Bangladesji in Vrystaat aangekeer oor mensehandel

Foto bloot ter illustrasie (Geskep deur KI, Dall-e)

ʼn 49-jarige man van Bangladesj is Donderdag in Welkom in die Vrystaat aangekeer in verband met mensehandel.

“Die ondersoek het begin toe vyf vroue na vore gekom en aangemeld het dat hulle met onbekende mans van Bangladesj getroud is,” sê ao. Fikiswa Matoti, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke). “Hulle is mislei en het elkeen R500 per maand gekry om dié mans te help om permitte te kry om in Suid-Afrika te bly. Hulle het nooit geweet dat die geld vir gereëlde troues is nie.”

Op 23 Mei 2023 het die polisie inligting opgevolg wat die slagoffers verskaf het en ʼn 31-jarige vrou, wat die vroue gewerf het, is in hegtenis geneem. Sy het ʼn paar keer in die hof verskyn tot November 2023 toe die saak voorlopig van die hofrol verwyder is.

Die ondersoek het voortgeduur tot die Valke se eenheid in Welkom, wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, die 49-jarige man Donderdag in Welkom aangekeer het.

Die man sal binnekort in die hof verskyn.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.