat hy het elke bord vurk bord en koppie dan…. sy motors bote en als laat hy loop of per fiets werk toe ry ….. mooi so so

leser ·

en intussen het hy van sy goed oorgedra na vriende, familie se name en trusts, wat dan, geen geld om sy skuld te vereffen
dan lag hy al die pad

marous ·

As hy nie betaal nie of niks uitwys nie , dan kan die balju beslag le . Begin by die trouring en horlosie . Die res gaan sekerlik aan een of ander trust behoort.

Gert van Wierdapark ·

Hoog Tyd dat die “fat cats” se ballonne geprik word!!

Martie Visagie ·

Dankie dankie en nogmaals dankie ek bid God-drie -enig se beskerming oor julle,moet nooit ophou vir ons veg nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.