Die Baptiste Unie van Suider-Afrika het homself Vrydag gedistansieer van die omstrede Amerikaanse pastoor, Steven Anderson, en sy Faithful Word Baptist Church en dit ʼn “onafhanklike, fundamentalistiese kerk” genoem.
Anderson, algemeen bekend vir sy anti-gay sentimente op sosiale media, is geskeduleer om op 18 September in Johannesburg te preek wanneer hy die land besoek “om siele te wen”.
Mark Penrith, voorsitter van die Christian Citizenship Network van die Baptiste Unie van Suider-Afrika, het gesê Anderson se kerk is nie ʼn lidkerk van die Unie nie en die Unie is ook op geen manier betrokke daarby nie.
Penrith het in ʼn verklaring gesê nie Anderson of die Faithful Word Baptist Church is op uitnodiging in Suid-Afrika van enige van die lidkerke van die Unie nie.
“Faithful Word Baptist Church is ʼn fundamentalitiese baptiste kerk in Tempe, Arizona in die VSA onder pastoorskap van Steven L Anderson. Hulle is ʼn onafhanklike kerk, en nie geaffilieer met enige denominasie nie. Hulle het opspraak verwek vir betogings en haatspraak teen homoseksuele persone,” het Penrith bygevoeg.
“Die Baptiste Unie van Suider-Afrika bestaan uit honderde kerke wat oor Suider-Afrika heen versprei is. Dit is ʼn vrywillige organisasie van ʼn aantal verenigings wat die Christelike geloof en Baptiste beginsels aanhang.”
Anderson het onder skoot gekom toe hy ná die slagting op 12 Junie vanjaar by Pulse-nagklub in Orlando, Florida, waartydens 49 persone omgekom het, na bewering aan sy lidmate gesê het “daar is nou 50 minder pedofiele in die wêreld”. Die nagklub is veral deur gay persone ondersteun.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het die departement van binnelandse sake versoek om Anderson te verbied om die land te betree.
Die departement het Vrydag gesê ʼn amptelike aankondiging sal gemaak word nadat hy met lesbiese, gay, biseksuele, transgender en interseks (LGBTI)-organisasies en ander belanghebbendes vergader het.