Ballade-nooi verloof aan Engelsman

Christia Visser en haar verloofde, Thomas Webb. (Foto: Instagram)

“In dié bedryf is dit nogal moeilik om iemand te vind. Ek het eintlik al vrede daarmee gemaak dat dit my nie beskore is nie.”

Die aktrise Christia Visser het nooit gedink haar en haar kinderjare-vriend se paaie sou ooit weer kruis nie, maar toe Thomas Webb ses jaar gelede van die Rand af terugtrek Kaap toe, het hulle meer van mekaar begin sien. Dit is egter eers drie maande gelede dat hulle besluit het om in ʼn verhouding te wees.

Nou is dié twee verloof, het Visser aan Maroela Media bevestig.

Visser het Saterdag hulle verlowing op Instagram aangekondig hoewel die paartjie al op 14 April verloof geraak het. “Ons wou dit eers bietjie geniet,” verduidelik sy.

Webb, ʼn Engelsman, het die groot vraag op Gansbaai se hawemuur gevra, verklap sy.

“Ons het natuurlik al oor ons toekoms saam gepraat, maar ek het dit glad nie op daardie dag verwag nie. Hy het dit baie goed weggesteek.”

Sy vertel dat sy Webb ken vanaf sewejarige ouderdom, maar dat hulle in hoërskool kontak verloor het toe sy familie Gauteng toe getrek het. Dié twee se ouers is jare lank al huisvriende. “Ons ouers is ontsaglik bly om ons onthalwe dat ons verloof is. My ma kan nie ophou glimlag nie.

“Dit is verskriklik lekker om verloof te wees. ʼn Mens bid altyd dat jy nie verby Die Een kyk nie, maar Thomas was nog altyd daar. Dit is rêrig so dat jy weet wanneer jy die regte persoon ontmoet het.”

Visser is veral bekend vir haar rol as Lily in die kykNET-dramareeks Die Boekklub en as die jong Lena in die 2015-weergawe van die rolprent Ballade vir ʼn Enkeling. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

S ·

Baie geluk julle twee. Pragtige paartjie en het alreeds in die jare julle fondament saam met mekaar gebou in geloof en liefde. Mag julle baie gelukkig saam wees. Bou jul liefde altyd om God met Hom in jul harte en lewens en julle sal n wonderlike leeftyd saam he. Liefde vir Altyd ?

Skerpioen ·

Baie geluk julle 2. Mag julle ‘n baie geseende huwelik hê. Geniet elke oomblik van die verloofde lewe. Geniet die beplanning van julle troudag.

Nadia ·

Julle sal seker nooit die comment lees nie, maar ek wil net se baie baie geluk! maar… moet asb nooit ophou in flieks speel nie… sepies… enige iets ek love jou werk. Mag God julle seen en mag julle altyd gelukkig saam wees,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.