Ballonne-afskeid vir Hoërskool Driehoek

Gesamentlike gedenkdiens vir slagoffers van die Hoërskool Driehoek-tragedie (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die skoolgemeenskap van Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, Gauteng, het Maandag in ’n gesamentlike gedenkdiens afskeid geneem van vier van hul skoolmaats wat op 1 Februarie oorlede is toe ’n loopbrug by die skool ineengestort het.

Honderde mense het Maandagmiddag by die Kompasgemeente buite dié dorp bymekaar gekom ter herinnering aan Roydon Olckers, Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel wat omgekom het in die brugtragedie wat sowat tien dae gelede skokgolwe deur die land gestuur het.

’n Stampvol saal, in pers en geel gehul, het aandagtig na pastoor Marius Malan, ’n plaaslike leeraar by die Kompasgemeente, se boodskap van vertroosting geluister. “Die dood is altyd onverwags. Ons verwag egter die dood eerder by ouer mense, nié by tieners nie, nié by jou kind nie,” het Malan gesê.

Hy sê die dood beteken egter nie die einde nie. “Die dood is bloot ’n deur na ’n ander plek. Vandag het [die oorledenes] ’n voorsprong. Hulle weet hoe lyk dit anderkant die deur. As hulle vanaf die ander kant van dié deur iets kon sê, sou dit waarskynlik wees dat hulle ons ook aan die ander kant wil sien.

“Dié deur bepaal nie die ewigheid nie. Ons gaan hulle weer sien.”

Die skoolgemeenskap het na afloop van Malan se boodskap buite die kerkgebou saamgedrom, elk met ’n pers of geel ballon in die hand. Dié ballonne is oomblikke later gelyktydig losgelaat waarna ’n see van pers en geel die lug ingesweef het.

Gesamentlike gedenkdiens vir slagoffers van die Hoërskool Driehoek-tragedie (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Vandag verkondig ons ’n nuwe dag vir Hoërskool Driehoek wanneer ons die ballonne loslaat. Dit beteken nie ons vergeet nie. Ons pad van genesing begin bloot vandag,” het Malan dié gebaar verduidelik.

Hein Knoetze, skoolhoof van Hoërskool Driehoek, het na afloop van die diens aan die media bevestig dat bedrywighede by die skool Maandagoggend hervat het. Dié skooldag is amptelik met ‘n opening op die rugbyveld begin waarna klasse tydelik in tente aangebied word.

“Daar was ’n positiewe atmosfeer. Die kinders het met opgewondenheid na die ‘Driehoek Tentkamp’ gegaan waarna ons met klasse begin het,” het Knoetze gesê. Dit het Maandagoggend gereën en om sake te vererger, was die elektrisiteit ook af. “Maar enige iets wat jy vir hierdie kinders gooi, hanteer hulle, want hulle geloof is so sterk en ons geloof in ons skool is so sterk.”

Hy erken dat hy bang was om vanoggend terug te keer skool toe, “maar ná die opening met omtrent 100% bywoning van leerders, het ek soveel hoop vir ons dorp en ons land gekry. As jy my tien dae terug gevra het, het ek gesê ‘jammer daar is nie hoop nie’, maar vandag kan ek vir jou sê daar ís hoop.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, het saam met verskeie lede van die department van onderwys dié gedenkdiens bygewoon waarna hy sy medelye aan die skoolgemeenskap betoon het.

“1 Februarie sal altyd ’n hartseer dag bly,” het Lesufi gesê terwyl die laaste ballonne oor die kerkgebou gesweef het. “Hierdie tragedie het ons bymekaar gebring. Dit is hoekom ek vandag se diens so waardeer het. Vandag kon ons die hoofstuk afsluit en almal as ’n skoolgemeenskap bymekaar bring en praat oor hoe ons ’n soortgelyke tragedie vorentoe kan verhoed.”

Hy het bevestig ’n span is aangestel om te bepaal wat presies gebeur het. “Ons wil nie ’n vinger na ’n skuldige wys nie. Ons wil ’n vinger na ’n oplossing wys. Ons wil nie blameer nie, ons wil bou. Ons wil nie seermaak nie, ons wil herstel.”

Op ’n vraag deur die media wanneer die uitslag van dié ondersoek verwag kan word, het Lesufi geantwoord dat hy self ongeduldig wag. “Ek wil ook weet. Ek wil die verslag aan die ouers van die oorledenes oorhandig. Ek wil vir hulle sterkte toewens. Ek wil nie hê nog só ’n ramp moet ’n skool tref nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Johannes F ·

Lesufi begin jy alreeds duck en dive?
Wie is verantwoordelik vir integriteit van skoolgeboue?

Wilma ·

Ons huil saam almal. Sterkte. Jesus gee Krag en Sterkte en Hy plaas rofie oor die seer.

Maggie ·

Driehoek beteken Geloof, Hoop en Liefde. Die grootste hiervan die Liefde. Dis die Liefde van Jesus wat julle almal hierdeur gaan bystaan en dra. Julle almal bly in ons gebede. ?

