Bankbestuurder, nog 5 vas ná bankroof

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Ses verdagtes, insluitende ʼn bankbestuurder, is Vrydag op die Kaapse Vlakte in hegtenis geneem in verband met ʼn bankroof wat in 2014 in Kuilsrivier plaasgevind het.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê die polisie se taktiese reaksie-eenheid en blitspatrollie het saam met ʼn span van die Valke in die vroeë oggendure op verskeie huise in Athlone toegeslaan. Daar het hulle ses verdagtes tussen die ouderdom van 32 en 48 in hegtenis geneem. Een van die verdagtes, ʼn vrou, was ten tyde van die rooftog ʼn bestuurder by die betrokke tak van Standard Bank.

“ʼn Onbekende aantal gewapende verdagtes het na bewering die oggend van 12 November 2014 ʼn bank in Kuilsrivier binnegestorm, die personeel as gyselaars aangehou en met meer as R500 000 kontant gevlug,” het Ramovha gesê. “Die ondersoekspan het onverpoosd gewerk en die inhegtenisnemings is die uiteinde van ʼn intensiewe ondersoek.”

Ramovha het gesê hy hoop dat die inhegtenisnemings as afskrikmiddel vir potensiële misdadigers sal dien aangesien die Valke hulle nie deur misdadigers sal laat uitoorlê nie.

Die verdagtes sal Maandag in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn op aanklag van gewapende roof met verswarende omstandighede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rapes ·

Hiermee bedank ek die Valke uit die diepte van my hart vir die goeie onbaatsigtelike werk wat hul gedoen het. Ek hoop net Standerd Bank se bestuur se oë gaan oop en stel die regte mense aan . Dis weereens ‘n klinkklare bewys dat regstellende aksie nie altyd die beste vir ‘n besigheid is nie. Doen deeglike ondersoek voor iemand aangestel word.

Cherokee ·

Dit word nie betwis dat hulle die rooftog uitgevoer het nie, dit is slegs hul reputasie, hul status waaroor gewonder word. Hulle het wel die personeel aangehou en meer as ‘n half-miljoen rand gesteel maar dit maak hulle nie noodwendig rowers nie, so laat ons hulle maar as verdagtes beskou. Ironies nè.

Sarie ·

Baie geluk aan die Valke…. Die diewe was seker houtgerus, want byna 2 jaar het verloop sedert die bankroof. Hulle het seker lekker spandeer & die “arrestasie”, was virseker niè meer te wagte nie. Wàt ‘n skok moes dit nie gewees het nie. Dis “pay back time” & ek is beslis niè vir hulle jammer nie…

Ek sou graag wou sien dat àlmal wat aan diefstal, bedrog ens waarby geld betrokke is & skuldig bevind word, benewens tronkstraf, verplig moet word om die geld terug te betaal… Indien hulle nie werk of voldoende bates het om die bedrag te vereffen nie, plaas hulle in ‘n werkskolonie waar hulle tydens hul vonnis-uitdiening geld kan verdien om die “skuld”, of minstens ‘n gedèèlte daarvan te betaal…

Die hoë misdaadsyfer sal myns insiens drasties afneem, indien die gevangenis in hul eie behoeftes moet voorsien, soos reeds in verskeie oorseese tronke die beleid is… Koop jou eie kos ens, of betaal “losies”! DIT sal ‘n persoon 2X laat dink voordat hy/sy ‘n misdaad pleeg…

Johan ·

Ek hou van daardie idee Sarie. Soos dit nou werk betaal die gemeenskap om mense in die tronk te hou. Die krimineel betaal nie sy “skuld” aan die gemeenskap terug op enige manier nie.

Rupert Ashford ·

Vir R500000 jou loopbaan sink… Hoekom.dan nie maar vir regte geld as jy so stupid wil wees nie…

KarooKlong ·

HoeHaa! Puik gedoen al die betrokke beamptes by Taktiese Reaksie Eenheid, Blitspatrollie en die Valke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.