Ballito-voorval: Munisipaliteit glo steeks oor verslag

‘n Skermskoot van die beamptes in Ballito. 

Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum weier die KwaDukuza-munisipaliteit in KwaZulu-Natal om die ondersoekverslag bekend te maak ná sy interne ondersoek na die polisiebeamptes wat gedurende die algehele landwye afsondering 11 mense op ’n strand in Ballito in hegtenis geneem het.

’n Pa en seun is die betrokke dag in Mei hardhandig behandel toe die polisiebeamptes die groep in hegtenis geneem het omdat hulle glo nie die afsonderingsregulasies gehoorsaam het nie. Die regulasies het in daardie stadium glo bepaal dat niemand op die strand mag wees nie.

Natasha Venter, woordvoerder van AfriForum, sê in ’n verklaring die organisasie se privaat vervolgingseenheid verteenwoordig diegene wat die betrokke dag in hegtenis geneem is.

“AfriForum het reeds in Mei versoek dat dié munisipaliteit die ondersoekverslag van die interne ondersoek na die beamptes se optrede beskikbaar stel, maar die munisipaliteit weier steeds om dit te doen,” sê Venter.

Volgens Venter het die ondersoek bevind dat die polisiebeamptes niks verkeerd gedoen het nie hoewel die munisipaliteit nooit diegene wat in hegtenis geneem is, se weergawes bekom het nie.

“Die munisipaliteit reageer ook nie in sy skrywe op AfriForum se navrae oor die vredesbeamptes se versuim om maskers te dra en die handhawing van ’n redelike sosiale afstand in die uitvoering van hul pligte nie. AfriForum se versoek was baie duidelik. Daar is nie van die munisipaliteit verwag om ’n ondersoek te hou nie, maar om slegs die inligting te verskaf waarop die inwoners reeds deur die munisipaliteit in die openbare domein verhoor en skuldig bevind is,” sê Venter nou.

Volgens Venter is dit steeds ’n onbeantwoorde vraag of die beamptes by magte was om 11 mense in hegtenis te neem ingevolge die Strafprosesregwet.

Venter voer nou aan dat die munisipaliteit nie kan staatmaak op hul bewering dat die voorval sub judice is en hulle daarom geen inligting bekend mag maak nie. “Die vraag of daar strafregtelike klagte teen die inwoners ingedien is, het geen invloed op die ondersoek na die beamptes se beweerde onbillike en arbitrêre optrede nie,” verduidelik sy.

“AfriForum tree nie hier namens geharde misdadigers op nie, maar gewone belastingbetalers wat gekonfronteer is met irrasionele besluite en wetstoepassers wat buite die raamwerk van hul mandaat opgetree het. Ons sal aanhou druk op die munisipaliteit toepas om te verseker dat ons die nodige inligting bekom om die ondersoek af te handel, sodat verantwoordelike partye vir hul optrede aanspreeklik gehou word,” sê Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Teksboek geval van magsbeheptheid wat bloot geen verandwoordbaarheid het teenoor die regstelsel nie. Onaantasbaar as dit kom by “the people”…….

Frannie ·

Hulle wil nie die verslag bekend maak nie, want hulle weet hulle was verkeerd. Anders as ‘n sekere Dr wat 4000 bladsye se twak kan uitdink as sy verkeerd is.

Nie Verbaas ·

As dit nou wit was wat dit aan swart gedoen het, was die hel los. Pateties.

Porseleintjie ·

Duidelik kan die hande baie dinge doen, maar as dit kom by IK aangedrewe pligte….oee eh eh.

Ettienne ·

“Venter voer nou aan dat die munisipaliteit nie kan staatmaak op hul bewering dat die voorval sub judice is en hulle daarom geen inligting bekend mag maak nie”.

Die term sub judice beteken NIE dat die saak ondersoek word of voor ‘n hof dien en inligting daarom nie bekend gemaak kan word nie. Die term beteken dat inligting nie bekend gemaak kan word nie aangesien die saak voor ‘n jurie dien en die jurie dus beïnvloed kan word. Hierdie term is ‘n “oorspoeling” uit die Engelse regstelsel waar ‘n jurie betrokke is.

Suid Afrika se regstelsel maak nie van ‘n jurie gebruik nie en die term “sub judice” word wyd gebruik/misbruik as ‘n skerm waaragter gskuil kan word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.