Bara-hospitaal: ‘Broodtekort weens betalingsprobleem’

Die ingang na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto. (Foto: Thabiso Makelo/Panoramio)

Die Gautengse gesondheidsdepartement het ontken dat pasiënte by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal nie kos het om te eet nie.

Die DA het aangevoer dat dokters en verpleegpersoneel by die hospitaal glo uit hul eie sak moes opdok om te verseker pasiënte kry iets te ete. Dit nadat dié hospitaal glo die afgelope drie weke sonder voldoende voedselvoorraad sit.

“Die departement kan bevestig dat ons fasiliteite nie sonder kos sit nie, in teenstelling met onakkurate berigte oor hierdie aangeleentheid,” het die departement in ’n verklaring gesê. “Dit kan wel bevestig word dat daar ’n tydelike probleem met die verskaffing van brood by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal en ander fasiliteite was weens ’n betalingsvertraging. Dit is intussen opgelos en dienste is hervat.”

Die portefeuljekomitee oor gesondheid het sy kommer uitgespreek oor die berigte van voedseltekorte by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal.

Dr. Kenneth Jacobs, voorsitter van die komitee, het gesê die situasie by die hospitaal is kommerwekkend, veral die welsyn en welstand van pasiënte. “Terwyl ons gesondheidsorgwerkers prys dat hulle die inisiatief geneem het om te verseker dat pasiënte versorg word, is dit nie korrek dat dokters en verpleegsters hul eie geld gebruik om kos vir pasiënte te koop nie.”

Jacobs het gesê indien berigte in die verband waar is, is dit ’n saak waaraan die regering dringend moet aandag gee. “As deel van toesigrol, sal die komitee die saak ondersoek om die omstandighede vas te stel wat tot hierdie situasie bydra.”

Tydelike poste

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Verskaf)

Rakende berigte dat die hospitaal ook 400 poste kwyt gaan wees omdat tydelike Covid-19-kontrakposte nie hernieu gaan word nie, het die departement bevestig dat hy nie alle tydelike Covid-19-personeel kan behou nie.

“Die geldelike toekenning van die provinsiale tesourie om vir vergoeding van tydelike werknemers te betaal, is onvoldoende om alle werkers te behou wanneer die Covid-19-kontrakte aan die einde van Maart vanjaar tot ’n einde kom.”

Volgens die departement het hy ’n Covid-19-begrotingsbedrag van R2,2 miljard ontvang vir vergoeding van werknemers om te reageer op die Covid-19-pandemie gedurende die 2021‑’22‑ finansiële jaar. “Dié bedrag is sedertdien tot R1,1 miljard vir die 2022‑’23-boekjaar verminder. Gevolglik sal die departement nie alle tydelike kontrakte kan hernieu nie.”

Betaling van diensverskaffers en kontantvloei

Volgens die Gautengse gesondheidsdepartement is hy nie tans in ’n finansiële krisis nie. “Tot op datum het die departement teen einde Februarie vanjaar reeds sowat 85% van sy R59 miljard-begroting (ná begrotingsaanpassings) vir die 2021‑’22-boekjaar bestee.”

Die departement sê hy hanteer tans historiese agterstande wat verband hou met transaksies wat so ver terugdateer as 2013 wat nou tot sowat R5,8 miljard opgehoop het en na die 2021‑’22-boekjaar oorgedra is. “Dit beïnvloed die kontantvloei van die departement, en ons vermoë om verskaffers betyds te betaal.

“Daar is ’n deurlopende proses om verskaffersfakture te rekonsilieer en te betaal om moontlike duplisering van fakture en verifikasie van rekeninge te voorkom. Daar is ook gereelde vergaderings en besprekings oor finansiële prestasie met fasiliteite om die bestuur van finansiële hulpbronne van die departement te verbeter.”

Verwydering van mediese afval

Die departement het bevestig dat daar ’n onderbreking was in mediese afvaldienste by sekere fasiliteite as gevolg van histories‑verwante betalingskwessies wat na die 2013‑’14‑ finansiële jaar terugdateer.

“Die diensverskaffer is betrek en dienste by die geraakte fasiliteite is hervat. Die departement kan bevestig dat Buhle Waste en Compass Medical Waste maandeliks sedert die begin van die huidige finansiële jaar sonder versuim betaal is.”

Tot dusver beloop die uitstaande balans vir Buhle Waste R6,6 miljoen terwyl Compass Waste R1,6 miljoen geskuld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.