Bankrowers kry 914 jaar tronkstraf

hof-hamer

Argieffoto

’n Groep van agt rowers is Vrydag altesaam tot 914 jaar tronkstraf gevonnis vir ’n string bankrooftogte en rampokkery in 2014 en 2015 in Gauteng en Mpumalanga.

Volgens Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, is dié groep in 2014 vasgetrek ná ’n ondersoek deur die Valke.

“Die agt verdagtes was deel van ’n gevaarlike vuurwapen-sindikaat wat gedurende 2013 en 2014 Mpumalanga en Gauteng geterroriseer het. Hulle het 11 banke beroof,” het Mulaudzi gesê.

Elf verdagtes is aanvanklik in 2014 in hegtenis geneem waarna die aanklagte teen drie van die verdagtes teruggetrek is weens ’n tekort aan bewyse.

Die oorblywende agt verdagtes, Sikhumbuzo Sibanda (45), Strike Ndebele (48), Themba Ndlovu (45), Xolani Nxumalo (40), Bafana Ntuli (45), Nkosana Nkomo (28), Vusi Lucky Dube (42) en Mduduzi Makhubu (38), is skuldig bevind op twee aanklagte van rampokkery ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, roof met verswarende omstandighede, poging tot moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapens asook kwaadwillige skade aan eiendom.

“Die eerste ses is Zimbabwiërs, terwyl twee Suid-Afrikaners is wat dié georganiseerde kriminele groep ’n multinasionale een maak.”

Genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het die vonnis verwelkom. “Die lewenslange vonnis vir ’n patroon van rampokkery word verwelkom omdat dit ’n duidelike boodskap stuur. Die misdadigers, soos deur die hof verklaar, sal nie weer ’n bank beroof nie. Dít is ook ’n manier om misdaad te voorkom. Die POCA-wetgewing maak voorsiening vir sulke swaar vonnisse en sal streng toegepas word,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

GM ·

Hoekom kan moordenaars en verkragters nie ook so swaar gestraf word nie?

Skroef ·

Ek wonder of die regters met mekaar kompeteer om die langste tronkstraf op te lê? Over gesetsynde, goed so.

JG ·

Kom ons wees eerlik : wat is die kanse dat die spul wel daardie volle 914 jaar agter tralies gaan sit ? In Suid Afrika ? As ons weer van hulle hoor, is daar weer so paar Bank name agter hulle name…of wie wil my verkeerd bewys ?

Theo ·

Ja die belastingbetaler sal maar moet begroot vir hierdie uitgawe.

Pvt ·

En so kry hulle lewe verniet.
Dak en bed en kos en kan studeer.
Baie beter as Zim sal ek sê.

leser ·

met die onwettige toestroming van veral zimbabwe-ers is die 6 wat nou tronk toe gaan n sandkorreltjie van al die grond wat daar is, van wat nog gaan gebeur
zimbabwe-ers het hulle ga# gesien en nou sal hulle ook aan hul buurland dieselfde doen

Michelle ·

Baie goeie werk van die Valke, ondersoek beamptes die hof en almal betrokke om die klomp agter tralies te kry vir hul dade net jammer die belasting betaler gaan nou moet betaal om hulle te onderhou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.