Bankkosteverslag lewer verrassing op

connie-mulder-en-flip-buys-tweede-groot-trek

Connie Mulder, hoof van die SNI. Foto: Reint Dykema.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het Vrydag sy jaarlikse bankkosteverslag uitgereik wat die bankgelde van talle Suid-Afrikaanse banke teenoor mekaar opweeg.

Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, het die mededinging onder banke met betrekking tot bankgelde daartoe gelei dat dit een van die min sektore is waar Suid-Afrikaners in reële terme minder betaal.

“Vanjaar is daar ’n verrassing deurdat Old Mutual die goedkoopste in die lae-inkomste-segment is, mits beperkte bedrae in die rekening gehou word,” het Mulder gesê. “Capitec Bank en Absa is wel net ʼn kortkop agter, en indien verbruikers ’n saldo van minstens R222 in hul rekening hou, is Capitec die goedkoopste.”

Mulder het gesê dis duidelik uit die afgelope nege uitgawes van die bankkosteverslag dat verbruikersgedrag verander het. “Die verlangsaming in ekonomiese groei sowel as stygende brandstofpryse en hoër inflasie het daartoe gelei dat verbruikers hul gewoontes en besteding aanpas om sover moontlik geld te bespaar.

“Banke het op hierdie gedragsverandering gereageer; dus hef geen bank meer gelde om op hul aanlyn platforms in te teken nie en die meeste het bykomende funksionaliteit soos die stuur van geld en die koop van lugtyd bygevoeg as dienste,” het Mulder verduidelik.

Hy het beklemtoon dat die verandering in verbruikersgedrag genoodsaak het dat die SNI sy metodologie met betrekking tot transaksieprofiele moes aanpas. “Die 25-transaksieprofiel verteenwoordig merendeels die gewone middelklasverbruiker.

“Hier bied Capitec Bank uitsonderlik goeie waarde vir geld. Indien hierdie verbruiker op soek sou wees na meer as net lae bankkoste, dan is FNB se Gold Cheque-rekening die goedkoopste rekening wat toegang tot ’n beloningsprogram, in die vorm van eBucks, bied,” het Mulder gesê.

“Oor die algemeen is bankkoste tans een van die min ligpunte in Suid-Afrika. Die reële koste het vanaf 2010 vir die deursnee- Suid-Afrikaanse burger gedaal. Dit is ’n klinkklare bewys dat vryemarkbeginsels werk, en dat verbruikers die groot wenners is wanneer maatskappye vrylik kan meeding,” het Mulder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ellisras ·

Dankie Solidariteit. Dit is nou nuttige bruikbaar inligting. Wys my enige ander Vakbond wat regtig so baie vir sy lede beteken.

Gemaskerde Sopbeen ·

In die ou dae het jy by die bank ingestap, ‘n tannie wat dieselfde rok as almal anders gedra het, het jou geel spaarboekie by jou gevat, rente by-gereken, en jou onttrekking vir jou ingeskryf en geldjie oor die toonbank gegee….sonder stukke glas tussen julle twee. Toe reken die banke mense moenie tou staan in die bank nie, en ontwerp ATM. Toe staan in ons in toue op die sypaadjie, en betaal bankkoste. Toe ontdek die banke internet…..nou spandeer ek ‘n ure per week om my EIE bank-administrasie te doen, en betaal meer bankkoste as ooit tevore. Vooruitgang noem hulle dit…..

Oom Jaco ·

Dink jy daardie internet bankdienste wat jy op jou se EIE moet gebruik is verniet? So bankwebtuiste kos die bank etlike miljoene om te bedryf…

Cherokee ·

Oom Jaco, wees so vriendelik en verduidelik die ‘etlike miljoene’ asseblief. Askies my oom, maar ek glo jou nie wanneer jy ANC-tipe syfers gebruik nie. Etlike miljoene, sê die oom. Ek het êrens bewyse dat so ‘n webwerf tydens Paul Kruger se dae ‘n enkele twee pennies gekos het.

Swannie ·

FNB hef geen bankkostes indien die minimum saldo R10 000.00 bly, MAAR indien jou spaargeld meer as R19999.00 is, kry jy slegs 2,5% rente. ( Onder die bedrag is dit 5% rente)
Dus, jy BETAAL self vir die kamma geen bankkoste.

Kallie Grafie ·

Ek het `n FNB Easy Account geopen, omdat ek werkloos was, en Sanlam `n rekening gesoek het om `n klein annuïteit in te betaal. (Capitec wou nie vir my `n rekening oopmaak nie.) Toe erf ek R1 miljoen. Dit het meer as 30 dae in my rekening gelê, en toe ek nie een sent rente ontvang nie, is ek vertel dis omdat ek `n “armmans-rekening” het. Ook, verdien “armes” geen eBucks nie. (Ek weet dis om appels met pere te vergelyk, maar met my PnP Smart Shopper verdien ek lojaliteitskrediete, ongeag hoeveel ek spandeer.) Toe FNB sien ek is 56, het hulle vertel ek kan my Easy Account omskakel na `n Gold Cheque toe (wat moes gebeur toe ek 55 was. Hoekom vertel hulle my nou eers? “O, dis omdat jy `n armmansrekening gehad het. Ons kyk nie na daardie rekenings nie. Jy kan `n biljoen rand daarin hê, ons worry nie eintlik nie.” aldus The Glen-tak.

Ben ·

Ja Oom Jaco, maar hulle verhaal al die Internet koste geld vir jare al.

Mimi ·

Kyk bietjie na die werksure van bank-amptenare, wat daardie langer ure oop is vir die publiek. Persone wat nog in opleiding is, werk daardie dae aan-een met miskien 1 dag n week af, dan moet hulle nog tussen in n verpligte aantal take op die rekenaar doen. Dit is al te veel vir my bloed uit n klip uit tap.

Cherokee ·

Een enkel sinnetjie laat dit blyk dat Ou Mutual eintlik die goedkoopste is (al is dit miskien net in die lae-inkomste-segment, maar daarna word net Capitec opgehemel. Mornè van Rooyen, verduidelik daardie een asseblief, want dit neig te klink na halwe beriggewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.