Bankbestuurder ontken sy het Jayde se bankbesonderhede gedeel

Van links is Phillip Vosloo, Costa en Fanoula Panayiotou Woensdag (19 Oktober 2016) in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Van links is Phillip Vosloo, Costa en Fanoula Panayiotou Woensdag (19 Oktober 2016) in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

ʼn Sakebestuurder van Nedbank is Woensdag in die getuiebank tydens die Jayde Panayiotou-moordsaak daarvan beskuldig dat sy Jayde se vertroulike bankbesonderhede met haar man, Christopher, gedeel het die dag waarop Jayde vermis geraak het.

Estelle Burger, wat toesig oor die Panayioutou-egpaar se sakefinansies gehou het, het in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuig op die sesde dag van die verhoor teen Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle Panayiotou se vrou op 21 April 2015 vermoor het.

Burger se getuienis hou verband met die tyd toe Jayde se familie besef het dat geld uit haar Nedbank-rekening getrek is die dag waarop sy verdwyn het. Dit het later aan die lig gekom dat die onttrekking by ʼn kitsbank in Kwanobuhle naby Uitenhage gedoen is.

Adv. Terry Price, vir die verdediging, beweer Panayiotou het Jayde se PIN-kode en gebruikersnaam in sy besit gehad om by haar internet-bankdienste in te teken. Die verdediging beweer Burger het Panayiotou jammer gekry nadat sy vrou vermis geraak het en het “uit die goedheid van haar hart” hierdie besonderhede aan hom gegee.

Burger het egter verskeie kere ontken dat sy die inligting aan Panayiotou gegee het en het volgehou sy was nie gemagtig om die inligting met enigiemand te deel nie. Burger het later toegegee dat sy wel aan Panayiotou gesê het sy “sal kyk en probeer om die inligting te kry” wat hy versoek het.

Dit het in die hof aan die lig gekom dat Burger Panayiotou ses keer gebel het op 21 April 2015, die dag waarop Jayde vermis geraak het. Altesaam 14 oproepe tussen Burger en Panayiotou is daardie dag aangeteken. “Ek het hom gebel omdat ek wou uitvind of Jayde al opgespoor is,” het Burger in die hof gesê.

Price het teruggekap en gesê, “Jy het Christopher die inligting gegee en hy is dankbaar daarvoor, maar jy vermy nou die vraag omdat jy nie by die bank in die moeilikheid wil kom nie. Christopher sal as hy getuig aan hierdie hof sê dat hy jou probeer oortuig het om die inligting aan hom te gee, omdat hy vir Jayde wou opspoor.”

Burger het ook aan die hof gesê dat sy die aand van 21 April ʼn oproep van Phillip Vosloo, ʼn oud-kollega, ontvang het waartydens hy versoek het dat sy Jayde se selfoon-bankdienstekennisgewings verander sodat dit na Christopher se selfoon gestuur word. Burger het gesê sy is nie gemagtig om die verandering aan te bring nie, maar het gesê toe sy die volgende oggend by die werk kom, het sy gesien die verandering is aangebring.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter Jayde se ontvoering en moord is. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwezakhe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Sinethemba Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer.

Sibeko is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind is met die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks waar Jayde ontvoer is. Siyoni het intussen staatsgetuie geword. Vumazonke is verlede maand dood.

Die saak gaan Donderdag voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jurie ·

As Christopher skuldig bevind word hoop ek die regter gooi hom so diep in die tronk dat hy eers drie-uur in die middag sy brekvis kry. Met ‘n duikboot.

T ·

Scary, mens is nie eers betrokke by die moord nie maar as jy enigsins iets met die mense te doen gehad het is jy onder x verhoor. Die polisie die bank mense … eish .. mens moet net hoop iemand wat op jou pad kom word nie dood gemaak nie want dit ontwrig jou hele lewe en menswees en JY word op einde van dag amper soos die verdagte laat voel.

Sandra ·

So bestaan die lewe uit keuses wat gevolge meebring . Dit is – as jy n mens met integriteit is.

Onregverdig ·

Terry Price,jy is onregverdig met hierdie bank dame, onthou sy is nie die skuldige, jou vieslike maniere teenoor onskuldiges maak jou beslis meer onaanvaarbaar en ongewild! Marius Stander gryp bietjie vir Vosloo, hy het kontakte en n onskuldige vrou moet nou sy pak vat, Vosloo enjoy, maar onthou elke man moet gaan slaap, mag jy elke oomblik onthou wat jy aan iemand onskuldig doen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.