Bankrooftogte, kaartbedrog neem toe – Sabric

krediet-kredietkaarte-geld-bank

(Foto: Stevepb/pixabay)

Sabric het pas sy jaarlikse misdaadsyfers namens die bankbedryf bekend gemaak en hoewel daar groot vordering op sekere gebiede gemaak word, raak bedrieërs al hoe meer uitgeslape.

Terwyl aanvalle op kitsbanke en transitorooftogte verlede jaar afgeneem het, waarsku die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) dat inbrake by sakeondernemings en sakerooftogte met onderskeidelik 27% en ʼn beduidende 86% toegeneem het.

ʼn Inbraak word gedefinieer as wanneer daar by die onderneming ingebreek en geld of ander items gesteel word, terwyl ʼn sakerooftog die gewelddadige verwydering van kontant of bates is terwyl dit onder die beheer van ʼn bank is.

Kaartbedrog en kubermisdade het ook aansienlik toegeneem en Sabric waarsku dat die Covid-19-pandemie boonop nuwe geleenthede vir bedrog skep.

Bankrooftogte

Die meeste bankrooftogte was in Gauteng, waar 46 voorvalle aangemeld is. Dit is ʼn toename van 53% vir die provinsie. In Limpopo, waar daar in 2018 net twee bankrooftogte was, het dié syfer verlede jaar na 14 – ʼn toename van 600% – opgeskiet. Selfs in die Noord-Kaap, waar daar in 2018 geen sulke rooftogte aangemeld is nie, was daar verlede jaar twee bankrooftogte.

Volgens die syfers word banke dikwels beroof kort nadat kontant vir die uitbetaal van maatskaplike toelae daar afgelewer is. Die rowers het tydens dié aanvalle sommer ook ander waardevolle items soos skootrekenaars en bankkaarte gegryp.

Aanvalle op kitsbanke het met 9% afgeneem en transitorooftogte met 16%. Alle provinsies, afgesien van KwaZulu-Natal en die Vrystaat, het ʼn beduidende afname in die getal voorvalle ondervind.

Die getal voorvalle van mense wat na of van die bank op pad is, of na ʼn kitsbank of ander sentrum gaan om ʼn deposito of onttrekking te maak en dan beroof word, het ook met 2% afgeneem.

Digitale misdaad

Sabric sê kubermisdaad neem ook teen ʼn kommerwekkende tempo toe. “Dié misdade gaan uiteindelik sogenaamde tradisionele bankmisdade vervang omdat dit weens die virtuele aard daarvan nie deur tyd of nabyheid [aan die geld] beperk word nie.”

Kubermisdaad het verlede jaar met 19% gestyg en Sabric waarsku dit gaan voortaan selfs verder toeneem omdat misdadigers slim maniere gebruik om persoonlike en vertroulike inligting uit hul slagoffers te vis, wat hulle toelaat om ongemagtigde transaksies te doen.

Hoewel die aantal voorvalle toeneem, neem die bedrag wat per voorval gesteel word wel af. Verlede jaar is 10 799 voorvalle van bedrog wat met bank-apps verband hou, aangemeld wat tot ʼn verlies van R106 miljoen gelei het. Die gemiddelde verlies was net-net minder as R10 000 per voorval, veel minder as voorheen.

Algehele bedrog met banke se apps het uiteindelik net met 1% toegeneem, ondanks banke se enorme veldtogte om die aantal transaksies wat op apps gedoen word, te bevorder.

Wat aanlyn bankdienste betref, was daar verlede jaar minder voorvalle as in 2018, maar die bedrag wat per voorval gebuit is, is nou veel hoër: dit het verlede jaar ʼn gemiddeld van R48 589 per voorval beloop – ʼn toename van byna 50% sedert die jaar tevore.

Die algehele verlies wat weens bedrog met aanlyn bankdienste gely is, het in 2019 altesaam R147 miljoen beloop.

Kaartbedrog

Debiet- en kredietkaartbedrog (transaksies in Suid-Afrika en internasionaal) vir 2019 het meer as R1 miljard beloop, ʼn toename van 20,5%.

Nischal Mewalall, uitvoerende hoof van Sabric, sê dié toename moet egter beskou word teen die agtergrond van ʼn toename in die aantal kredietkaarttransaksies wat banke verwerk, asook die toename in die aantal mense wat kaarte het of instellings wat dit uitreik.

Die grootste bydrae tot kaartverliese is weens transaksies wanneer ʼn kaart steeds in die kliënt se besit is, maar elders deur ʼn bedrieër gebruik word om ʼn transaksie aan te gaan. Meer as 66% van alle bedrog op kredietkaarte wat in Suid-Afrika uitgereik is, is met die hulp van handelaars se kaartmasjiene in die buiteland gepleeg.

Die lande waar dié soort bedrog die meeste gepleeg word, is die VSA, Kanada, Ierland, Engeland, Nederland, Luxemburg, Spanje, Frankryk, Indië en Australië.

Die algehele verlies wat weens kaartbedrog binne Suid-Afrika se grense gely is, beloop R428 miljoen, ʼn afname van 2% in vergelyking met 2018 se syfer.

Provinsies wat die meeste deurloop, is Gauteng, gevolg deur die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Goeie nuus is dat kaarte wat gekloon word volgens Sabric beduidend verminder het. Dit het met 44,8% vir kredietkaarte en 34,8% vir debietkaarte afgeneem.

Misdaad en Covid-19

Mewalall sê die Covid-19-pandemie het ook reeds wêreldwyd ʼn uitwerking op misdaad gehad.

“Sabric het reeds ʼn toename in nuwe bedrogskemas met persoonlike beskermingstoerusting, vals inentings en ander sogenaamde uitvissing-bedrogskemas ondervind.

“Wysigings aan die manier waarop toelae uitbetaal word, die verhoogde afwykings in verkrygingsprosesse en die beskikbaarheid van noodfinansiering aan ondernemings en werkgewers gaan Suid-Afrika in 2020 en daarna selfs meer kwesbaar maak vir korrupsie, gewapende rooftogte, toepassings- en tenderbedrog.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Pierreli

Wat verwag hulle? Daar is soveel sonder werk, en dan wil hulle nog misdadigers vrylaat? Daar is net nie enige common sense oor nie. Dis makliker om te steel as om te werk.