‘Banke moet gestraf word’

sa-reserwebank

Die Suid-Afrikaanse reserwebank. Foto: Resbank.co.za

Die Tesourie het uitgevaar teen die beweerde sameswering van banke in ʼn beweerde geval van prysvasstelling en marktoewysing.

Die Mededingingskommissie het ʼn bevinding gemaak oor beweerde sameswering tussen 17 banke, waaronder die drie Suid-Afrikaanse banke Absa, Standard Bank en Investec.

Die kommissie het bevind die banke het minstens van 2007 af ʼn ooreenkoms gehad om saam te span met verhandelings van die dollar-rand-wisselkoers. Volgens die kommissie het banke die pryse van tenders en aanbiedinge gemanipuleer.

“Hulle het mekaar bygestaan om die verlangde prys vas te stel deur hul handeltye te koördineer. Daar is ook fiktiewe tenders geskep wat die vraag-en-aanbod-beskikbaarheid skeefgetrek het om hul eie winste te verhoog,” het die kommissie gesê.

Die kommissie het die saak na die Mededingingstribunaal verwys waar die banke nou die geleentheid gegun sal word om hul kant van die saak te stel. Die Tesourie het in ʼn verklaring gesê die proses moet sonder vrees of inmenging plaasvind.

“Ons beskou hierdie oortredings as baie ernstig en verwelkom enige stappe teen dié wat verkeerd opgetree het. Ons sal die resultate van die mededingingstribunaal respekteer.” Die Tesourie het bygevoeg dat indien die aantygings waar is, dit die ongelooflike hebsug van die banke bevestig selfs nadat dit al bewys is dat dié tipe optredes die ineenstorting van nasionale en internasionale finansiële stelsels tot gevolg kan h.

“Dit kan ongelooflike pyn by gewone mense veroorsaak – dit het ons gesien tydens die resessie van 2008-2009. Daardie resessie was veroorsaak deur banke wat roekeloos was. Dit moet gestraf word,” het die Tesourie gesê.

“Die Tesourie wil dit duidelik maak dat die Reserwebank ʼn omsigtige toesighouer is en nie ʼn markreguleerder nie. Geen markwaarnemingstrategie was ingestel ten tyde van hierdie beweerde ongerymdhede nie,” het die Tesourie gesê.

Die ander betrokke banke is: Bank of America Merrill Lynch International Limited, BNP Paribas, JP Morgan Chase and Co, JP Morgan Chase Bank NA, Standard New York Securities Inc., HSBC Bank Plc, Standard Chartered Bank, Credit Suisse Group, Commerzbank AG; Australia and New Zealand Banking Group Limited, Nomura International Plc., Macquarie Bank Limited, Barclays Capital Inc en Barclays Bank Plc.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Willem de Klerk ·

AL die PERSONE wat SKULDIG bevind word moet krimineel gestraf word. Die SKULDIGE BANKE moet swaar beboet word en die geld teruggegee word aan die mense van SA.

Francis ·

stem saam alle kurepsie moet moet oopgevlek word en bestraf word !

Jean ·

Straf hulle, en die Selfoonmaatskappye en almal wat tonne geld maak uit die verbruiker. Banke is een van die mense wat elke maand ‘n ander ‘heffing’ op jou kaart of rekening sit, en as ek daarna uitvra, dan is dit ‘n ‘nuwe’ adminfooi of ‘n bankfooi of ‘n kaartfooi wat hulle bo op die ander fooie hef, ek is al so KEELVOL daarvoor. Bele jy by hulle geld kry jy ‘n klein persentasie rente, leen hulle dit uit aan jou vat hulle die maksimum. Hulle buit beslis die kliente uit, ek gee regtig nie om as hulle boetes opgele word nie!! Wonder net na wie se SAK gaan daai geld? Nog vermorsting/verkwisting van geld wat die land nie kan bekostig nie?

