Bankrekeninge gevries ná tenders vir AngloGold-hospitaal

Die AngloGold Ashanti-hospitaal in Mei 2021 (Foto: GautengProvince/Twitter)

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het toestemming ontvang om bankrekeninge te vries van maatskappye aan wie die Gautengse departement van gesondheid onreëlmatig tenders toegeken het. Daar is sowat R7,9 miljoen in die onderskeie bankrekeninge.

Die maatskappye het die tenders bekom om die AngloGold Ashanti (AGA)-hospitaal naby Carletonville vir Covid-19-doeleindes op te knap.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, het Dinsdag gesê die bevel teen Pro Serve Consulting en Thenga Holdings is verlede week Vrydag toegestaan deur regter Legobang Modiba.

David Makhura tydens die opening van die AngloGold Ashanti-hospitaal in Mei 2021 (Foto: GautengProvince/Twitter)

David Makhura, premier van Gauteng, het in Mei die multimiljoen rand se hospitaal oopgemaak. Die fasiliteit het egter grootliks in onbruik gebly en bitter min Covid-19-pasiënte is hier behandel ná die provinsiale regering sowat R500 miljoen van Covid-19-fondse gebruik het om die hospitaal op te knap.

Die hospitaal moes 175 beddens in die hoësorgeenheid gehad het, maar slegs 87 beddens is afgehandel en daar is geen personeel of toerusting om intensiewe sorg toe te pas nie, sê Jack Bloom, die Demokratiese skadu-LUR vir gesondheid in Gauteng. Slegs ʼn handjievol laevlak Covid-19-pasiënte is by die hospitaal opgeneem wat elders behandeling kon ontvang. Nie een van die beddens het voorsiening gemaak vir die verskaffing van suurstof aan Covid-19-pasiënte nie.

Volgens die SOE was daar geen goedgekeurde begroting vir die opknappings nie. Dit het boonop van ongeveer R50 miljoen tot meer as R500 miljoen gestyg.

Tasneem Motara, LUR vir infrastruktuur-ontwikkeling, het vroeër vanjaar gesê die besluit oor opknappings by die hospitaal, wat deur die AngloGold Ashanti-myn geskenk is, is deur die hele provinsiale uitvoerende raad geneem.

“Dit impliseer premier David Makhura in hierdie absolute vermorsing van geld wat gebruik moes word om ekstra beddens en personeel aan te skaf by bestaande hospitale om die lewens van Covid-19-pasiënte te red,” het Bloom bygevoeg. “Makhura kan nie verder van aanspreeklikheid wegskram vir al die korrupsieskandale wat tydens sy dienstermyn plaasgevind het nie.”

Bloom sê Makhura se beloftes om korrupsie hok te slaan beteken niks nie, as daar soveel is wat gebeur het en hy versuim het om dit te voorkom.

“Dink jouself in hoeveel lewens gered kon word as die R500 miljoen behoorlik spandeer is! Sowat 200 ekstra dokters en 900 verpleegsters kon vir ʼn jaar lank aangestel word of dit kon gebruik word om ekstra beddens aan te koop of toerusting op te gradeer.”

Die DA sal voortgaan om aanspreeklikheid in die verband te eis en seker te maak dat strafregtelike aanklagte aanhangig gemaak word teen enigiemand wat voordeel getrek het hieruit. Hulle sal ook die geld moet terugbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Chris dupreez ·

Makhura moet ook maar ondersoek word in hierdie covid korupsie in Gauteng, wonder of hy onskuldig is .

Kokerboom ·

Die ANC regering is ‘n vloek en ‘n pandemie wat gebreek moet word anders is dit totaal nag vir SA

Keith ·

Just when you hope things will get better, OR you dare to think that the worst corruption has been discovered and dealt with….. WHAM ! there comes ANOTHER nasty ANC surprise.

Barney ·

Dis hoekom agenda 2030 gaan flop in die land. Ek laaik al die anc korupsie sterk want dit beteken vryheid.

JohanR ·

Ai die lewe is darem lekker as jy ‘n ANC kader is en jy kan jouself inkry by ‘n onwettige tender proses.
How many times must this be pointed out? The entire ANC is rotten, top to bottom. It’s not a party. It’s not a government. It’s not a liberation movement. It’s just one big criminal money sucking parasite that is killing our country. It has to go.

Hoeveel keer moet hierop gewys word? Die hele ANC is vrot, van bo na onder. Dit is nie ‘n partytjie nie. Dit is nie ‘n regering nie. Dit is nie ‘n bevrydingsbeweging nie. Dit is net ‘n groot kriminele geld suigende parasiet wat ons land doodmaak. Dit moet gaan.

Yvonne ·

JohanR….jy kon dit nie duideliker gestel het nie……hoe lank kan dit nog aanhou

Nonnie ·

Makura en sy tjomme is van die grootste diewe en is sentraal in die anc se plunderaarspan..!!!!!

Hennie ·

Slegs twee druppeltjies gered van ‘n hele emmer vol… ANC is flukse diewe!

Cherokee ·

Carletonville is Cherokee se Hometown, maar dat die tuisdorp sò lyk, is geen rede vir spog. Miskien moet ek van tuisdorp verander, maar/en dit sal ‘n laaang en moeilike proses wees, want selfs al sou ek Put Sonder Water kies, die anc en partners mag dìt dalk ook op die landkaart raak sien.

Jacobus ·

Verduidelik tog aan die narre die terme “verantwoordbaarheid” en “regsaanspreeklikheid”!

Michiel Pieter ·

Moenie ‘n fout maak nie. Daar staan ‘n uiters moderne hospitaal in Orkney wat eens aan die magtige Anglo behoort het en dit vergaan. Is glo gebruik met Covid op sy ergste en jy kon of kan daar laat ent. Tragiese te gronde gaan van hospitale. Nie dat dit al is wat vergaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.