Bankstate van CR17-veldtog bly geheim

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die hooggeregshof in Pretoria het ʼn aansoek van die EFF, dat die bankstate van pres. Cyril Ramaphosa se CR17-veldtog – die veldtog om hom tot president van die ANC te laat verkies – bekend gemaak word, met koste van die hand gewys.

Die EFF het in sy aansoek aangevoer dit is in die openbare belang dat die bankstate bekend gemaak moet word en wou wys hoe die geld tussen private individue en die regerende party vloei.

Die EFF se aansoek hou verband met ʼn ondersoek wat adv. Busiviwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), na die CR17-veldtog se finansies gedoen het. Mkhwebane het in haar verslag daaroor onder meer bevind Ramaphosa het sy etiese plig versuim om die skenkings wat hy daarvoor ontvang het, bekend te maak. Sy het ook bevind hy het die parlement mislei.

Die hooggeregshof het Mkhwebane se verslag ter syde gestel en sy het haar na die Konstitusionele Hof gewend om die besluit te laat omkeer. Hier het die OB weer ʼn bloutjie geloop nadat die land se hoogste hof vroeër vandeesmaand in ʼn meerderheidsuitspraak Mkhwebane se aansoek van die hand gewys en bevind het haar verslag was feitlik en wetlik verkeerd.

Die hooggereghof het Dinsdag net sy uitspraak oor die EFF se aansoek gelewer en geen redes vir die besluit gegee nie.

Die EFF het te velde getrek teen die uitspraak.

Vuyani Pambo, woordvoerder van die EFF, het aan Newzroom Afrika gesê die hof het ʼn posisie ingeneem “ten gunste van wat lyk of dit ʼn misdaadsindikaat is wat vir hom ʼn president gekoop het”.

Die EFF sê hy betreur ook die kostebevel wat teen hom gemaak is, omdat dit oënskynlik die EFF probeer verhoed om die howe te nader.

“Hoekom sou ʼn hof geïrriteerd wees deur ʼn politieke party wat in openbare belang wil weet wie die president van hierdie land gefinansier het,” sê Pambo.

Hy sê indien dit bekend is wie Ramaphosa se veldtog gefinansier het, ʼn verband getrek kan word tussen dié finansiers en diegene wat vandag tendergeleenthede kry, of by die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting of die entstofprogram baat.

“Dit is fundamenteel in die stryd teen korrupsie en in ooreenstemming met die stryd teen staatskaping.”

Pambo sê die kommissie na staatskaping wou al telkemale by mense weet waar geld vandaan gekom het.

“Wanneer dit kom by die president, die liefling van wit mense, die liefling van witmonopoliekapitaal, neem die howe die sterkste posisie moontlik in,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jaco ·

Al verskil die EFF nou ook van die ANC oor die kleur van die toiletpapier in die parlement se badkamers, VERSKIL dié 2 partye nog steeds en dís ‘n goeie ding, want dan word onteiening sonder vergoeding net verder uitgestel.

Werner ·

Hoe bly is ou Cyril nou hy het al gesien hoe dra hy vir Zuma koffie aan

Joe Olivier ·

Hierdie was eintlike ‘n baie sinvolle aansoek deur die eff. Ek sal ook graag wil weet wie is rama se poppemeesters.

ES ·

Plaas dat Julius sy uitstaande belasting van R 15 miljoen betaal instede daarvan om almal se aandag te probeer vestig op ander plekke.

Lee blikke maak die meeste geraas.

JohanR ·

Nie ‘n groot liefhebber van Cyril of Malema nie, maar wat het Cyril om weg te steek?

Sênet ·

As die President dit moet doen moet almal wat die mense van S.A. verteenwoordig dit doen.

Michael ·

Dit sal nooit bekend gemaak word nie, want dan sien die hele SA wie sit agter CR en dis beslis nie die ANC nie. Die EFF kan tereg ontsteld wees. CR word deur die howe beskerm en diegene wat agter CR sit het ook die howe in die sak

Chris dupreez ·

Malema gaan alles probeer om wraak te neem op Ramaphosa oor die VBS stropery wat ondersoek word. Malema se eie woorde ,, this is war Cyril ,,.

Anel ·

Wat rook malema! Cr is nie my liefling nie. Die is naamskending. Pasop!!!!

marius ·

Die liefde van witmense. Praat jy van die ses wat saam met hom om die Judas tafel gesit het en hul gesante ?

Nico ·

Daar is natuurlik ‘n groot skelmstreek met CR se bankstate, dit is hoekom dit ‘n geheim gehou moet word, wat wil hy wegsteek, maak dit openbaar sodat daar gesien word wat aangaan met sy geldsake.

Jack ·

As dit geheim bly dan is daar iets wat weggesteek moet word en dit bou geen onderlinge vertroue nie. Jammer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.