Jacques Conradie ·

Kom ek gooi petrol op die emosionele vuur. Daar is niks wat hierdie massa besoedeling regverdig nie. Helium is nie ‘n hernubare stof nie, as dit op is, dit op. Balonne is nie bio-afbreekbaar nie, al word daarop aanspraak gemaak. Daar is nie ‘n oord vir balonne op die maan nie, hulle keer terug aarde toe as rommel. Rommel wat soms deur diere aangesien word as kos en dan vrek hulle daarvan. Dit sou baie meer gepas gewees het om bome te plant of ‘n tuin van herinnering aan te lê, ‘n tasbare huldeblyk wat omgewingsvriendelik sou wees. Dixi.

PersHeks ·

Jacques Conradie dit was ook my eerste reaksie oor die massa balonne! Ai die mense is soooo kortsigtig!!! Hou van die boomplant idee!

Groen ·

Baie dankie hiervoor, Jacques Conradie, ek stem volkome saam.

Hoekie ma ·

So indien jy wel die rommel (pers en geel) sou sien le om jou….. tel dit tog maar net op hoor dankie – Hoekie ma

Lulu ·

Hoekom herdenkings van enige aard met die opstuur van balonne vereenselwig? Dit het n negatiewe invloed op die omgewing …nee man, iewers moet die mensdom begin dink wat se invloed die besoedelende gewoonte het.

Ronel ·

Ag Lulu. Bou n bruggie toe. Ons kerk het al boodskappies die land ingestuur met balonne en goeie reaksie daarop gekry. Kyk eerder na die seer van die ouers en staan hulle met gebed by as om te kerm en moun oor balonne. Of moet hulle eerder die plek afbrand. Sal jy DAN happy wees mmm?

Hein de Wet ·

Dit was ook my eerste gedagte toe ek die fotos van die ballonvrylating sien. Tensy die organiseerders die teendeel kan bewys, blyk die vrylaat van ballonne ter nagedagtenis aan die tragiese gebeure by Hoërskool Driehoek nie weldeurdag te wees wat betref die omgewing nie.

Riekie ·

Lulu ek stem heeltemal saam met jou wanneer gaan die mense leer. Hulle moet liewers begin bome plant in herinnering dit hou langer en help die omgewing. Hulle het so pas a tragedie in ‘n groter tragedie omskep.

Marius ·

Julle bewys net weer statistiek korrek. Daar moet altyd iemand wees wat ontevrede oor iets is!!’

Stem! ·

My hart gaan uit na alamal wat seer het.
Maar ek is totaal teen die balonne ding stuur. Ek weet dit is simbolies om dit wat seer is en om afskeid te neem van geliefde vriende, maar as almal dit begin doen gaan ons besoedelings probleem net groter raak.
Wees altyd n voorbeeld, veral as jy die kollig het en mens sal jou volg en doen soos jy doen.
Plant n boom dat hulle kan aanhou leef, vir toekomstige skoliere n voorbeeld kan wees dat as iets weggeneem word kan dit aanhou leef..

CJ ·

As onkundige sal ek graag wou weet wie as respondente gedagvaar gaan word in hierdie saak: 1ste respondent – Minister van Basiese Onderwys; 2de respondent – LUR (MEC) van Gauteng; 3de respondent – Skoolhoof, 4de respondent -Beheerliggaam van HS Driehoek? Asseblief, ek sê nie bg persone is skuldig nie. Ek wonder net hoe die slim regsmense gaan dink. Soveel vrae, soveel antwoorde. .Bv het die skoolhoof probleme tov die brug by Dept v Onderwys aangemeld?

Heksie ·

Lesufi moet eerder antwoord, hoekom hy sy uitlating teruggetrek het ten opsigte van wie vir die mediese rekeninge van al die leerlinge??? Dink hy nou die geld wat ingesamel is moet gaan om almal se mediese onkostes te dek?
Hy’s ‘n regte slang, nes die res van sy kaders.

Elsa ·

Lulu hoekom negatief wees? Mooi herinneringe en saamstaan is waaroor dit gaan, eenheid en dis die mooiste gebaar van omgee
ons gebedes is om die Driehoek skool en elke llerder, elke gesin en hele gemeenskap..Dit is naasteliefde in oormaat..

Pierre ·

So jammer om weereens op hierdie berig net die negatiewe te moes lees. Is dit maar in ons aard om alles te kritiseer. Ek glo dat soos baie hier ons dieselfde glo van ballonne, maar hoekom hierdie gebaar wat eintlik vertroosting moes bring versuur met kortsigtige opmerkings wat alles vertroebel. Ek bid dat jy nooit in jou lewe jou kind aan die dood sal afstaan nie. Twee mense wat my baie na aan die hart le het reeds hulle kinders op jong ouderdom aan die dood afgestaan, dit is ‘n seer wat jy nooit sal eenkant sit nie, dit loop elke dag saam met jou. Dink volgende keer voor ons sulke kortsigte opmerkings maak, dink liewers aan hulle wat nou troos nodig het, hierdie lewe is weg, die ballon wat terugkeer aarde toe kan weeer opgetel word.

Lulu ·

Die wat verward raak met omgewing inpak studies en die effek van vrylating van helium ballonne op die omgewing en dit sien as kritiek…. Ja, dit is krities van n nuwe simboliese gewoonte wat glad nie pyn of lyding verlig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.