Ballito-ma ‘selfbeheers’ in hof

Madelein Ackerman het Vrydag vlugtig in die hof op KwaDukuza verskyn. (Foto: Maroela Media)

Madelein Ackerman, wat van die moord op haar vierjarige dogtertjie beskuldig word, het Vrydag vlugtig in die Umhlali-hof op KwaDukuza verskyn en het selfbeheers in die beskuldigdebank voorgekom.

Haar regsverteenwoordiger, Alistair Janssens, het beswaar gemaak nadat die staat opnuut vir ʼn gewone uitstel in die saak gevra het. Landdros Blanche van Eeden het daarna beslis dat ʼn finale uitstel vir verdere ondersoek toegestaan word.

Volgens die staat is die uitslae van DNS-toetse, asook ʼn ontleding van medisyne wat op die toneel gevind is, nog uitstaande.

Die 45-jarige Ackerman moes Donderdag al in die hof verskyn het, maar weens verwarring tussen die polisie en die departement van korrektiewe dienste oor wie haar van die Westville-tronk na die hof moes bring, is sy glad nie opgelaai nie en moes die saak tot Vrydag uitgestel word.

Vandag was daar weer ʼn vertraging toe beurtkrag hofverrigtinge tydelik onderbreek het.

Alistair Janssens, Ackerman se regsverteenwoordiger, sê sy is dankbaar dat die saak nou vir die laaste keer vir ondersoek uitgestel is.

“Sy wil hê dit moet afgehandel word,” het Janssens na die hofverrigtinge gesê.

“Ons is tevrede met die besluit; minstens beweeg die saak nou vorentoe.”

Volgens hom word Ackerman deur haar hele familie ondersteun.

Die staat voer aan Ackerman het haar en haar man se dogtertjie, Layla, in ʼn emmer water verdrink. Sy is in aanhouding sedert sy in April vanjaar ná die voorval by die egpaar se huis op Ballito in hegtenis geneem is.

Die saak teen Ackerman word weer in Oktober hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

MM, net ligweg kritiek op woordgebruik, waar selfbeheers eintlik selfbeheersd moes wees, en van Alistair Janssens word gepraat asof dit ‘n sy is en paragrawe later word sy ‘n hy, waar gesê word dat Ackerman se hele familie haar ondersteun.

Elaine Krige ·

Hallo Cherokee.
Die volgende sin: “Alistair Janssens, Ackerman se regsverteenwoordiger, sê sy is dankbaar dat die saak nou vir die laaste keer vir ondersoek uitgestel is,” verwys na Janssens se kliënt wat dankbaar is, dus is “sy” reg. Wat “beheers” betref, volgens Afrikaanse taal -en spelreëls word beide as korrek aanvaar.
Groete

Oujongvrou ·

Cherokee, genade mens hierdie is n nuus blad. Nie n skool spel toets nie. Ok, ons verstaan nou almal dat jy n hoogs geleerde man is wat rondgaan en mense se foute uitlig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.