‘Bankrowers’ wat glo wag doodskiet in hof

Die ondersoek het beamptes gelei na ʼn huis waar R200-note, wat met ink bevlek was nadat die kitsbank oopgeblaas is, aangetref is. Daar is ook beslag gelê op dié note. Foto: Verskaf.

Drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle betrokke was by ʼn gewapende rooftog by die Standard Bank in Bosbokrand in Mpumalanga sal Donderdag weer in die hof verskyn.

Skhumbuzo Welcome Gama (38), Nkosinathi Adelaide Paul Mtshali (37) en Themba Enerst Masimola (20) het Vrydag die eerste keer in onderskeidelik die Witrivier- en Bosbokrand-landdroshof verskyn, waar al drie se aansoeke om borgtog geweier is.

Hulle staan tereg op aanklagte van moord, gewapende roof met verswarende omstandighede en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Maroela Media het vroeër berig die drie is verlede week in Hazyview in hegtenis geneem nadat hulle na bewering Woensdag in die vroeë oggendure die Standard Bank by die Bushbuckridge-winkelsentrum beroof het. ʼn Veiligheidswag is tydens dié rooftog doodgeskiet.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het vroeër gesê die polisie is in kennis gestel van ʼn bankroof.

Die rowers het volgens Sekgotodi glo deur die dak toegang tot die bank verkry en twee kitsbanke met ploftoestelle oopgeblaas. ʼn Onbevestigde bedrag kontant is tydens die rooftog gesteel.

“Polisiebeamptes en veiligheidswagte het onmiddellik na die toneel beweeg. Die verdagtes het op die polisie losgebrand en die polisie het teruggeskiet. Een veiligheidswag is in die kruisvuur deur ʼn verdagte doodgeskiet,” het Sekgotodi gesê.

Die taktiesereaksie-eenheid en die polisie in Hazyview het inligting opgevolg en drie verdagtes is in Hazyview vasgetrek. “Daar is ʼn groot hoeveelheid kontant in hul besit gevind tydens die inhegtenisneming.”

Inligting omtrent die verdagtes het beamptes gelei na Shatale, noord van Bosbokrand, waar daar beslag gelê is op ʼn Ford Ranger wat vroeër in Calcutta in Mpumalanga gekaap is en ʼn Toyota-enkelkajuitbakkie wat tydens die uitvoer van die misdaad gebruik is.

Die ondersoek het beamptes gelei na ʼn huis waar R200-note, wat met ink bevlek was nadat die kitsbank oopgeblaas is, aangetref is. Daar is ook beslag gelê op dié note.

Daar is ook ʼn soektog van stapel gestuur na die vermeende rowers se makkers.

Mense met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die oorblywende verdagtes kan brig. Ngwenya by 082 565 6417 of kol. Mokoena by 082 300 8315 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amelia ·

Ek hoop dai rowers sit lank. Ek wens n dubbele doodstaf moet gegee word vir mense wat sekuriteitsmense doodskiet. Dit is een van die beroepe wat so gevaarlik is en ook nie ordentlik vergoed word nie. Hul kry n verskriklike swak salaris en geen gevaartoelaes nie. Belaglik!

HA ·

Die opskrif van die artikel het my vir ‘n oomblik laat glo die wag is in die hof doodgeskiet.

RM ·

Mandela se gesig op elke noot…laat ‘n mens nogal dink aan al sy beloftes wat plat geval het, net soos die waarde van ons geld oor die laaste 24 jaar.

Ek ondersteun Selfbeskikking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.