Ballistiese verslag klink stroper se doppie in hof

Die Skukuza-streekshof het Lindelani Lucky Mdletshe (37) tot 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis. (Foto: NVG)

ʼn Man wat deurgaans sy onskuld bepleit het nadat hy van stropery-verwante oortredings aangekla is, is 12 jaar tronkstraf opgelê nadat ballistiese toetse die vuurwapen wat by hom gevind is, met die stropery van renosters verbind het.

Die Skukuza-streekshof het Lindelani Lucky Mdletshe (37) tot 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Hy is skuldig bevind aan betreding in die Krugerwildtuin, sameswering om ʼn misdaad te pleeg en die besit van ongelisensieerde vuurwapens, sê Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Veldwagters het in April 2019 voetspore in die Pretoriuskop-omgewing van die wildtuin gevolg, toe hulle op Mdletshe, Rhody Hlamalani Ndlovu (ʼn Mosambieker) en nog ʼn man wat weggekom het, afgekom het.

Mdletshe en Ndlovu is aangekeer en vuurwapens is by hulle gevind. In die daaropvolgende hofsaak is borgtog aan hulle toegestaan en Mdletshe het verdwyn, maar is weer aangekeer nadat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Ndlovu is skuldig bevind en gevonnis en die staat het suksesvol aansoek gedoen dat die sake geskei word.

Mdletshe het deurgaans aangevoer hy is onskuldig.

Staatsaanklaer Lot Mgiba het die getuienis van een van die veldwagters gelei, asook die uitslag van die ballistiese toetse op die vuurwapen aan die hof voorgehou. Dié toets het bevestig die .375-jaggeweer wat by hom gevind is, is gebruik om renosters mee te stroop.

Die hof het hom skuldig bevind, 12 jaar tronkstraf opgelê en hom onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit, sê Nyuswa.

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Rooi rissie ·

Wat het geword van die wet wat sê 25 jaar tronkstraf vir besit van onwettige vuurwapens? En 25 jaar tronkstraf vir Renosters stroop of het die wette intussen weer verander waarvan ek nie weet nie?

Sandra ·

ba-wa-wa wat ‘n grap. Hy gaan nie 12 jaar sit nie, is sommer gou weer uit en stroop dan verder

Christine ·

Renoster stropery is steeds buite beheer oral in SA
Daar behoort BAIE MEER gedoen te word om wild te beskerm

AREND1 ·

Hy kom na ses jaar weer uit en doen dit weer en hy het nie ʼn wettige wapen gebruik nie.Dan gaan hy mos weer ʼn onwettige wapen kry.

Oom Charles ·

Ek ondersteun die vervolging van wildstropers.
Maar in verhouding word minder ernstig gekyk na die vervolging van gewapende aggressie in voorstede en op plase.
Daardie mense is ongelukkig baiemaal gou weer op vrye voet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.