Banknote-‘ete’ kan tot skorsing lei

Foto van die beamptes verskaf deur die EMPD

Twee beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie wat, in volle uniform, dans op die maat van musiek met hul kosblikke vol kontant, kan moontlik geskors word.

ʼn Video het aan die lig gekom van die twee beamptes, in ʼn vrolike luim, waar hulle dans op die maat van die musiek wat uit ʼn kattebak blêr, en spog met die kontant wat as servette en tandestokkies gebruik word.

“Die twee beamptes is uitgeken, opgespoor en Vrydagmiddag na die EMPD-hoofkantoor gebring waar hulle voor-skorsingsbriewe ontvang het,” het hoofsuperintendent Wilfred M Kgasago gesê. “Die twee beamptes het voor die hoof van die polisie verskyn. Hulle moet Dinsdag 31 Oktober weer voor die hoof van die polisie verskyn waar hulle die kans gegun sal word om redes te verskaf waarom hulle nie geskors moet word nie.”

Die twee beamptes is gestasioneer by Tokoza.

Kgasago het gesê die redes vir hul dreigende skorsing sluit in dat hulle die raad (werkgewer)/departement se naam skade berokken het en dat hulle bevele verontagsaam het deur hul onprofessionele gedrag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.