Ballito-klagtes teruggetrek ná eenheid ingryp

Die pa hou sy seun vas nadat een van die beamptes die seun aan sy hand gevat en met hom begin wegstap het. Foto: Skermskoot uit die video.

Alle klagtes is laat vaar teen die mense wat gedurende die algehele landwye afsondering in Ballito in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is.

Altesaam 11 mense is in Mei vanjaar in hegtenis geneem omdat hulle die Rampbestuurwet oortree het deur onder meer op die strand te gaan stap.

’n Pa en seun is onder andere die betrokke dag hardhandig deur vredesbeamptes van die KwaDukuza-munisipaliteit hanteer waarna die pa in hegtenis geneem is.

Volgens die munisipaliteit het sy beamptes egter korrek opgetree en die saak ingevolge wetgewing hanteer.

Die burgerregteorganisasie AfriForum se privaat vervolgingseenheid het ná dié voorval aangekondig dat hy betrokke gaan raak en het vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig oor waarom hierdie 11 mense nie vervolg moet word nie.

Die NVG het die mense eers gedagvaar om op 10 Augustus vanjaar in die hof te verskyn en daarna aangedui dat hulle die sake eers na die polisie wil terugverwys vir verdere ondersoek. Die aanklaer in die saak het egter op 21 Oktober aangedui dat die NVG die vervolgings gaan laat vaar.

“AfriForum verwelkom die NVG se besluit om die klagtes te laat vaar, maar voel sterk daar moes nooit klagtes teen hierdie mense ingestel gewees het nie, asook dat die wetstoepassers se optrede in hierdie geval arbitrêr en onnodig was,” sê Natasha Venter, bestuurder van veldtogte by AfriForum.

“Die meeste lede van die publiek het, veral tydens vlak 5 van die afsonderingstydperk, probeer sin maak van vae regulasies, wat gereeld verander het en ook irrasioneel was.

“Om hierdie mense te straf bloot omdat hulle op die strand gestap het en boonop met misdaadrekords op te saal, sou bloot verregaande gewees het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries ·

Vervolg eerder meer dringend die mense wat tydens die algehele inperking noodfondse geroof het!

Persheks Adri ·

Wat van die regering wat gaan vlieg het? Dis ook dood stil nou… Hoe gerieflik ne Cyril en kaders? Julle reëls is vertraag in elk geval en dubbel sinnig tssssk. Looi hulle met eise gaan groot!

Jessica ·

As mens daardie inhegtinisnemings video kyk, lyk dit alles behalwe soos VREDESBEAMPTES. Dit was n absolute misbruik van amp/posisie en uiters rassisties en geweldadig. Ek is van mening dat die regering meer aandag moes gee aan plaasaanvalle en die slagting van oumensies as om mense wat hul vryheid geniet, te arresteer. Maar ja, ons bly in Suid Afrika waar daar geen wet of orde is nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.