Bank waarsku kliënte teen nuwe slenter

Nedbank (Foto: Facebook)

Nedbank het bankkliënte Woensdag gewaarsku teen ʼn nuwe slenter waarin daar voorgegee word dat dié bank persoonlike dokumente van sy kliënte aanvra.

Die bank het in ʼn massaboodskap gesê ʼn valse e-pos doen die ronde waarin Nedbank kwansuis op “uitstaande Fica-dokumente” wag. Dié e-pos lui onder meer dat Suid-Afrikaanse banke volgens die Fica-wet inligting van kliënte moet bevestig en op datum hou.

Die kliënt klik dan op ʼn skakel om meer besonderhede oor dié dokumente te bekom, waarna hy na ʼn valse webwerf herlei word. Wanneer die kliënt dan sy profielnommer en pinkode insleutel, word geld byna onmiddellik uit die rekening onttrek.

Volgens Nedbank is talle van sy kliënte reeds met dié slap riem gevang.

“Die sekuriteit van jou bankbesonderhede is vir ons ʼn topprioriteit,” het Nedbank in die boodskap gesê. “Wees asseblief bedag op enige e-pos of SMS-boodskap wat vra vir jou besonderhede, waar onder ʼn profielnommer en pinkode.”

Die boodskap het verder aangedui hoewel die bank soms vir uitstaande inligting mag vra, hy nooit kliënte vir persoonlike besonderhede soos ʼn profielnommer en pinkode sal vra nie.

Nedbank het ook gesê kliënte moet die bank in kennis stel indien hulle ʼn verdagte e-pos of SMS-boodskap kry.

Indien jy só ʼn boodskap gekry het, kan jy dit aanstuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Alida ·

Mense behoort by hierdie tyd al geleer het dat jy GEEN inligting uitgee oor die foon, internet of wat ookal nie. Hulle leer net nooit nie. Geen bank sal dit van jou verwag nie. Dom mense moet swaarkry.

Adri ·

Is daar regtig nog mense wat in die strik trap? Ongelooflik!

Sarie ·

Nee regtig ek glo nie wat ek lees nie. HALLOOOOOOOOO !!!! Mens gee nie profielnommers en/of pinkodes op ‘n webwerf (epos) nie! Mense is al oor en oor en nogmaals oor gewaarsku hoe is dit dat daar nog mense is wat in die strik trap

JWM ·

Ek wonder of hierdie probleem net internet bankdienste raak want ek let van gister af op selfoonbankdiens antwoord met “technical error, please try again later” en gee nie toegang tot rekening soos gewoonlik nie?

antonie ·

ander dag bel n persoon my i.v.m. n (denkbeeldige hospitaalplan) en se vir my sy ken (noem sy n vriend se naam), en vra my email en tel nommer;ek gee dit vir haar; toe sy ID nommer wil ‘confirm’, lui ek af, sy kom baie joviaal voor en kon dadelik vir my laat ‘glip’ hoe my naam gespel word, wat my pla is dat sy n bekende nommer gebruik het van n besigheid!: Dit is duidelik n ‘data mining scam’ om geld te steel.

William Benade ·

Onderwyser moet ook kinders leer om nie hulle persoonlike inligting te verskaf nie dit die jeug ook help in die toekoms wanneer hulle klaar is met skool en begin werk

Johanné ·

Hoeveel kere doen die banke nie beroepe op mense om op geeeeeen link in ‘n email te klik nie??????

SARIE VAN HEERDEN ·

Een van ons GROOT banke se amptenaar het duisende rande van my gesteel en het ek dit eers agtergekom toe hy my belegging wat ek altyd net hernu is se syfers nie met mekaar ooreengestem het nie. Hy het jare my beleggings hanteer, ek het hom vertrou en het maar net altyd die hernuwing geteken. Toe ek begin navraag doen het die bestuurder altyd gese ek moet inkom na sy kantoor, ek het geweier en hy moes enige kommunikasie met my doen deur e-posse want so het ek bewyse gehad. Moenie met die mense PRAAT nie. Skryf en hul moet antwoord. Op hierdie manier kon ek al my geld terugkry sonder dat ek regskostes moes aangaan want ek het geskrewe bewyse gehad. Mens weet nie meer waar om te keer nie.

Nettie ·

Die veiligste manier om te bank? DOEN DIT OP DIE OUTYDSE MANIER – gaan doen jou banksake met ‘n teller IN die bank en basta met internet banking en al daai. Ek het nie internet banking nie, ook nie selfoon-banking nie en raai, ek oorleef nog al die jare!

SARIE VAN HEERDEN ·

NETTIE, nes jy het ek dit ook gedoen. In die man se kantoor, koppie tee en alle papiervorms met die hand, pen en ink ingevul. Ek wil egter weet: WAAR WAS DIE BANK SE REKENMEESTERS EN OUDITEURE dat die man 7 jaar lank van my kon steel en hul dit nie agtergekom het nie. Dis baie keer nalatigheid van die klient! Vandag sit die arme man in die tronk maar waar was sy vrou dat sy nie agtergekom het hy het nou skielik ekstra geld nie?

Mercia ·

Duidelik het Nedbank intern ‘n probleem met kliente inligting wat uithelek word. Waar anders kry hullr die epos adresse vandaan. Om mense te waarsku is mostert na die maal. Nedbank kry julle huis in orde julle sekuriteit is onvoldoende

Wilma ·

Mooi so Mercia! Vinnig om mense ‘na die tyd’ te waarsku, maar hoe gebeur dit? En wanneer jou kaart gekloon word of daar op een of ander onverklaarbare manier geld uit jou rekening getrek word, WEIER Nedbank om uit te betaal. Ombudsman van Nedbank sluit saak en ‘simpatiseer’ net met jou! Ander banke se versekering betaal ten minste uit! Sukkel nou al weke aanmekaar met Nedbank, gee net die kliënt die skuld!

Douglas ·

As ek nie spesifiek wil inteken by my internet-bankdienste, sit ek geen pin of profielnommer in nie. Gewerk vir my sover.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.