Connie ·

Almal, nie net sekers nie moet gestraf word. Die President inkluis.

lw ·

Hy het 783 klagtes teen hom, na my mening moet hy die swaarste gestraf word.

PvZ ·

Kyk, ek het geen liefde vir banke nie. Maar, daar is verseker ‘n aanslag teen die banke, en ANC/Guptas is agter dit. Wat my koud laat word is die beperkte kennis waarmee die regering sulke moeilikheid wil oplos. Wat gaan gebeur as die grond sonder vergoeding onteien word? Die meeste boere het oeslenings en skuld op plase. Dit beteken die bates op die banke se boeke word oornag uitgevee. Dan is daar nog die veldtog van BFLF en ANCYL wat banke wil afbrand as hulle nie biljoene terugbetaal nie. Ek is seker daar is versekering vir sulke dinge, maar soos enige persoon weet, versekering dek nie alles nie. Dit beteken die ANC gaan die finansiele sektor, asook die landbou sektor totaal en al uitvee. Dink net aan al die spaargeld wat sal “verdwyn”. Ek is seker hulle dink dat as ABSA “ontplof” verdwyn die skuld ook…. Die leier van die ANCYL het mos gesê hy wil alles afbreek, sodat die ANC dit weer kan opbou. Mense, wees gewaarsku…

Jan B ·

Ek stem ook dat die betrokke persone strafregtelik aangekla word. Ons as aandeel houers of kliente gaan nou vir die gelag moet betaal.

Griet ·

almal spring op dieselfde wa, maar julle weet nie eens hoeveel die banke hieruit gemaak het nie. Dis nie asof dit die hele SA benadeel het nie, slegs die wat rande en dollars verwissel het – soos ek, maar dis kleingeld. Iemand het nou weer ‘n voëltjie hoor fluit en skree nou ‘straf straf’, maar weet self nie lekker waarvoor nie.

Hannah ·

Griet…somtyds lag ek net! Ek dink Suid-Afrikaners is so moeg vir eintlik maar alles wat verkeerd gaan…so as daar ‘n seepkis verbykom waarop hulle kan spring en gil – sorg jy net dat jy nie in die pad staan. :)

pieter ·

AS DIE BANKE GESTRAF WORD MET WIE SE GELD GAAN HULLE BETAAL.

Nita ·

hierdie storie oor die banke is nou net n oe-verblindery sodat die regering n saak kan maak VIR nasionalisering van banke.

Vixie ·

” … minstens van 2007 af …” en dit kom nou eers uit? Dit is darem bitter toevallig. Hoekom was dit nie al lankal ontbloot nie?

John ·

Dit kon nie op ‘n slegter tyd gekom het nie. Hoe rentekoerse is ‘n ander euwel wat banke die meeste bevoordeel. Sodra pryse styg word die gewone man nog meer gestraf deur banke se inkomste te verhoog. Hoe inflasie deur verhoogde rentekoerse ingeperk word is ‘n groot geheim… Ons banke se rentekoerse is baie hoog en uitlanders bele juis daaroor in ons banke… en die volk ly. Ander misdrywe, soos geldwassery, is ook ‘n probleem, wat skynbaar nou eers aangespreek word… Nog goggas spring nou uit die geldlaaie.

Christa ·

Ek wil net weet hoe hierdie banke triljoene Rande kon “manipuleer”?

Leendert ·

Ek het vroeër ook gesê dat ek oneindig teleurgesteld is, mens het gedink dit is net die staat wat korrup is, maar nou vier dit hoogty, ook in die privaat sektor. Zuma se aansien is sommer verhoog, aansienlik. Die privaat sektor en veral die getransformeerde banke, watter een is nie getransformeer nie, skep lustig saam. Soos Zuma se regering nie die verskil ken tussen staat en die ANC nie, so ken die Privaat sektor nie die verskil tussen die strewe na self verryking en die kliente se welsyn/bellange nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.