Balju verhinder om beslag te lê op ANC-bates

Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad. (Foto: Google Earth)

Die regerende party was amper sommige van sy kantoortoerusting kwyt toe die balju vroeg Maandagoggend by die ANC se hoofkantoor, bekend as Luthuli-huis, opgedaag het.

Die balju wou op sommige van die ANC se bates beslag lê om ʼn hofbevel na te kom.

Die hoogste hof van appèl het onlangs die ANC verplig om meer as R100 miljoen aan ʼn KwaZulu-Natalse bemarkingsmaatskappy te betaal vir verkiesingsbaniere wat hy in 2019 laat druk het.

Die maatskappy, Ezulweni Investments, het dadelik betaling van die ANC geëis, maar die party het gesê hy beplan om teen die uitspraak te appelleer.

Die balju het nietemin Maandagoggend by die Johannesburgse kantoor opgedaag en glo gepoog om op onder meer stoele, mikrogolfoonde en yskaste beslag te lê.

Luidens berigte is die balju egter verhinder om met die beslaglegging voort te gaan nadat ANC-lede geweier het dat hulle die gebou binnegaan.

Mahlengi Bhengu-Motsiri, woordvoerder van die ANC, sê die balju moes nooit eens by Luthuli-huis opgedaag het nie.

“Ons is nie seker nie waarom só ʼn spektakel gemaak is terwyl die ANC reeds aangedui het dat hy die Konstitusionele Hof gaan nader oor die saak.”

Volgens Bhengu-Motsiri het die party aan Ezulweni se prokureurs dit duidelik gestel dat die beslaglegging nie kan plaasvind as verdere appèl aangeteken word nie.

“Ons kan net aflei dat dit ʼn poging is om ʼn spektakel te veroorsaak wat nie nodig is nie,” het sy gesê.

Die balju het mondeliks om verskoning gevra vir Maandag se gebeure. Die ANC het egter ʼn versoek ingedien dat die balju formeel om verskoning vra.

“Hierdie was ʼn ernstige gebeurtenis en is iets wat nie moes gebeur het nie.”

Bhengu-Motsiri sê die ANC nader die Konstitusionele Hof omdat dit sy grondwetlike reg is, en nie omdat hy in die verknorsing is nie.

“Die ANC gaan nie gelikwideer word nie, en ek is oortuig daarvan op grond van ons jongste finansiële verslae.”

Sy het ook daarop gewys dat die ANC sedert die begin van die jaar al sy finansiële verpligtinge aan sy werknemers en krediteure nagekom het.

“Ons bly daartoe verbind om alle uitstaande skuld af te betaal sodra die nodige reëlings gemaak is,” het sy gesê.

Met betrekking tot die Ezulweni-saak het die ANC gesê daar is verskeie verkrygingsprosesse en beleidsbepalings wat skynbaar nie nagekom is nie, wat dui op moontlike korrupsie en bedrog wat gepleeg is toe die ooreenkoms met die maatskappy aangegaan is.

“Ons glo dus dat dit nodig is om alle wettige weë te volg om die twyfelagtige optrede van die onlangse verlede om te keer.”

EWN berig dat die ANC selfs so ver gegaan het as om sommige van sy lede strafregtelik te laat vervolg vir hulle beweerde betrokkenheid by die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Marous ·

Die Balju tree op in opdrag van die hof. As hy verhinder word het hy die volste reg om SELF diegene te arresteer . Hierdie spul maak ‘n bespotting van die howe en hul kom daarmee weg . As die balju in besit was van ‘n lasbrief uitgereik deur die hof hoef hy vir niemand om verskoning te vra nie . Diegene wat hom verhinder het in die uitvoering van sy pligte moet hof toe. Klaar.

Suzette ·

Hierdie spul doen net wat hulle wil – kom niks oor nie – daarom gaan dit net erger word.

Wondermaarnet ·

So die ANC verontagsaam ‘n hofbevel en dit word maar so aanvaar.

Papsak ·

Ja ek stem balju het sy dinge om te doen en mag nie verhinder word nie stap in en doen julle ding wys die anc hulle is nie onaantouchbaar nie stap in en vat !!!!!!?

Piet 6 ·

Waar kom hulle geld vandaan? Hulle verklaar dan basies geen skenkings nie!

Martie Smartie ·

Die arme ANC dink as hulle hul voornemens publiek bekend maak om iets te doen, moet al wat ‘n hofbevel is skielik terug gehou word. Die balju behoort klagte van regsverydeling in te dien.

Jack ·

Hierdie mense doen net wat hulle wil.Dit is asof die reg bang is vir die ANC.Was dit ek en jy was ons dadelik gearesteer.

skurweberg ·

As eiereg meer as geregtigheid begin tel is dit verby met die regstelsel in SA. Neem kennis

Jan Jacobs ·

Lekker man hulle moet maar vir Swede vra vir geld, die klomp het hulle lekker ingestop in die apartheid jare.

koos10 ·

ANC weer verhewe bo die wet? Kom ek gee bietjie gratis regsasvies. Enige hofbevel bly van krag totdat dit IN ‘n HOER HOF BETWIS WORD. As ek van plan is om my belasting te betaal, het ek dit mos nie betaal nie. Duidelik was hier politieke inmengery.

Manie ·

Hier is 2 moontlike scenario’s. 1. Indien die ANC reeds skriftelik aangedui het dat hulle gaan appelleer, kon die balju nie ‘n beslaglegging doen nie, want die konstitusinele hof het nog nie ‘n finale uitspraak gelewer nie. 2. Indien die ANC nog nie skriftelik aangedui het dat hulle gaan appelleer nie, het hulle ‘n hofbevel verontagsaam en die balju verhinder om sy pligte uit te voer, mits die eiser wel ‘n hofbevel vir beslaglegging bekom het.

JohanR ·

Haai ek kry soe lekker. Kan die balju nie sommer Lithuli Huis self vat, dan kan die ANC daar van ‘n straat hoek AF werk? Ek voel deesdae rerig minder as niks vir die ANC!

Bolandse Nooi ·

ANC = “The Untouchables”. Mog 2024 gee dat ons van hierdie gedoentes ontslae raak. Ek had soveel hoop gehad dat die 2020-pes ons sou help … maar wag, laat ek maar eerder my gedagtes vir myself hou. Netnou is ek die tannie in die familie van wie niemand hou nie (ek is waarskynlik).

Stofdonkie ·

En so wys die anc net weer dat die howe aan hulle behoort en hulle vrygestel is van enige vervolging.

Peter ·

You’ve made yourself a spectacle, so called ruling party, you are not above the law, even though that is what you believe and practise

Johann ·

Net weer bewys van die disfunksionele vlak van arrogansie wat die ANC mee dink en doen. Self verhef bo wetgewing en vervolging. En dit help baie dat hulle hoof kader soveel sê het oor wie in watter howe dien.Kern Korrup.

Jakes ·

Waarom betaal die agbare president nie die party se skuld nie? Hy het dan miljoene. As jy in n party is wat besmet is met mense met langvingers dan is die kanse skraal dat jy selfs n 10 sent stuk daar sal opspoor. Ek is bereid om die ANC R2 te leen.

christo ·

Die Konstitusionele Hof se integriteit sal nou behoorlik getoets word.

Schalk ·

Ek wil net weet wie stupid genoeg sal wees om vir die ANC plakate te druk vir die 2024 verkiesing. Vra maar vir geld vooruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.